7 DESEMBER
December 7, 2016
9 DESEMBER
December 9, 2016

Gebeure

1880 – Die Paardekraal-volksvergadering vind plaas in die nou Krugersdorp

1899 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Rensburgstasie, Colesberg

1899 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Lombardskop

1939 – Die Reddingsdaadbond (RDB) gestig

Die ekonomiese terugslag wat die Afrikaner aan die begin van die vorige eeu getref het, hoofsaaklik as nadraai van die verwoestingsbeleid wat die Engelse militêre owerheid in die Tweede Vryheidsoorlog toegepas het, het teen die jare 1930 skrikwekkende gevolge getoon. Die droogte en die groot depressie van die beginjare dertig het die toestand vererger, en ’n armblankevraagstuk van enorme omvang het ontstaan: 300 000 Afrikaners uit ’n bietjie meer as ’n miljoen, was ekonomies verarm.

Dr. JD Kestell het gepleit om ’n landwye reddingsdaad. Aanvanklik het dit op dowe ore geval maar die Simboliese Ossewatrek van 1938 het die geesdrif gewek vir ’n reddingsdaad wat ongekende afmetings sou bereik. Teen daardie tyd het die FAK reeds deur sy Afrikaanse Nasionale Kultuurraad besluit om ’n volkskongres byeen te roep met die sentrale tema “Die Toekoms van die Afrikaner”, met die klem op die Afrikaner se ekonomiese toekoms.

In ’n persverklaring oor die beoogde volkskongres wat op 24 Januarie 1939 uitgereik is, sê die sekretaris van die FAK onder meer: “Waar 1938 bekend sal staan as die jaar van geesdriftige en saambindende volksfeeste ter huldiging van die voorgeslag, moet 1939 staan as die jaar van ’n selfreddende volksdaad wat sal getuig van die gesonde ondernemingskrag van ons volk in belang van sy ekonomiese selfstandigheid. Dit moet ’n volksdaad word wat alle vorige pogings van selfredding van ons ekonomiese knegskap, soos dit in die steeds toenemende armblankedom geopenbaar word, sal inlui.”

Op die Volkskongres wat op 3, 4 en 5  Oktober 1939 in Bloemfontein deur 757 afgevaardigdes uit alle dele van die land bygewoon is, is die ekonomiese selfreddingskema van die Volkskongreskomitee geesdriftig aanvaar.

As een van die onderdele van die geheelskema, is besluit dat “een groot volksorganisasie, Christelik-nasionaal in sy grondslag,” tot stand moet kom om die spaarkrag, koopkrag en die produktiewe vryetydsbesteding van die Afrikaner in eie belang te mobiliseer. Hierdie besluit was as gevolg van die regstreekse leiding tot die stigting van die Reddingsdaadbond (RDB) op 8 Desember.

Dr. N Diederichs is as die eerste hoofleier van die RDB aangewys, en ds. Jac Conradie as voorsitter van die Uitvoerende Raad, ’n pos wat hy dwarsdeur die bestaan van die RDB beklee het. Die RDB se doelstellinge was soos volg bepaal in artikel 4 van sy statute:
a.         Die bevordering van ekonomiese selfstandigheid
b.         Die organisering van arbeidskrag
c.         Die organisering van die volk se vryetydsbesteding
d.         Boere- en Vroue-organisasies
e.         Vakkundige, tegniese en handelsopleiding
f.          Voorligting op ekonomiese gebied
g.         Die oprigting van ’n eie spreekbuis: Inspan
h.         Kultuurwerk
i.          ’n Algemene gesondheidsraad
j.          Geldinsameling

Die RDB het met sy landwye takke, waarvan die eerste in Februarie 1940 in Bloemfontein gestig is, die Afrikaner ekonomies bewus gemaak en sy vooroordeel teen kapitaalbeleggings in sake-ondernemings geleidelik afgebreek. Na ’n bestaan van vyf jaar het die RDB in 1945 byna 400 takke en 70 000 lede gehad, wat elkeen 5 sent (6d = pennies) per maand aan ledegeld betaal het: 2d vir administrasiedoeleindes, 2d as premie op ’n lewenspolis van 10 pond per lid en 2d as kommissie aan die kollektante van ledegeld.

In die woorde van dr. Diederichs was die RDB die “kragtigste beweging van ons tyd” – 1945. Honderde ondernemings is regstreeks of onregstreeks deur die RDB tot stand gebring en honderde het voorligting gekry of is met hul studie gehelp. Die vernaamste eerste uitvloeisels van die RDB was die Federale Volksbeleggings, waarin 36 050 pond in belê is. Daarby tel die Afrikaanse Handelsinstituut in 1942. Nadat sy taak en opdrag binne die raamwerk van die Ekonomiese Volkskongres afgehandel was, het die Reddingsdaadbond op sy kongres van 28 Februarie 1957 homself eervol ontbind.

