8 FEBRUARIE
October 31, 2016
10 FEBRUARIE
October 31, 2016

Gebeure 

1898 – Pres. Paul Kruger is herverkies as President van die ZAR 

1841 – Daniël Lindley as predikant van die gemeente Pietermaritzburg aangestel 

Na jare van ontevredenheid met Erasmus Smit as predikant van die Voortrekkers – onder meer vanweë die feit dat hy dan nie voldoende opgelei en behoorlik bevoeg verklaar is om al die kerklike sakramente te bedien nie – is Daniël Lindley, die Presbiteriaanse Amerikaner formeel op hierdie dag as predikant van die gemeente Pietermaritzburg aangestel. Die Voortrekkers het reeds in 1836 met die Lindley-gesin by Mosega te doen gekry en na verdere ontmoetings steeds ’n hoë dunk van hom behou. Dat die Kaapse NG Kerk hom in 1837 as Sinode aan die Voortrekkers onttrek en hulle trekdaad boonop afgekeur het, het natuurlik seergemaak en ook ongerief meegebring. Kinders is nie gereeld gedoop nie, die Nagmaal is nie gereeld bedien nie en kategetiese onderrig met die oog op belydenis van geloof, is soms lank vertraag. Nadat Lindley toe sy ordeningsdokumente voorgelê het en dit goedgekeur is, het hy van 1 April 1841 af sy traktement van 1333 riksdaalders per jaar van die staat ontvang. Erasmus Smit moes, aldus Volksraadsbesluit op dieselfde 9 Februarie, sy emeritaat aanvaar en sou 600 riksdaalders per jaar pensioengeld ontvang. Lindley self het vroeër reeds die Hollands van die Voortrekkers geleer en hulle gevolglik in hulle eie taal van die Woord bedien. Vir die reeds gevestigde Natalse Voortrekkers soos Karel Landman, Andries Pretorius, Sarel Cilliers, Evert Potgieter en andere was Lindley se teenwoordigheid van onskatbare waarde. 

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Australian Hill, Colesberg

1900 – Anglo-Boereoorlog: George Labram oorlede

George Labram is op hierdie dag gedurende die beleg van Kimberley oorlede. Dit volg nadat die “Jood”, ’n Long Tom- (Creusot) kanon teen die agtermiddag ’n laaste skoot op Kimberley geskiet het. Labram is noodlottig in sy hotel kamer deur skrapnel van die projektiel getref. Labram word onthou as die man wat saam met FB Kirsten die ghriestafel vir die diamantbedryf ontwikkel het. Hy word egter die beste onthou vir die bou van die kanon, “Long Cecil” in die De Beers se werkswinkels. Eersgenoemde uitvinding was uniek, en het die diamantbedryf geweldig baie gehelp. “Long Cecil” was egter ’n veel groter prestasie gewees. “Long Cecil” is immers met die minimum gebou en was dodelik gewees.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Meyer de Kock

Meyer de Kock se doodsvonnis word deur SW Burger, waarnemende staatspresident, bekragtig.

1902 – Anglo-Boereoorlog: De Wet breek deur blokluislyn

Generaal de Wet breek deur die blokhuislyn by Palmietfontein. Twee Burgers het tydens die poging gesneuwel. Die een gesneuwelde Burger was ’n jong seun van 10 jaar. ’n Ander seun wat 11 jaar oud was, is gewond.

1959 – Die Witwatersrandse Musiekgenootskap gestig 

Op aandrang van die Afrikaanse Skakelkomitee van Johannesburg en in oorleg met die Johannesburgse Afrikaanse Musiekkomitee wat ’n onderkomitee van die Skakelkomitee was, is besluit om die Johannesburgse Afrikaanse Mosiekomitee om te skep in ’n koördinerende liggaam van alle verenigings en organisasies wat by die musiekkultuur van die Afrikaner in Johannesburg belang het. Die doelstellings van die Genootskap is: 
a) Om in die algemeen die musiekkultuur te beoefen. 
b) Om veral in die Afrikaanse gemeenskap belangstelling in die musiek en aanverwante kunste op te wek en musiek- en kunswaardering te bevorder. 
c) Om die beoefening van musiek in al sy vorme, en ook van die aanverwante kunste, veral in die Afrikaanse gemeenskap te bevorder. 

1965 – Geskiedeniskomitee van die FAK gestig 

Die Hoofbestuur van die FAK het sy Geskiedeniskomitee tot stand gebring om hom te adviseer oor die bevordering van vaderlandse geskiedenis deur die vermeerdering van kennis van die aankweek van liefde en trots vir die volksverlede, die bevordering van Geskiedenis as vak op skool, kollege en universiteit, en die reëling van en bepaling van temas vir Afrikaanse volksfeeste. 

