8 APRIL
November 1, 2016
10 APRIL
November 1, 2016

Gebeure

1678 – Fondamente van die eerste kerkgebou aan die Kaap gelê

Die gereelde kerkdienste aan die Kaap is eers in ’n saal in die Fort de Goede Hoop en daarna op verskillende plekke in die nuwe Kasteel gehou. Toe die eertydse houtkerkie in die Kasteel verwyder is, moes ’n plan gemaak word met die oorblyfsels van die mense wat sedert 1666 rondom die kerkie begrawe is. In 1677 is ds. Petrus Hulsenaar dus in die Kompanjie se verlate tuin begrawe, wat toe vir ’n kerk en begraafplaas bestem was. Hier het goew. Bax en die lede van die Politieke Raad die namiddag van 9 April 1678 die eerste stene van ’n kruiskerkie gelê. Om verskeie redes het dit jare lank by die fondament gebly, en van Pinksterdag 1695 af het die gemeente in die nuwe dwarsmuur of “Kat” van die Kasteel vergader, maar met die plegtigheid van 1678 is die plek vir die toekomstige kerkgebou van die Kaapse gemeente vir goed aangewys.

1679 – Eerste sensus in die Kaap

’n Sensus word in die Kaap van stapel gestuur. Die rekords toon dat daar na 27 jaar 87 enkellopende mans was, sowat 55 vroue, 117 kinders, 113 manlike slawe, asook sowat 30 wit manlike bediendes.

1830 – De Zuid-Afrikaan verskyn

’n Koerant, De Zuid-Afrikaan, verskyn die eerste maal op hierdie dag.

1838 – Slag van Italeni

1900 – Anglo-Boereoorlog: Beleg by Jammerbergdrif, Wepener, begin en duur tot 25 April 1900

1901 – Anlgo-Boereoorlog: Emily Hobhouse besoek konsentrasiekamp by Mafeking

1960 – Aanslag op dr. HF Verwoerd

David Pratt skiet dr. HF Verwoerd op die Randse Paasskou. Dr. Verwoerd hertel ten volle.

Geboortes

1850 – Abraham Fischer, politikus († 13 November 1913)

Abraham Fischer is in Kaapstad gebore waar hy ook sy skool- en naskoolse opleiding ontvang het. Hy het hom veral as regstudent onderskei en het die regsberoep betree as prokureur in Kimberley en van 1875 af as prokureur en advokaat in Bloemfontein. Hier het hy in aanraking gekom en vriendskapsbande gesmee met advokate MT Steyn (later president) en JBM Hertzog (later Boeregeneraal en premier). Sy politieke loopbaan het op 9 Januarie 1879 begin as Volksraadlid vir Philippolis en later vir Smithfield. Fischer het die hoofbemiddelaarsrol in die spanningsjare voor 1899 tussen sir Alfred Milner, pres. SJP Kruger en pres. MT Steyn gespeel en hom onafgebroke vir vrede beywer. Toe oorlog onvermydelik was, het hy die Boere-ultimatum in sy finale vorm gegiet. Hy was die hoofonderhandelaar om hulp aan die Boere in Europa en Amerika, maar ofskoon hy die vriendelike moondhede geïmponeer het, kon hy geen hulp kry nie. Na die vrede in 1902 het Fischer in 1907 Eerste Minister van die Vrystaat geword. In 1908/09 het hy ’n belangrike rol in die totstandkoming van die Unie gespeel, en ’n pos in die eerste Botha-kabinet beklee. Hy is op 13 November 1913 in Kaapstad oorlede.

1860 – Emily Hobhouse, ’n Engelse maatskaplike werker, hervormer en bekende figuur tydens die Anglo-Boereoorlog wat haarself met die lot van die vroue en kinders in die konsentrasiekampe bemoei het  († 8 Junie 1926)

