7 JULIE
July 7, 2015
9 JULIE
July 8, 2015

Gebeure

1658 – Herry die Strandloper na Robbeneiland verban

Die Politieke Raad aan die Kaap verban Herry die Strandloper en twee ander na Robbeneiland omdat hulle vee gesteel het.

1895 – Die spoorlyn tussen Pretoria en Delagoabaai (tans Maputo) geopen

1904 – Hoeksteen van Hervormde kerk in Du Toitstraat, Pretoria gelê

Genl. Louis Botha, lid van die kerkraad van die Nederduitsche Hervormde Kerk, lê die hoeksteen van die Hervormde kerk in Du Toitstraat, Pretoria.

1908 – Van Rensburgtrek: Ongeveer 70 gesinne kom in Mombassa aan

Op hierdie dag het waarskynlik die grootste georganiseerde trek na Oos-Afrika, bestaande uit ongeveer 70 gesinne met 47 waens en 70 perde onder die leiding van Jan van Rensburg in Mombassa op die Duitse skip Windhuk geland. Die groep is 400 myl per spoor vervoer na die binneland van Nakuru, waar hulle deur Frans Arnoldi ontmoet is en op sy plaas Pampoenkraal gekampeer het. Die laaste deel van die reis is per ossewa onderneem. Dit het die trekkers meer as drie weke gekos om die afstand van 160 km met die swaar gelaaide waens deur die oerwoud, bamboes en moerasse af te lê. Die trekkers het land op die hoogland van Uasin Gishu gekry, onder kontrak met die regering van Kenia. Spoedig het ’n gevestigde gemeenskap daar ontstaan.

1991 – SA se kerngeriewe geopen

Die minister van buitelandse sake, Pik Botha, onderteken ’n verdrag namens Suid-Afrika wat die land se kerngeriewe open vir inspeksie deur buitelandse moondhede.

1991 – Suid-Afrikaanse belangekantoor in Moskou geopen

Dr. Gerrit Olivier, Suid-Afrikaanse verteenwoordiger in Rusland, open ’n Suid-Afrikaanse belangekantoor in Moskou.

 

Geboortes

1714 – Baron Pieter van Reede van Oudtshoorn, goewerneur van die Kaap (* 23 Januarie 1773)

Hy is in Utrecht, Nederland, gebore. Behorende tot die ou Nederlandse adel, ontvang hy ’n goeie opvoeding wat hom op jeugdige leeftyd ’n hoë pos in die kompanjie se diens aan die Kaap besorg. Van 1741 tot 1766 woon en werk hy in die Kaap, maar hy keer na Nederland terug om ’n aansienlike erfporsie in ontvangs te neem. Ses jaar later vertrek hy weer na die Kaap, aanvanklik om sy ongevulde pos as fiskaal weer te aanvaar, maar vanweë Ryk Tulbagh se dood, word hy as goewerneur aangestel. Hy sterf egter op 23 Januarie 1773 op see onderweg na die Kaap. Hy ontvang ’n luisterryke militêre begrafnis op 12 April 1773 en word onder die plavei van die NG Kerk (later die Groote Kerk) begrawe. Die sierlike grafsteen met sy wapen is nog te sien in die buitemuur van die kerk waar dit ingemessel is.

1817 – Jan Gerritze Bantjes, onderwyser en sekretaris aan die voorlopige Voortrekker-administrasie en aan kmdt.-genl. Andries Pretorius († 10 Maart 1887)

Jan Gerritze Bantjes was ’n Voortrekker. Hy sluit hom op Nuwejaarsdag 1837 aan by die Voortrekkerlaer op Thaba Nchu en vergesel Andries Pretorius die volgende jaar op sy Wenkommando en hou die joernaal van die ekspedisie. In 1839 vestig hy hom op Pietermaritzburg as prokureur, maar keer in 1840 terug na die Kaapkolonie. In 1848 tree hy op as onderwyser en “Klerk van den Kerkraad” op Fauresmith. Hy word in 1865 onderwyser op Potchefstroom waar hy in 1887 sterf.

