Afrikaanse Bybelvertaling
June 7, 2015
7 JUNIE
June 8, 2015

Gebeure

1860 – Straatposbusse in Kaapstad bekendgestel

1897 – Pres. Kruger lê hoeksteen van Paleis van Justisie

Die hoeksteenlegging van die Paleis van Justisie aan die noordekant van Kerkplein het op ’n aanskoulike wyse uitdrukking gegee aan die bedoeling van die republikeinse owerheid met die Kerkplein. Destyds was daar ’n behoefte aan die oprigting van ’n ewe waardige en stylvolle staatsgebou in Italiaanse Renaissance-boutrant reg teenoor die “Staatsgebouw” en skuins teenoor die toringkerkgebou op die middelpunt van die Kerkplein. Sodoende kon die balans tussen twee kante van die westelike helfte van die Kerkplein en sy middelpunt verkry word. Met die totstandkoming van die Paleis van Justisie, sou die band tussen Kerk en Staat en terselfdertyd tussen die wetgewende, administratiewe, regsprekende en ekonomiese aktiwiteite van die ZAR op die Kerkplein versinnebeeld word.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Slag van Bothaspas

1912 – Die hoeksteen van die Gereformeerde kerk Burgersdorp se nuwe kerkgebou word gelê

1918 – Sanlam gestig

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Lewens-Assuransie-Maatskappy is op hierdie dag in Kaapstad onder voorsitterskap van WA Hofmeyr gestig. Die aanvangskapitaal was R50 000. In 1975 was Sanlam se bates R828 miljoen en het hy ongeveer 650 000 mense verseker. Daar word geraam dat die groep wat uit en rondom Sanlam bestaan, reeds meer as R3 000 miljoen se bates beheer. “Uit die volk gebore om die volk te dien,” was die leuse wat die kultuur manne Willie Hofmeyr, Charlie Louw. PA Malan en ander met die stigting van Sanlam vir die Maatskappy gekies het. Hulle het ’n kapitaalkragtige saak beoog wat vir die verarmde Afrikanervolk geleenthede sou skep. Die klem by Sanlam het weliswaar geleidelik tot groter sake benadering en die uitbouing van ons landsekonomie verskuif, maar sy identiteit as Afrikaanse maatskappy is deurgaans behou. “Sanlam simboliseer die Afrikaner se vermoë om hom in die sakewêreld deur intelligente, eerlike, harde werk te handhaaf,” het sy voorsitter, dr. AD Wassenaar, by geleentheid gesê. Danksy die geesdrif van sy briljante jong aktuaris en besielende kultuur stryder, dr. MS (Tinie) Louw, en die daadkragtige FAK, Reddingsdaadbond en Ekonomiese Volkskongres (1939), is Federale Volksbeleggings in 1940 gestig met onder meer ’n groot bydrae uit Sanlam-fondse, ten einde bedryfskapitaal vir nuwe Afrikaanse ondernemings te verskaf. Hier het die Afrikaner se ekonomiese vooruitgang begin wat later alle rassegroepe en ons landsekonomie sou bevoordeel. Omdat Sanlam hom steeds hou by sy stigtingsleuse, het hy deur die jare heen op ’n wye verskeidenheid kultuurterreine ’n aansienlike ontwikkelingsrol gespeel, enersyds deur geldelike bydraes en andersyds deur bewaringsprojekte. Namens sy polishouers, aanvaar Sanlam steeds sy roeping om ons landsbelange te dien en ’n gesonder, beter ontwikkelde volk te verseker.

1991 – Die Suid-Afrikaanse Lugdiens word die eerste maal in 28 jaar toegelaat om oor Wes-Afrika te vlieg

 

Geboortes

1837 – Alexander Merensky, sendeling en aardrykskundige († 22 Mei 1918)

Alexander Merensky is in die omgewing van Liegritz, Neder-Silesië in Pole gebore. Na sy aankoms in die Kaap in 1858 het hy verlof van die Bapedi-opperhoof, Sekwati, gekry om met sendingwerk te begin en daarmee die grondslag gelê vir sendingwerk deur die Berlynse Sendinggenootskap in Transvaal. In die omgewing van Middelburg het hy mettertyd die model-sendingstasie Bothsabêlo opgerig. As aardrykskundige het Merensky ook belangrike bydraes gelewer. In 1868 het hy en F Jeppe die eerste kaart van Transvaal geteken en laat druk. Ook het gegewens wat hy aan Karl Mauch beskikbaar gestel het, laasgenoemde gehelp om die Zimbabwe-bouvalle te ontdek. Merensky se pogings in 1877 om vrede te bewerkstellig tussen die Boere en Sekoekoenie het hom onder verdenking gebring sowel by die Boere as by Shepstone. Toe sy gesondheid boonop ook nog instort, het hy in 1882 na Duitsland teruggekeer. Merensky is op 22 Mei 1918 in Berlyn oorlede.

