8 JANUARIE
January 8, 2016
10 JANUARIE
January 10, 2016

Gebeure

1806 – Britse magte neem Kaapstad in na die Slag van Blaauwberg (Blouberg) 

Die Britse magte het die buitewyke van Kaapstad op 9 Januarie bereik. Om te verhoed dat Kaapstad en sy burgerlike bevolking aangeval word het die kommandant van Kaapstad, luitenant-kolonel Hieronymus Casimir von Prophalow, ’n wit vlag uitgestuur. Hy het die buitefortifikasies aan Baird oorhandig, en later in die dag is die terme van oorgawe onderhandel.

1904 – Die merkwaardige verhaal van ’n boodskap in ’n bottel

Tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) is meer as 9000 Boerekrygsgevangenes in sowat sewentien kampe in Indië aangehou. Nadat die oorlog met die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 beëindig is, moes die krygsgevangenes eers die eed van getrouheid aan die Britse koning aflê voordat hulle na Suid-Afrika gerepatrieer sou word. Ván die Boerekrygsgevangenes het geweier om dié eed af te lê, tensy genls. Louis Botha en CR de Wet hulle persoonlik in Indië besoek en versoek om dit te doen. Die besoek het nooit plaasgevind nie. Genl. De la Rey is in Desember 1903 wel Indië toe en het die laaste bittereinder-krygsgevangenes wel oorreed om die eed te onderteken.

Op 9 Januarie 1904 het die laaste 495 Boerekrygsgevangenes aan boord die Britse skip, die SS Clive, die hawe van Bombaai op pad na Suid-Afrika verlaat. Fanie Hugo, een van die krygsgevangenes, het ter herdenking van dié gebeurtenis die volgende boodskap in ’n bottel geplaas en dit in die see gegooi:

“Allen de deze moogt vinden mag het houden als ene gedachtenis van de laatste verzending Boeren krygsgevangenen die naar Zuid Afrika vertrokken; gevangenen tydens den Boeren en Engelschen oorlog in het jaar 1899-1902. Zy zeilen per SS Clive op den 9-den Januari Negentien en Vier van af Bombay Zynde uit Fort Agmednagar India afgezonden. S.F. Hugo, J.A. van Zyl, D.P. Bosman, en allen tesam 495.”

Op 6 Junie 1904 is die bottel met die boodskap deur ’n sekere me. Clarice Andree Jansz langs die kus van Ceylon (Sri Lanka) opgetel en op 21 Februarie 1906 is dit in die Ceylon Independent gepubliseer. ’n Sekere Brits van die plaas, Bon Accord, in Franschoek het die berig uit Ceylon ontvang en het dit aan Fanie Hugo in Dal Josafat gestuur.

1922 – ’n Staking deur sowat 22 000 werkers in goudmyne aan die Witwatersrand begin

In Januarie 1922 het ongeveer 22 000 wit mynwerkers hul werktuie neergesit en gestaak in wat bekend gestaan ​​het as die Rand-opstand of die Rooi Opstand. Uiteindelik word krygswet uitgeroep en die Smuts-regering het die weermag ingestuur, wat die algemene staking effektief vernietig het. Aan die einde van die staking is 153 mynwerkers dood en 500 gewond; 5000 stakers is gearresteer van wie 4 later weens hoogverraad opgehang is. Die staking van die staking het ook tot gevolg gehad dat die wit vakbonde se bedingingsmag virtuele vernietiging gehad het. Honderde wit mynwerkers is daarna ontslaan en diegene wat nie ontslaan is nie, moes tevrede wees met die laer lone en die afskaling van sekere poste. Die staking het plaasgevind tydens ’n tydperk van ekonomiese depressie na die Eerste Wêreldoorlog, toe mynmaatskappye te kampe gehad het met stygende kostes en ’n daling in die prys van goud. Mining Capital het besef dat dit noodsaaklik is om koste te verlaag en dit gedoen deur te fokus op wat hy as buitensporig hoogs betaalde wit arbeid beskou. Die Kamer van Mynwese het daarom aangekondig dat hulle arbeidskoste sou verlaag deur die kleurstaaf te verwyder en die verhouding van swart werkers tot wit te verhoog, want hoewel die lone vir blankes sedert die Eerste Wêreldoorlog met 60% gestyg het, het die lone vir swartes slegs 9% gestyg.