 

Sterftes

1957 – Christiaan Maurits (CM) van den Heever, Afrikaanse skrywer en digter (* 27 Februarie 1902)

Christiaan Maurits van den Heever is op 27 Februarie 1902 in die Konsentrasiekamp by Norvalspont gebore – hy was van die min babas wat hierdie traumatiese omstandighede gedurende die Tweede Vryheidsoorlog oorleef het. Hy is op hierdie dag in 1957 oorlede. In 1924 verwerf hy sy MA-graad in Nederlands met lof aan die Grey-Universiteitskollege. In 1929 slaag hy in sy doktorale eksamen aan Utrecht waarna hy in 1932 sy doktorsgraad aan Unisa behaal met ’n proefskrif oor Totius. Van 1924 tot 1926 is hy joernalis, en van 1931 tot 1932 lektor aan die GUK. Daarna word hy hoogleraar aan die Universiteit van die Witwatersrand en ook departementshoof, wat hy 25 jaar lank bly. As skrywer het hy ’n groot prestasie behaal deur twee maal die Hertzogprys te verower – vir prosa en poësie. Sy eerste publikasie was die digbundel Stemmingsure, in 1926 uitgegee, en die novelle Op die plaas het in 1927 die lig gesien. Daarop het baie werke gevolg, wat hom lank een van Afrikaans se mees gelese skrywers gemaak het. Verskeie het gewilde voorgeskrewe boeke geword, en sommige is ook vertaal. In die sewentigerjare is Somer een van sy gewildste romans, verfilm. Op die Afrikaanse kulturele vlak het hy ook ’n vername rol gespeel. Hy was byvoorbeeld twee keer kulturele attaché in Nederland, lid van die Suid-Afrikaanse Akademie, stigterslid en tot met sy dood voorsitter van die Afrikaanse Skrywerskring, en voorsitter van die Afrikaanse Kunsvereniging.

1994 – Cora Marie, country-sangeres (* 3 Januarie 1953)

Daar was tot dusver min Afrikaanse kunstenaars wat country in Afrikaans kon sing. Cora-Marie, wat op hierdie dag as Cora Nell gebore is, was een van hulle. Sy het twee treffers op Springbok Radio se Top 20 gehad, naamlik “Gee haar ’n roos” en “Gee vir my ’n bietjie country”, wat onderskeidelik die sestiende en die twaalfde plek gehaal het. Sy het ook ’n aantal duetalbums saam met Kupido opgeneem, asook die Kersalbums, Die klokkespel, saam met Kupido, Johan Stemmet en Laurika Rauch, en Die klokkespel (Vrede) saam met Kupido, Sonja Herholdt en Eugene Havenga. In 1986 het sy met ’n aantal legendes soos Jurie Ferreira, Virginia Lee, Min Shaw en Al Debbo saamgespan en die album Goue treffers herleef, waarop sy hul grootste treffers saam met haar gesing het, vrygestel. Nadat sy in 1991 ’n nuwe platekontrak gekry het, het haar gesondheid begin agteruitgaan toe kanker by haar gediagnoseer is. Pleks daarvan om uit te tree, het sy tot die einde aangehou om albums op te neem en konserte te hou. Haar laaste album, U wil sal geskied, is onder moeilike omstandighede vanuit haar hospitaalbed opgeneem. Cora-Marie is op 8 Julie 1994 oorlede.

1997 – Francois Alwyn (FA) Venter, skrywer (* 21 November 1916)

FA Venter was ’n skrywer gedurende die 20ste eeu in Suid-Afrika en wenner van die Hertzogprys. Hy skryf ook onder die skuilname Meiring Fouché, René Stegmann, Marius de Jongh en Elske te Water.

1999 – Stephan Bouwer, digter, liriekskrywer en akteur (* 1948)

2014 – Braam Raubenheimer, voormalige politikus en minister van waterwese (* 1920)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/