 

Sterftes

1911 – Paul Hendrik Roux, NG predikant en Vrystaatse generaal (* 28 September 1862)

Paul Hendrik Roux is op Hopetown in Kaapland gebore. Ná sy teologiese opleiding was hy predikant in die gemeentes Vredefort (1891-1897), Senekal (1897-1905) en Beaufort-Wes (1905-1911). Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog in 1899 het ds. Roux hom geroepe gevoel om te gaan veg. Hy het as veldleraar in Natal, waar die meeste van sy gemeentelede geveg het, op kommando gegaan. Hy het die burgers voortdurend bemoedig en hom altyd met hulle vereenselwig. Hy is deur pres. Steyn en genl. De Wet tot kommandant en later veggeneraal bevorder. Ds. Roux het nie werklik geleentheid gekry om sy militêre leierskap te toon nie, want op 28 Julie 1900, terwyl hy met besoek aan kmdt. Haasbroek by Golden Gate was, het genl. M Prinsloo hom en sy manskappe aan die Engelse oorgegee. Genl. Prinsloo en sy manskappe, waarvan ds. Roux een was, is saam met ander krygsgevangenes na Ceylon gestuur waar hulle in die krygsgevangenekamp Dyatalawa aangehou is. Ds. Roux was een van drie predikante wat toegelaat is om te werk, maar hy het hom die gramskap van die Britse owerheid op die hals gehaal weens sy preke wat ’n “opstandige gees” onder die krygsgevangenes aangewakker het. Hy is later na Nuware Elija oorgeplaas. Met die vredesluiting in Suid-Afrika het hy aan sy burgers in Dyatalawa geskryf om hulle te bemoedig. Hy het hom met sy verblyf in Ceylon beywer vir ’n kampskool omdat hy heelwat probleme in die katkisasieklasse ondervind het. Die grootste deel van die jong manne het dit onmoontlik gevind om die lesse weens hul gebrekkige lees- en skryfkennis te volg. Uiteindelik is ’n groot skool in Dyatalawa met Schalk Pienaar en Gielie Theron as onderwysers begin.

1926 – Emily Hobhouse, ’n Engelse maatskaplike werker, hervormer en bekende figuur tydens die Anglo-Boereoorlog wat haarself met die lot van die vroue en kinders in die konsentrasiekampe bemoei het  (* 9 April 1860)

Emily Hobhouse is op Liskeard in Cornwallis, Engeland, gebore. As pastoriedogter het sy haar sieklike vader pligsgetrou versorg en ’n leidende aandeel in gemeentewerk geneem. Sodoende het sy die skadukant van die maatskaplike lewe leer ken en is die weg gebaan tot die opheffingswerk wat sy later in Suid-Afrika sou doen. Vir haar as oortuigde pasifis, het die oorlog teen die Boererepublieke haar van meet af aan teen die bors gestuit en het die Konsentrasiekampbeleid van die Britse militêre owerheid in Suid-Afrika haar met weersin vervul. Enersyds het sy haar verontwaardiging openlik in toesprake, brosjures en briewe aan die pers gelug, en andersyds het sy oorgegaan tot die stigting van ’n noodlenigingsfonds. Met die karige bedrag van R600 op die wyse geïn, is sy persoonlik na Suid-Afrika en het sy ’n aantal uitgebreide reise deur die oorloggeteisterde gebied onderneem, ten einde eerstehandse inligting oor die toestand in die Konsentrasiekampe in te win en terselfdertyd persoonlik noodlenigings werk te doen. Op dié wyse word sy vir die Boerevrou en -kind die verpersoonliking van ware menslikheid en mensliewendheid te midde van oorlogsmart en -onreg. Terug in Engeland het sy die Britse owerheid meedoënloos in die pers aangeval en op dié wyse soveel druk uitgeoefen dat grootskaalse verbeteringe in die kampe teweeggebring is en die sterftesyfer gaandeweg ’n daling begin toon het. Die owerheid het haar egter hardhandig verhinder om self weer in Kaapstad voet aan wal te sit. Na die oorlog, in 1903, het sy weer persoonlik na die verwoeste Boererepublieke gegaan, ten einde hulp aan die ontredderdes te verleen en opheffingswerk onder die hulpbehoewendes te doen, onder meer deur die aanmoediging van tuisnywerhede en die stigting van weefskole. Sodoende word sy ook die heler van ’n volk se wonde. Sy is op 8 Junie 1926 in Londen oorlede. Haar as is na Suid-Afrika gebring om aan die voet van die Vrouemonument ’n laaste rusplek te vind. Op 27 Oktober 1926 het die Afrikanervolk op gepaste wyse aan hierdie weldoenster hulde gebring. Dr. JD Kestell het ’n indrukwekkende roudiens in die Tweetoringkerk gelei, ses Afrikanerdogters met die naam Emily Hobhouse het as draers opgetree. Honderde skooldogters met ’n wit palmtak in die hand, het aan die optog deelgeneem. Afrikanerleiers en -leidsters van alle vlakke van die Afrikanervolkslewe het aan ’n heldin hulde kom bewys.

2012 – Peter Henry (PH) Nortjé, storieverteller en skrywer (* 20 Oktober 1920)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/