Jong Paul
July 27, 2015
Kinders by Vegkop
July 27, 2015

deur J.J.G. Grobbelaar.

Andries Hendrik Potgieter en sy mense het in 1837 by die Vetrivier in die Vrystaat aangekom. Party mans het in Transvaal gaan olifante jag, terwyl Potgieter self na Louis Tregardt in die Soutpansberg gaan soek het. Langs die Vetrivier het die trek van Hans Smal gestaan. Hy was in die omgang as Hans Smid bekend, omdat hy vroeër by ’n Engelse smidswinkel in Grahamstad gewerk het en nou hierdie ambag oral in die veld beoefen het. Smal het twee seuntjies gehad: Danie was omtrent twaalf jaar oud en Kosie so tien jaar.

Danie was ’n seun van die veld. Langs die Vetrivier het dit van die wild gewemel, maar ook van ongediertes soos leeus en luiperds. In die doringbome het honderde tarentale geboer. Eendag stuur sy ma hulle om ’n tarentaal te gaan skiet. Ongeveer 500 treë van die staanplek af was ’n pannetjie, omring deur doringbome. Dis hierdie pannetjie wat die twee seuntjies behoedsaam genader het. In die lang vleigras onder die plathaakdoring het ’n luiperdwyfie met drie kleintjies gelê.

Die seuns was onder die wind, dus kon die luiperd hulle nie ruik nie. Toe hulle tien treë van haar af was, het sy onraad gemerk. Sy het haar stadig uit die lang gras opgelig, en oombliklik het Danie haar gesien. Ook net betyds. Net toe sy haar gereed maak om te spring, knal ’n skoot. Die luiperd is dodelik in die borskas getref. Kosie is huis toe om vir sy ma te vertel van die mooi bont kat wat hulle geskiet het.

Danie se pa stuur hom eendag na sy oom om ’n stuk staal te gaan haal, wat hy broodnodig gehad het. Sy oom het met sy trek omtrent vyf kilometer verder af langs die Vetrivier gestaan. Dit is reeds laat die agtermiddag toe hy met sy geweer te voet oor die rantjie verdwyn het. Dit was Meimaand op die Hoëveld en ’n snerpende yswindjie het gewaai. Toe hy die stuk staal by sy oom kry, was dit reeds laat. Dit het bewolk geraak en sy tante het gevra dat hy liewer die nag daar slaap. Maar moenie glo nie. Sy pa het gesê dat hy die staal nodig het en dat hy weer daardie aand tuis moes wees.

Skaar was Danie weg, of ’n hewige sneeustorm het begin woed. Dit het donker geword en in die digte doringbosse langs die rivier het hy sy pad byster geraak. Hy het naderhand uitgeput teen ’n boomstam neergesak. Omdat dit onveilig en koud op die grond was, het hy later in ’n boom geklim.

Die volgende oggend het sy pa, wat die hele nag na hom gesoek het, sy geweer langs die boomstam gevind. Hoër op in die takke het Danie gesit. Hy het verkluim, maar met die stuk staal vir sy pa nog in sy hand vasgeklem!