 

Geboortes

1799 – Johannes Henricus (Hans Dons) de Lange, Voortrekkerverkenner († 26 Maart 1861)

Johannes Henricus de Lange (sy bynaam Hans Dons was waarskynlik toe te skryf aan sy yl koperblonde kennebaard) is in Graaff-Reinet gebore. Hy het hom uit die distrik Albanie by die Groot Trek na Natal aangesluit. Natal, wat hy in 1832 op ’n jagtog en in 1834 as lid van Piet Uys se verkenningstog besoek het, het hom bekoor. Hierdie skoonseun van Piet Retief was ’n groot, ruwe, onverskrokke jagter, baasverkenner en krygsman, wat hom o.m. in die Slag by Bloedrivier onderskei het. Elf dae later het hy die Trekkers van uitwissing gered deur die Karel Landman-kommando, wat uit sowat 300 ruiters bestaan het, uit ’n Zoeloe-hinderlaag in die Wit Umfolozi-vallei te red. In sy avontuurlike verblyf van 23 jaar in Natal het hy die wel en wee van die Trekkers meegemaak. Sy seun, Johannes Hendrik (gedoop op 10 Desember 1837), was die eerste Trekkerkind wat in Natal gebore is. Op 26 Maart 1861 is Hans Dons de Lange in Ladysmith tereggestel weens beweerde moord op ’n swart man, Ncatiya. Hy is begrawe op die plaas Driefontein, van sy skoonseun Izak (Leeuboud) van Niekerk, waar op 31 Mei 1955 ’n gedenkteken onthul is.

1913 – Sir De Villiers Graaff, leier van die Verenigde Party (1956 tot 1977) († 4 Oktober 1999)

Sir David Pieter de Villiers Graaff, of sir De Villiers Graaff soos hy algemeen bekend gestaan het, was van 1956 tot 1977 leier van die Verenigde Party en dus leier van die Amptelike Opposisie in die Volksraad, en ’n kort rukkie lank die tussentydse leier van die Nuwe Republiek Party.

 

Sterftes

1914 – Christiaan Frederik (CF) Beyers, Boeregeneraal, prokureur en leier in die Maritz-rebellie van 1914 (* 23 September 1869)

Christiaan Frederik Beyers is op hierdie dag op Banhoek, Stellenbosch, gebore en het ook skool- en tersiêre onderrig op Stellenbosch ondergaan voordat hy met sy eie prokureurspraktyk op Boksburg begin het. As kryger in die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902 trek hy met sy onverskrokkenheid en kragtige persoonlikheid gou die aandag van kmdt-genl Louis Botha en word hy op 3 September 1900 as assistent-generaal in die distrikte Waterberg en Soutpansberg aangestel. Hy onderskei hom in die querrilla-taktiek. Genl. CF Beyers was ’n opregte Christen na wie die volk opgesien het, veral in 1914. Hulle het gewag om te sien wat hy gaan doen en hom dan gevolg, ’n groot leier in eie reg. Op 15 April 1902 word hy met die oog op vredesamesprekinge na Vereeniging ontbied, Beyers word tot voorsitter van die vergadering van Boere-afgevaardigdes verkies. Ná die oorlog keer hy terug na sy regspraktyk, dié keer in Pretoria. Hy word lid van die hoofkomitee van die Het-Volk-party, maar neem standpunt in teen genl. Botha en Smuts se versoeningsbeleid. Genl. Botha neem hom nie in sy Transvaalse kabinet op nie, maar hy word tot Speaker van die Wetgewende Vergadering verkies. Met die Uniewording is hy weer Volksraadslid, en bly hy dit tot 1 Julie 1912 toe hy die eerste kommandant-generaal van die pas gestigte Unie-Verdedigingsmag word. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 is genl. Beyers gekant teen die regeringsbesluit om op versoek van die Britse regering Duits-Suidwes-Afrika binne te val, en dit lei tot sy bedanking as kommandant-generaal op 15 September 1914. Hy het self op 9 Oktober daadwerklik begin rebelleer, hoewel hy vroeër in noue voeling met die rebelle was – hy het genl. Koos de la Rey vergesel op die rit waarop genl. De la Rey in Langlaagte, Johannesburg, deur die polisie doodgeskiet is. Beyers se rebellemag het verskeie terugslae ervaar, en in ’n omsingelingsaksie deur die regeringsmagte by die Vaalrivier in die distrik Makwassie was gevangeneming onafwendbaar. Hy en een van sy manne, Jan Pieterse, probeer op 8 Desember 1914 deur die rivier vlug. Jan Pieterse, ’n Vrystater van Bothaville, verdrink waarna die generaal na die Vrystaatse kant terugswem. Nadat ds. Boshoff namens die rebelle die teken van oorgawe aangedui het, het die skietery opgehou. Tog, toe genl. Beyers uit die water wou klim, het daar verraderlik nog ’n skoot geval en hy het plotseling weggesink om nie weer lewend te verskyn nie. Hy is egter klaarblyklik nie raakgeskiet nie, want na ’n deeglike lykskouing het dr. Grünberger verklaar dat die generaal nie getref was nie. Sy lyk is eers twee dae later onder die vloedwaters van die Vaalrivier gevind … en uit sy bandelier het nie ’n enkele patroon ontbreek nie, want hy kon dit nie regkry om op sy volksgenote te skiet nie. Genl. CF Beyers was ’n groot Christen-Afrikaner, na wie die Afrikaners opgesien het, veral in 1914. Hulle het gewag om te sien wat hy gaan doen, en hom dan gevolg.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/