 

Geboortes 

1853 – Sir Leander Starr Jameson, mediese spesialis, staatsman en leier van die Jameson-inval († 26 November 1917) 

Sir Leander Starr Jameson, was ’n gekwalifiseerde mediese spesialis, gewilde Suid-Afrikaanse en Rhodesiese staatsman en eerste leier van die Unionisteparty in Suid-Afrika.

1932 – Daniel Wepener(Daan) Bekker, bokser († 22 Oktober 2009) 

Daan Bekker was ’n Suid-Afrikaanse bokser, wat ’n bronsmedalje tydens die Olimpiese Somerspele in Melbourne en ’n silwermedalje tydens die Olimpiese Somerspele in Rome verower het; beide in die Swaargewig afdeling.

1940 – John Maxwell Coetzee, skrywer en ontvanger van die Nobelprys vir Letterkunde († 2003) 

 

Sterftes 

1932 – Dr. Nicolaas Marais Hoogenhout, bekende onderwysman en stigter van die Afrikaanse Taalgenootskap (* 9 Januarie 1876) 

Nicolaas Marais Hoogenhout, bekende onderwysman, is op 9 Januarie 1876 op Wellington gebore as die oudste seun van die bekende CP Hoogenhout. Sy opleiding ontvang hy op Stellenbosch, waar die eer hom onder meer in 1899 te beurt val om die eerste Afrikaner te word wat die MA-graad in moderne tale verwerf. Daarna studeer hy aan die Universiteit van Straatsburg, waar hy in 1902 tot doktor in die Germaanse Filologie promoveer. Soos sy vader, was hy ook ’n kampvegter vir die Afrikaanse taal en kultuur. Onder sy voorsitterskap het ’n dertigtal belangstellendes byvoorbeeld op 13 Desember 1905 in Pretoria besluit om die Afrikaanse Taalgenootskap te stig. Hy het ook ’n merkwaardige stempel op die onderwys in Transvaal afgedruk. Hier begin sy loopbaan in 1904 as hoof van die Eendracht-skool in Pretoria, in een van die grootste CNO-skole van die tyd. Daarna word hy vise-hoof en sedert 1921 hoof van die Pretoriase Normaalkollege. Van 1922 tot 1928 is hy professor in die opvoedkunde van die Transvaalse Universiteitskollege (Later Universiteit van Pretoria), en van 1925 tot 1927 ook rektor van die inrigting. In 1928 word hy aangestel as Direkteur van Onderwys in Transvaal, ’n pos wat hy tot sy dood beklee. Hy lewer ’n waardevolle bydrae in die verenigingslewe van die Transvaalse onderwys- en kultuurlewe, terwyl sy besondere belangstelling in die taal weerspieël word in verskillende publikasies waarin hy ’n aandeel gehad het. 

1941 – John Daniel (JD) Kestell (Vader Kestell)Bybelvertaler, skrywer en kultuurleier (* 15 Desember 1854) 

John Daniël Kestell is op Pietermaritzburg gebore. Hy het sy opleiding as teoloog op Stellenbosch en in Nederland ontvang, waarna hy agtereenvolgens die NG gemeentes Kimberley, Harrismith, Ficksburg en Bloemfontein bedien het. Gedurende die Anglo-Boereoorlog vorm hy saam met pres. Steyn en genl. De Wet die vermaarde driemanskap – kerkman, staatsman en krygsman. Leier by uitnemendheid, beklee hy by drie agtereenvolgende sittings van die Sinode van die NG Kerk die amp van Moderator. In 1919 aanvaar hy die redakteurskap van De Kerkbode. Op 65-jarige leeftyd word hy Rektor van die destydse GUK – ’n unieke onderskeiding! “As Rektor het hy vir hom as ideaal gestel om aan die GUK ’n eie karakter te gee, nl. wat eie is aan die Vrystaat en sy mense, d.w.s. Christen-Afrikanerskap, en om die inrigting so gou moontlik tot ’n selfstandige universiteit te voer.” (Prof. MCE van Schoor) Vader Kestell, die beminlike, pragtige mens, was Vrystater tot in sy voetsole en gelowige vaderlander in murg en been. In So onthou ek hom prys DF Malherbe “sy blymoedige, gelowende hart, sin vir humor, liefdevolle begrip van ander, klein of groot, sy ewewigtigheid, sy sagte, vergewende oordeel, sy vroomheid, getemper deur nugtere insig, die groot omvang van sy belangstelling, sy innige liefde vir die medemens – kortom, Christenmens van die hoogste orde”. Die naam van sy huis was Ruimte, en die boodskap van sy lewe skep ruimte in die gees van sy volksgenote – dankbare volksgenote wat hulle ekonomiese opheffing in ’n groot mate aan die reddingsdaad-aksie van Vader Kestell te danke het. Hy is oorlede op 9 Februarie 1941 en begrawe aan die voet van die Vrouemonument in Bloemfontein.

 

Bronne: 

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK. 

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel. 

https://www.sahistory.org.za 

https://af.wikipedia.org/wiki/