8 MAART
November 1, 2016
10 MAART
November 1, 2016

Gebeure

1816 – Slagtersnek-rebellie

Wat rondom Slagtersnek gebeur het, is as historiese feit in die geskiedenis van die Afrikanervolk as sodanig nie belangrik nie. Belangriker miskien is die agtergrond waarteen hierdie rebellie plaasgevind het en die invloed wat dit gehad het om die gevoel van nasionalisme en eenheid by die Afrikaner aan te wakker en te stimuleer. Die hooffigure in die rebellie van 1815 was

Slagtersnek-hangbalk

Freek Bezuidenhout, sy broer Hans en die vyf tereggesteldes. Cornelis Frederik Bezuidenhout, wat as grensboer aan die Baviaansrivier gewoon het, is deur landdros A Stockenström gedagvaar om op 5 Oktober 1815 voor die Rondgaande Hof op Graaff-Reinet te verskyn op ’n aanklag wat teen hom ingebring is deur die Hottentot Booi. Hy daag nie by die hof op nie en word in sy afwesigheid tot een maand tronkstraf gevonnis oor minagting van die hof. Daarna is ’n opdrag vir sy inhegtenisneming gegee. Luit. F Rousseau, vergesel van die onderbalju, J Londt, berede polisieman Gerrit Lemke, vaandrig William McKay en twaalf lede van die Kaapsche Regiment (’n Hottentot-regiment wat in die volksmond bekend gestaan het as Pandoere) word gestuur om Bezuidenhout te arresteer. Met hul aankoms op die plaas vlug Bezuidenhout, sy basterseun Hans en ene Jacob Erasmus na ’n nabygeleë grot, en uiteindelik is Bezuidenhout dodelik getref deur ’n koeël van sers. Joseph, ’n Hottentotsoldaat. Op sy begrafnis het sy broer, Johannes Jurgen (Hans), wraak gesweer teen die owerhede wat verantwoordelik was vir sy broer se dood. Hy en Hendrik Frederik Prinsloo het begin om ’n opstand aan die Oosgrens te organiseer. Die rebelle is uiteindelik tot oorgawe gedwing. Hans Bezuidenhout is dodelik gewond, en die res is op 15 Desember 1815 in die landdroshof op Uitenhage verhoor; een is begenadig deur lord Charles Somerset; die ander, naamlik Cornelis Faber (43 jaar), ’n swaer van Hans Bezuidenhout, Stephanus Cornelis Bothma (43 jaar), en sy broer Abraham Carel Bothma (29 jaar), Hendrik Frederik Prinsloo (32 jaar) en Theunis Christiaan de Klerk (30 jaar), ’n swaer van Prinsloo, is die doodstraf opgelê. Op 9 Maart 1816 is die vyf op Van Aardtspos, 20 km suid van Slagtersnek, in die openbaar opgehang. Ds. TJ Herold, leraar te George, en dr. G Glaeser, geneesheer van die Kaapsche Regiment, was onder die aanwesiges om hul laaste dienste te bewys. Stephanus Bothma het die omstanders toegespreek en hulle vir oulaas gemaan om die owerhede gehoorsaam te wees. Toe die toue van vier van die veroordeeldes breek, het hulle, half verwurg, landdros Cuyler gesmeek om genade. Cuyler se antwoord was dat hy nie die mag daartoe het nie, en hulle is een vir een opgehang. Bittere haat teen die owerhede oor die strenge vonnisse en onmenslikheid van die teregstelling het onder die bevolking van die Oosgrens posgevat. Die geelhoutbalk waaraan die vyf rebelle opgehang is, is in die kelder van die Staatsargief in Pretoria.

1897 – Alliansieverdrag

Pres. Paul Kruger dring aan op nader samewerking van die Suid-Afrikaanse Republiek en die Oranje-Vrystaat. ’n Alliansieverdrag volg.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Olievenberg/Driekop, OVS.

