8 AUGUSTUS
August 8, 2015
10 AUGUSTUS
August 10, 2015

Gebeure

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Leeuwfontnein en Lindequesdrif, ZAR

1918 – Taalfees op Riversdal

Met groot geesdrif het Afrikaners op Riversdal saamgetrek om Taalfees te vier in ’n stadium toe Afrikaans nog nie amptelik erken was nie, maar op alle terreine van die samelewing veld gewen het. Prof. NJ Brümmer praat oor die gebruik van Afrikaans in die staatsdiens, prof. JJ Smith oor Afrikaans in die skool, CJ Langenhoven oor Afrikaans in die huis, dr. DF Malan oor Afrikaans in die kerk en Jan FE Celliers oor Afrikaans in die letterkunde. Ds. D Wilcocks bepleit die oprigting van ’n Afrikaanse taalmonument. Langenhoven juig die pleidooi toe, maar stel voor dat die monument die vorm van ’n gedenkfonds moet aanneem wat aan ’n Suid-Afrikaanse universiteit gegee moet word met die opdrag om Jan Celliers in staat te stel om sy talente in diens van die ontwikkeling van die taal en die jeug te gebruik.

1956 – Vroueoptog na Uniegebou

In een van die grootste demonstrasies in hierdie land se geskiedenis het vroue na die Uniegebou in Pretoria gestap om ’n petisie teen paswette te oorhandig.

1957 – Rentmeester-Versekeraars Beperk gestig

Rentmeester-Versekeraars Beperk vir lewensversekering en pensioene, is gestig met die doel om groter Afrikaanse toetrede tot die sakewêreld te bewerkstellig, en daarmee het die Rentmeestergroep met sy meer as tagtig maatskappye op hierdie dag ontplooi.

1995 – Nasionale Vrouedag die eerste keer in Suid-Afrika gevier

 

Geboortes

1861 – Charl Theodorus Muller Wilcocks, voormalige administrateur van die OVS († 14 November 1936)

1879 – Mabel Malherbe, politikus, joernalis, die tweede vrou wat tot die Volksraad verkies is en die eerste burgemeesteres van ’n Suid-Afrikaanse stad (Pretoria) († 1 Februarie 1964)

1883 – Charl Wynand Marais (Charlie) Malan, regsgeleerde en politikus († 6 Februarie 1933)

1922 – Sheila Cussons, digter en skilder († 25 November 2004)

Sheila Cussons was ’n digter en skilder. Benewens haar talent as skilderes en beeldende kunstenares, was sy een van die belangrikste digters in Afrikaans. Vir haar debuutbundel, Plektrum (1970), is sy met die Ingrid Jonkerprys, Eugène Maraisprys en die WA Hofmeyrprys bekroon. Daarna het nog tien ander bundels en meer pryse gevolg, o.a. die CNA-prys vir Letterkunde (1981) en die Louis Luytprys (1982). In 1983 is die gesiene Hertzogprys vir poësie vir haar hele oeuvre toegeken. Sy het 11 digbundels in haar leeftyd laat verskyn.

 

Sterftes

1878 – Anna Susanna (Antjie) Scheepers, Afrikanerpioniersvrou (* 26 Junie 1806)

Anna Susanna (Antjie) Scheepers is by uitstek ’n voorbeeld van die negentiende-eeuse Afrikanerpioniersvrou. Sy is in die Swellendamse distrik gebore en het grootgeword op die voorposte, waar slegs die sterkstes deur fisieke krag, deursettingsvermoë en gesonde oordeel die stryd om te bestaan kon oorlewe. Sy en haar man, Gert Scheepers, het hulle in 1835 by die trekgeselskap van Louis Tregardt (Trichardt) aangesluit, maar reeds in 1837 beswyk aan koors, sodat sy as weduwee met nege kinders die res van die trek na Delagoabaai meemaak. Hulpeloos was Antjie Scheepers egter allermins. Sy bou eiehandig ’n rondawel en behartig haar wa en vee sonder die hulp van bediendes. Sy staan ook haar plek as gesinshoof vol en handhaaf die sedes van haar volk deur haar kinders te tugtig as hulle verbrou. Louis Tregardt teken in sy dagboek aan dat drie seuns, onder andere ’n seun van Antjie Scheepers, op ’n keer besluit het om weg te loop. Toe hulle na ’n paar dae van ontbering terugkeer, het Tregardt gereken dat hulle genoeg gestraf is, maar daarmee was die weduwee Scheepers nie gediend nie. Sy laat haar seun deur twee mans vashou en dien hom met twee stroppe ’n gedugtige loesing toe. In ’n krisis raak sy ook nie maklik verskrik nie; so vind sy saam met Martha Tregardt en Breggie Pretorius ’n plek om langs die steil Drakensberg af te trek, nadat die manlike lede van die trek al feitlik moed opgegee het. Sy was liggaamlik sterk en gesond, sodat sy een van die weinige volwassenes is wat die trek oorlewe en na Natal teruggekeer het. Sy is in 1844 weer getroud en het na die dood van haar tweede man in die distrik Ladybrand gewoon, waar sy op 9 Augustus 1878 oorlede is. As huldebetoon aan hierdie kranige vrou is daar vir haar ’n monument op die hoërskoolterrein in Ladybrand opgerig. Die Anna Scheepers-Landbouhuishoudskool op Tweespruit is na haar genoem. 

1932 – Gideon Retief (GR)von Wielligh, skrywer (* 1 April 1859)

GR von Wielligh was ’n skrywer en ’n belangrike oorgangsfiguur tussen die Eerste en Tweede Taalbeweging.

2017 – Izak David (ID) Lamprecht, skrywer (* 18 Augustus 1933)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/