1940 – Adv. Strijdom en die republikeinse ideaal

Die jaar 1940 is gekenmerk deur vergeefse pogings wat aangewend is om die Afrikanerdom polities te verenig. Te midde van hierdie onsekere krisistye het adv. JG Strijdom, leier van die Nasionale Party in Transvaal, dit sterk beklemtoon dat Afrikanereenheid alleen op ’n duidelike en ondubbelsinnige republikeinse grondslag verkry kan word. Hierdie wekroep van Strijdom is op 9 Januarie 1940 deur die spreekbuise van die Nasionale Party uitgedra. Adv. Strijdom het naamlik op 8 Januarie op Morgenzon verklaar dat die republikeinse doelstelling van die Afrikaner nie ter wille van eenheid verwater mag word nie omdat dit dan tot nog groter verdeeldheid aanleiding sal gee. Die republikeinse strewe moes dus dien as dié saambindende faktor.

 

Geboortes

1871 – Eugène Nielen Marais, skrywer en digter († 29 Maart 1936)

Eugène Marais beklee ’n unieke plek in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis.  Hy is op hierdie dag in 1871 gebore, en ons onthou hom veral as koerantredakteur waar hy reeds van 1890 af belangrike voorbereidingswerk vir die Tweede Taalbeweging doen. Ná die dood van sy vrou vertoef hy ’n lang ruk in die buiteland en praktiseer dan in Pretoria as advokaat. In hierdie tyd skryf hy ’n paar gedigte waaronder “Winternag”, wat hom groot beroemdheid besorg het: baie jare is hy as voorloper van ons groot digkuns beskou. Van 1907 tot 1917 is hy vrederegter in die Waterbergdistrik waar hy ’n studie van miere, bobbejane en dies meer in hulle natuurlike omgewing maak – ’n studie wat later in internasionaal erkende geskrifte neerslag vind. Van 1922 tot 1927 praktiseer hy as prokureur op Heidelberg waar hy onder aanmoediging van AG Visser van sy beste gedigte skryf. Die laaste jare tot met sy dood woon hy by Gustav Preller. Marais sal altyd onthou word om die plek wat hy in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis beklee, om gedigte soos “Winternag”, “Waar Tebes in die stil woestyn” en “Die dans van die reën”. Nog werke soos Die Heks en veral Dwaalstories was ook van sy bekendes. Hy is op 29 Maart 1936 oorlede.

1876 – Dr. Nicolaas Marais Hoogenhout, bekende onderwysman en stigter van die Afrikaanse Taalgenootskap († 9 Februarie 1932)

Nicolaas Marais Hoogenhout, bekende onderwysman, is op 9 Januarie 1876 op Wellington gebore as die oudste seun van die bekende CP Hoogenhout. Sy opleiding ontvang hy op Stellenbosch, waar die eer hom onder meer in 1899 te beurt val om die eerste Afrikaner te word wat die MA-graad in moderne tale verwerf. Daarna studeer hy aan die Universiteit van Straatsburg, waar hy in 1902 tot doktor in die Germaanse Filologie promoveer. Soos sy vader, was hy ook ’n kampvegter vir die Afrikaanse taal en kultuur. Onder sy voorsitterskap het ’n dertigtal belangstellendes byvoorbeeld op 13 Desember 1905 in Pretoria besluit om die Afrikaanse Taalgenootskap te stig. Hy het ook ’n merkwaardige stempel op die onderwys in Transvaal afgedruk. Hier begin sy loopbaan in 1904 as hoof van die Eendracht-skool in Pretoria, in een van die grootste CNO-skole van die tyd. Daarna word hy vise-hoof en sedert 1921 hoof van die Pretoriase Normaalkollege. Van 1922 tot 1928 is hy professor in die opvoedkunde van die Transvaalse Universiteitskollege (Later Universiteit van Pretoria), en van 1925 tot 1927 ook rektor van die inrigting. In 1928 word hy aangestel as Direkteur van Onderwys in Transvaal, ’n pos wat hy tot sy dood beklee. Hy lewer ’n waardevolle bydrae in die verenigingslewe van die Transvaalse onderwys- en kultuurlewe, terwyl sy besondere belangstelling in die taal weerspieël word in verskillende publikasies waarin hy ’n aandeel gehad het. 