1916 – Tafelberg Uitgewers gestig

Die Afrikanervolk had in die tydvak na die Anglo-Boereoorlog die behoefte aan geestelike en politieke uiting. Die Nasionale Pers se publikasies het ter gedeeltelike vervulling hiervan, in en ná 1915 tot stand gekom. In die jare daarna het sy boeke en publikasies grootliks bygedra tot die ontwikkeling van Afrikaans as gevestigde geskrewe taal. Die geskiedenis van Tafelberg-Uitgewers, as direkte afstammeling van die Nasionale Pers, wat sedert 9 Maart 1916 met boekhandelbedrywighede in Bloemfontein begin het, is in baie opsigte die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde. Dit is baie duidelik te meet aan die talle literêre pryse wat in die loop van die jare aan hom toegeken is. So bv. Is die Hertzogprys, uit 43 toekennings, altesaam 24 keer deur skrywers wat deur Tafelberg-Uitgewers gepubliseer is, verower.

1922 – Krygswet word aangekondig

Generaal Jan Smuts kondig krygswet af in Transvaal nadat hy die aktiewe burgermag gemobiliseer het om die geskil van stakende mynwerkers te verlig.

 

Geboortes

1898 – Barend Hendrik (BH) Janse van Rensburg († 4 April 1978)

Barend Hendrik Janse van Rensburg is op 9 Maart 1898 op Cradock gebore. Hy is kort na sy aanstelling as deeltydse sekretaris en penningmeester van die Nasionale Vrouemonumentkommissie in 1929 deur die kommissie gevra om ’n museum vir oudhede uit die Anglo-Boereoorlog by die Vrouemonument tot stand te bring. Hy het die uitdaging met groot geesdrif aanvaar, en op 30 September 1931 is die Oorlogsmuseum amptelik deur genl. JBM Hertzog geopen. In 1947 het hy sy redaksiepos by Die Volksblad neergelê en hom heeltyds aan sy taak by die museum gewy. Met sy afskeid in Mei 1969, het oud-president CR Swart gesê: “Deur baie moeilike omstandighede heen het Ben van Rensburg vir sy volk ’n grootse monument gebou waarvoor sy volk vir hom sê: Baie dankie!”

1921 − Willem Cruywagen, kabinetsminister en administrateur van Transvaal († 10 Julie 2013)

1927 – Michal Grobbelaar, akteur en kunsadministrateur († 2002)

 

Sterftes

1999 – Dr. Gideon Roos, akteur, omroeper, direkteur-generaal van die SAUK en stigter, voorsitter en besturende direkteur van Samro en Dalro (* 28 Oktober 1909)

Gideon Daniël Roos was toneelmens en radioman by uitnemendheid wat op Worcester gebore is, waar sy vader, die bekende Paul Johannes Roos van rugbyfaam, hoof van die hoërskool vir seuns was. Hy het sy skoolopleiding aan die Paul Roos-gimnasium ontvang en sy naskoolse opleiding aan die Universiteit van Stellenbosch en aan die Universiteit van Oxford voltooi. Na sy terugkeer na Suid-Afrika in 1937 word hy as die eerste tweetalige omroeper by die pas gestigte SAUK in Johannesburg aangestel. In Oktober van daardie jaar word hy na Kaapstad verplaas om die eerste voltydse Afrikaanse diens daar te begin. Hy vergesel in 1938 die Simboliese Ossewatrek van die Kaap tot in Transvaal om die gereelde uitsendings langs die roete waar te neem. In 1942 word hy sekretaris van die SAUK en in 1948 direkteur-generaal, ’n pos wat hy tot 1961 beklee, waarna hy uit die diens van die SAUK tree om die Suider-Afrikaanse Musiekregte-Organisasie (SAMRO) te stig, waarvan hy voorsitter en besturende direkteur word. Later stig hy ook die Dramatiese, Artistieke en Letterkundige Regte-Organisasie (DALRO). In die Afrikaanse Kunsteater veral het Gideon Roos hom onderskei, in die begin van die dertigerjare in Kaapstad en in die veertigerjare in Johannesburg, as toneelspeler en vertaler. Hy en sy eggenote het ook in die eerste Afrikaanse klankrolprente wat in die veertigerjare gemaak is, opgetree.

2013 – Doc Immelman, avontuurverhaalskrywer (* 23 April 1928)

 

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/