Emily Hobhouse is op Liskeard in Cornwallis, Engeland, gebore. As pastoriedogter het sy haar sieklike vader pligsgetrou versorg en ’n leidende aandeel in gemeentewerk geneem. Sodoende het sy die skadukant van die maatskaplike lewe leer ken en is die weg gebaan tot die opheffingswerk wat sy later in Suid-Afrika sou doen. Vir haar as oortuigde pasifis, het die oorlog teen die Boererepublieke haar van meet af aan teen die bors gestuit en het die Konsentrasiekampbeleid van die Britse militêre owerheid in Suid-Afrika haar met weersin vervul. Enersyds het sy haar verontwaardiging openlik in toesprake, brosjures en briewe aan die pers gelug, en andersyds het sy oorgegaan tot die stigting van ’n noodlenigingsfonds. Met die karige bedrag van R600 op die wyse geïn, is sy persoonlik na Suid-Afrika en het sy ’n aantal uitgebreide reise deur die oorloggeteisterde gebied onderneem, ten einde eerstehandse inligting oor die toestand in die Konsentrasiekampe in te win en terselfdertyd persoonlik noodlenigings werk te doen. Op dié wyse word sy vir die Boerevrou en -kind die verpersoonliking van ware menslikheid en mensliewendheid te midde van oorlogsmart en -onreg. Terug in Engeland het sy die Britse owerheid meedoënloos in die pers aangeval en op dié wyse soveel druk uitgeoefen dat grootskaalse verbeteringe in die kampe teweeggebring is en die sterftesyfer gaandeweg ’n daling begin toon het. Die owerheid het haar egter hardhandig verhinder om self weer in Kaapstad voet aan wal te sit. Na die oorlog, in 1903, het sy weer persoonlik na die verwoeste Boererepublieke gegaan, ten einde hulp aan die ontredderdes te verleen en opheffingswerk onder die hulpbehoewendes te doen, onder meer deur die aanmoediging van tuisnywerhede en die stigting van weefskole. Sodoende word sy ook die heler van ’n volk se wonde. Sy is op 8 Junie 1926 in Londen oorlede. Haar as is na Suid-Afrika gebring om aan die voet van die Vrouemonument ’n laaste rusplek te vind. Op 27 Oktober 1926 het die Afrikanervolk op gepaste wyse aan hierdie weldoenster hulde gebring. Dr. JD Kestell het ’n indrukwekkende roudiens in die Tweetoringkerk gelei, ses Afrikanerdogters met die naam Emily Hobhouse het as draers opgetree. Honderde skooldogters met ’n wit palmtak in die hand, het aan die optog deelgeneem. Afrikanerleiers en -leidsters van alle vlakke van die Afrikanervolkslewe het aan ’n heldin hulde kom bewys.

Sterftes

1838 – Petrus Lafras (Piet) Uys, Voortrekkerleier (* 10 Julie 1797)

Petrus Lafras (Piet) Uys, Voortrekkerheld, is op 10 Julie 1797 op Potteberg, Swellendam, gebore. In September 1834 is hy die leier van ’n geselskap van twintig wat as gesante van die inwoners van Albanië en Uitenhage die moontlikheid om na Natal te emigreer, ondersoek. Hulle het tot aan die Tugelarivier gereis en in Maart 1835 met ’n gunstige rapport teruggekeer. Hierna het die Sesde Grensoorlog uitgebreek, waarna Uys en ander Trekkers onder leiding van sy vader, Jacobus Uys, uit die Kaapkolonie emigreer. Saam met Andries Hendrik Potgieter en Gerhardus Marthinus Maritz, trek Piet Uys in November 1837 te velde teen die Matebele in Transvaal en behaal ’n groot oorwinning. In Februarie 1838 word die Natalse Trekleier, Pieter Retief, vermoor deur Zoeloes, wat daarna op die treklaers toeslaan. Leierloos nader hierdie mense Uys en Potgieter om hulp. Hulle trek op teen die Zoeloes, maar Uys en sy mense word by Italeni in ’n lokval gelei, waar Piet, sy dapper seun Dirkie, en agt ander mans sneuwel.

1838 – Dirkie Uys, seun van die Voortrekkerleier Piet Uys  (* 3 Maart 1823)

Dirk Cornelis Uys, wat op 3 Maart 1823 op Pollenberg gebore is, was die tweede oudste seun van die Voortrekkerleier Piet Uys. Toe hy oorlede is, was hy 15 jaar oud. Na die moord op Retief en sy mense en die Zoeloe-aanval op die Voortrekkers tien, elf dae later, het die Voortrekkers besluit om Dingaan te gaan straf en hulle beeste terug te vat. Op 7 April 1838 het ’n perdekommando onder twee kommandante, Piet Uys en Hendrik Potgieter, uitgetrek. Dirkie het saamgegaan. Die elfde het hulle in die omgewing van die Italaberg by Italeni met die Zoeloe-impi slaags geraak. Uys se afdeling het die Zoeloes wat teen die hange van die berg was, aangeval. Hulle het spoedig die Zoeloes uitmekaar gedryf en hulle toe in groepies agtervolg. In die proses is sommige van Uys se mense afgesny en deur Zoeloes omsingel. Piet en Dirkie het juis sulke mense gaan help toe ’n assegaai Piet getref en hom swaar gewond het. Die wond het baie gebloei, maar hy het darem op sy perd aangesukkel. Hy het ’n paar keer flou geword. Toe hy nie verder kon nie, het hy die mense wat by hom was, aangeraai om vir hulle veiligheid te vlug. Almal het weggejaag, behalwe die jongeling Dirkie Uys wat omgedraai het aangesien hy nie kon toesien dat sy vader met assegaaie deurboor word nie. Dirkie het by sy vader gebly en hom verdedig. Nadat Dirkie drie krygers doodgeskiet het, is hy by sy vader se lyk oorval en deur ’n assegaai getref.

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/

www.zulu.org.za/

http://samilitaryhistory.org/