6 OKTOBER
October 6, 2015
8 OKTOBER
October 8, 2015

Gebeure

Geen

 

Geboortes

1854 – Christiaan Rudolf (CR) de Wet, Boeregeneraal tydens die Anglo-Boereoorlog en rebellieleier († 3 Februarie 1922)

Christiaan Rudolf De Wet was ’n Boeregeneraal tydens die Anglo-Boereoorlog. Hy is te Leeukop naby Smithfield in die Oranje-Vrystaat gebore.

1885 – Stephanus Johannes Paulus (Fanie) Eloff, gesiene beeldhouer en kleinseun van Paul Kruger († 20 November 1947)

Fanie Eloff was ’n gesiene Suid-Afrikaanse beeldhouer. Hy is in die Transvaal gebore en was ’n kleinseun van Paul en Gezina Kruger. Sy vader was Frederik Christoffel Eloff, eienaar van die plaas Eloffsdal waarop die Pretoriase voorstad Capital Park uitgelê is, en sy moeder Elsie Eloff-Kruger.

 

Sterftes

1943 – Paul Nel, veldprediker, leraar van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en moderator van die Transvaalse Kerk (* 26 Januarie 1867)

Na sy jeugjare op Greytown, het Paul Nel hom in 1892 aan die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch as predikant bekwaam. Hy het in verskeie gemeentes gearbei, maar sy naam is verbonde aan Ermelo, waar hy van 1907 tot met sy emeritaat in 1934 gestaan het. Sy besondere gawes van hoof en hart is gou deur sy kerk raakgesien, en so dien hy as skriba van die Transvaalse Sinode en van die Federale raad van NG Kerke. Telkemale was hy ook voorsitter van hierdie kerkvergaderinge. Hy was een van die predikante wat hom ook in die Engelse Oorlog by die vegtende burgers aangesluit het. Hy is gevange geneem by Elandslaagte, maar is kort daarna vrygelaat. Hy was een van die eerste pleitbesorgers vir die oprigting van die NG Kerk se Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria en dien later in die eerste Fakulteitskommissie. Hy is op 7 Oktober 1943 op Ermelo oorlede. 

1943 – Gustav Schoeman (Gustav) Preller, joernalis, historikus, taalstryder, kultuurman, skrywer en literêre kritikus (* 4 Oktober 1875)

Gustav Schoeman Preller kan met reg die nasionale geskiedskrywer van die Afrikaner genoem word alhoewel hy geen wetenskaplike geskiedskrywer was nie, maar hom as uitmuntende taalgebruiker en stilis in sy historiese werke openbaar het. Hy het op patriotiese wyse sy volk bewus gemaak van hulle geskiedenis. Hy is op hierdie dag in Pretoria gebore en was van moederskant ’n agterkleinkind van die Voortrekker, kmdt-genl. Stephanus Schoeman. Hy was getroud met Johanna Christina Pretorius, agterkleindogter van Piet Retief. Met nie veel skoolonderrig nie was hy agtereenvolgend winkelbediende, prokureursklerk, en ook hoofklerk in die Departement van Mynwese toe die Anglo-Boereoorlog in 1899 uitbreek. Terwyl hy as lid van die Staatsartillerie aan die oorlog deelneem, werk hy ook as oorlogskorrespondent veral vir De Volkstem en vier maande voor die einde van oorlog word hy as krygsgevangene na Indië gestuur. Terug in Suid-Afrika neem hy in Augustus 1902 die redakteurskap van Land en Volk van sy vriend Eugène Marais oor en begin sy joernalistieke loopbaan, waarin hy hom in besondere mate onderskei as veelsydige joernalis, maar ook, eers as assistentredakteur en redakteur van De Volkstem in 1903 tot 1925, en redakteur van Ons Vaderland, later Die Vaderland in 1925 tot 1936. Preller het hom in die jare onmiddellik na die Anglo-Boereoorlog openbaar as vurige pleitbesorger en stryder vir die gebruik en erkenning van sy moedertaal, Afrikaans, en sy reeks koerantartikels onder die titel Laatt ons toch ernst wezen! en Een voorstel ter handhaving en veredeling van het Afrikaans als schrijftaal (in 1905 in brosjurevorm uitgegee) word tereg die manifes van die Taalbeweging genoem. Preller wend hom veral tot die geskiedskrywing en produseer ’n hele aantal werke wat veral betrekking het op die twee groot momente in die geskiedenis van die Afrikanervolk: Die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog. Preller was ook deur en deur kultuurman, en het sy veelsydige begaafdheid gebruik om die Afrikaanse gedagte te bevorder. Sy werksaamhede is in 1931 bekroon met die toekenning van ’n eredoktorsgraad deur die Universiteit van Stellenbosch. Hy is op sy plaas Pelindaba naby die Hartbeespoortdam op 6 Oktober 1943 oorlede en in die familiekerkhof op die plaas begrawe waar in 1947 ’n gedenkplaat op sy graf onthul is.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/