8 DESEMBER
December 8, 2016
10 DESEMBER
December 10, 2016

Gebeure

1838 – Die “Gelofte van Bloedrivier” word vir die eerste keer deur Sarel Cilliers afgelê

Daar is al duisende woorde oor die vraag geskryf of Die Gelofte in verband met die Slag van Bloedrivier op 7 of op 9 Desember die eerste keer afgelê is, en of dit by Danskraal of Blyrivier, dit is Wasbank, die eerste keer uitgespreek is. Dit wil voorkom of die gedagte van ’n gelofte by Andries Pretorius as krygerleier op die trek na Dingaan se stat ontstaan het. Toe hy met Sarel Cilliers hieroor gepraat het, het Cilliers dadelik geantwoord dat hy ook al oor so iets gedink het, en vandaar sy preek op Sondag 2 Desember 1838 na aanleiding van Josua 10:7-10. Die Sondag daarop het Cilliers na aanleiding van Rigters 6:1-24 gepreek. Intussen is van die offisiere oor die gedagte van ’n gelofte gepols en hulle het die idee heelhartig gesteun. Daarna is die manskappe op 5 Desember geraadpleeg, wat eweneens almal ten gunste daarvan was.

Dalk Vrydagaand die 7e, maar meer waarskynlik die Sondagoggend die 9e net na die erediens, is Die Gelofte afgelê. Cilliers het die manne in gebed en in die gemeenskaplike aflegging van Die Gelofte voorgegaan. Bantjes as joernaalskrywer, Pretorius en ook Cilliers het in hulle herinneringe min of meer ’n weergawe gegee van wat vandag as Die Gelofte aanvaar word. Dit is blykbaar nie destyds woordeliks uitgeskryf toe dit aand vir aand ná die eerste keer as deel van die laergodsdiens deur Cilliers gebid is en die burgers hardop Amen geantwoord het nie.

Niemand was verplig om Die Gelofte af te lê nie, maar elke burger teenwoordig het dit wel gedoen. Almal was deeglik bewus van die erns van die saak en dat dit ’n toekomsverpligting op hulle en hulle nageslag geplaas het.

In die laer langs die sytak van die Buffelsrivier, ofte wel Umzinyati-rivier, wat later Bloedrivier sou word, het die burgers die aand voor die Sondagslag Die Gelofte ten aanhore van die omringende vyand herhaal. Volgens oorlewering is Biggar, Parker en Joyce, drie Engelse in die laer, en die nie-blanke handlangers volgens beleid, nie tot die aflegging van Die Gelofte toegelaat nie – hieroor bestaan egter geen sekerheid nie.

1899 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Kamfersdam, Kimberley

1900 – Anglo-Boereoorlog: Russe verwerp Kruger se pleidooi

Die Russiese tsaar Nikolaas II verwerp Paul Kruger se pleidooi om amptelike hulp teen die Britse weermag, alhoewel baie Russiese vrywilligers aan die Boere se kant veg.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Varkfontein, Lichtenburg/Marico

 

Geboortes

1899 – Matilda Hanekom, aktrise en toneelpionier (†  6 Januarie 1977)

Matilda Hanekom was een van die baanbrekers van Afrikaanse toneelspel. Sy en haar man, Hendrik, het die toneelgeselskap, Die Afrikaanse Toneelspelers, gestig; hulle het 27 jaar lank die land vol getoer. Sy is op 6 Januarie 1977 oorlede.

1950 – Mike Schutte, Suid-Afrikaanse swaargewig bokskampioen († 2008)

 

Sterftes

1881 – Thomas Francois Burgers, teoloog en president van die ZAR van 1872 tot 1877 (* 15 April 1834)

Thomas Francois Burgers is op Langfontein, Graaff-Reinet, gebore. Na sy skoolloopbaan op Graaff-Reinet, universiteitstudie in Nederland (1853 tot 1858) en predikantskap op Hanover (waartydens hy in ’n kerkstryd en hofsake betrokke geraak het), is hy in 1872 verkies tot Staatspresident van die ZAR. Deur die invoer van Hollandse amptenare, knap hy die agterlike landsadministrasie op, verbeter hy die staatsfinansies, beywer hy hom om die berugte Keate-uitspraak ongedaan te kry, die onderwys op ’n gesonde grondslag te plaas, die mineralerykdom te ontwikkel en ’n spoorweg na Delagoabaai te bou. Sy belangstelling in die verbetering van die kulturele lewe van die ZAR deur die totstandbringing van biblioteke, literêre en natuurwetenskaplike verenigings, museums, dorpsparke, botanies tuine en die verkryging van ’n volkslied en koerant was prysenswaardig. Met die hysing van die Britse vlag in Pretoria op 12 April 1877, bewerkstellig deur verraad en interne twiste, gaan die ZAR tydelik ook in Britse beheer en kom die Burgers-bewind tot ’n einde. Hy keer terug na die Karoo, waar hy op 9 Desember 1881 in Richmond sterf.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/