1888 – Mattheus Theodorus Rehuel Smit, predikant en skrywer († 30 Mei 1972)

1919 – Prof. P du P Grobler, letterkundige, radioman en toneelspeler († 1968)

Philippus du Plessis Grobler is in Middelburg, Kaapprovinsie, gebore. Hy word die eerste professor van Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Natal in Durban. Benewens uitnemende werk as letterkundige, het hy bekendheid verwerf as radioman en toneelspeler, en daardeur ’n besondere bydrae tot die uitbouing van die Afrikaanse toneellewe in Natal en die radioteater in die algemeen gelewer. 

1932 – Ryne de Beer, musikant (Die Fluitende Predikantsvrou) († 22 Junie 2008).

 

Sterftes

1925 – Willem Johannes (Willem) Conradie, predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die skrywer van onder meer die Afrikaanse Kinderbybel (* 19 Mei 1857)

Willem Johannes Conradie was predikant van die NG Kerk wat met besondere skryftalent die eerste Afrikaanse Kinderbybel in 1912 uitgegee het onder die titel Bybelgeskiedenis vir ons volk. Die boek het groot byval gevind en is in baie skole gebruik. Sy Sketse uit die Boerelewe, wat in 1915 en 1916 in De Burger verskyn het, is van groot volkskundige belang, want dit skets die lewe op die boereplase van blank en gekleurd en van gebruike en gewoontes wat uitgesterf het. In 1890 het hy in De Volksbode oor Afrikaans geskryf: “Hij zal groot worden en de plaats van vreemde vrienden innemen in onze harten, in onze Huizen, op onze kansels. Zijn naam zal sijn: De Afrikaanse taal”. Ds. Conradie is op 19 Mei 1857 op Murraysburg gebore en is op Stellenbosch oorlede.

1931 – Johannes Gerhardus (Jan) Celliers, Boeregeneraal (* 21 Julie 1861)

Johannes (Jan) Gerhardus Celliers is op 21 Julie 1861 in Fraserburg gebore, maar vestig hom reeds as jongeling in Transvaal, waar hy in 1880/81 saam met die Marico-burgers aan die Transvaalse Vryheidsoorlog deelneem. Met die uitbreek van die Engelse Oorlog was hy aan die Krugersdorpse polisie verbonde, en hy neem aktief aan die oorlog deel. Die wyse waarop hierdie Boeregeneraal die Britse kanonniers buite aksie gestel het, het aan hom wye bekendheid besorg. Hy staan ook bekend as die vader van die aanvalsmetode om in volle jaaggalop te skiet. 

1968 – Prof. James Leonard Brierley Smith, igtioloog wat die Selakant geïdentifiseer het (* 26 September 1897)

James Leonard Brierley Smith, meer bekend J.L.B. Smith, was ’n Suid-Afrikaanse igtioloog, organiese skeikundige en professor. Hy het bekend geword toe hy die selakant geïdentifiseer het. Daar is vroeër geglo dat die Selakant reeds uitgesterf het.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org

http://battle.blaauwberg.net/