Die nasionale monument vir die Britse Setlaars van 1820 in Grahamstad
July 6, 2015
8 JULIE
July 8, 2015

Gebeure

1501 – Oudste “poskantoor” in Suid-Afrika

Joas da Nova was ’n Portugese seevaarder op pad na Indië toe hy op hierdie dag in 1501 briewe en dokumente in ’n skoen wat aan ’n groot melkhoutboom naby die huidige Mosselbaai gehang het, gevind het. Die briewe is deur een van die bevelvoerders van die boot van Pedro Alvares Gabral in die jaar 1500 in daardie skoen aan die historiese boom geplaas om daardeur boodskappe en inligting aan verbygaande skepe oor te dra. Die Portugese het toe reeds om die Suidpunt van Afrika geseil nadat Bartholomeu Dias en Vasco da Gama die seeweg na die Ooste vasgestel het. Die melkhoutboom moet derhalwe as die oudste poskantoor in Suid-Afrika beskou word. Dit staan klaarblyklik vandag nog daar en is seker meer as ’n duisend jaar oud, want dit was toe reeds ’n groot boom. Die boom is voor 1994 goed bewaar en ’n posbus is daar naby in die vorm van ’n skoen opgerig. Toe kon besoekers briewe in daardie skoenposbus pos, en dit het ’n datumstempel daarop met die woorde in albei landstale gekry: “Ou Poskantoorboom, Mosselbaai”. Bartholomeu Dias het daar naby die boom ’n fonteintjie met helder water gevind en dit die Baai of Waterhaalplek van Sint Blasius genoem. Daardie omgewing van die boom het in 1601 die naam Mosselbaai gekry toe die Nederlandse seevaarder, Paulus van Gaerden, die plek besoek en net mossels as voedsel aangetref het.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Slag om Bethlehem

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Bapsfontein, ZAR

1940 – Federale Volksbeleggings Beperk (FVB) geregistreer

“’n Volk red homself” was die wekroep wat wyle Vader Kestell laat in die dertigerjare tot die Afrikaanssprekendes gerig het. Hierdie wekroep is gebore uit die nood van die Afrikaner, voortspruitende uit droogtes en die depressiejare.  Daar is tot in daardie stadium in ’n groot mate aanvaar dat die Afrikaner nie geskik is vir die handel en nywerheid nie. Toe kom die eerste Ekonomiese Volkskongres van 1939, wat deur die FAK georganiseer is, waar die toetrede van die Afrikaner tot die handel en nywerheid bepleit is. Ingevolge ’n besluit van die kongres word Federale Volksbeleggings Beperk op 8 Julie 1940 finaal geregistreer. Ondanks geweldige teenkanting, veral in die eerste tien jaar, het FVB ’n pad geloop waar daar nie alleen omgesien is na die beste belange van sy aandeelhouers nie, maar ook na die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse ekonomie as geheel. ’n Kenmerk van die Federale Groep was sy besondere vermoë om suksesvolle vennootskappe met ander Suid-Afrikaanse en oorsese groepe aan te gaan. Dit het die groep in ’n posisie geplaas van waar hy saam met die sterkgroeiende ekonomie van die Republiek kon voortbeweeg en uitbrei sonder om sy identiteit te verloor.

1943 – Henning J. Klopper as parlementslid verkies

Henning J. Klopper word as parlementslid vir Vredefort (OFS) verkies en verlaat die spoorwegdiens. Hy word in 1961 as speaker van die Volksraad aangewys.

1970 – Ds. David Petrus Matthys Beukes word die vierde voorsitter van die FAK

David Petrus Matthys Beukes, gebore op 1 Mei 1915 op Bultfontein in die Vrystaat, word tot die vierde voorsitter van die FAK gekies. Hy het in die NG Kerk ook sterk leiding geneem, veral as moderator van die Suid-Transvaalse Sinode (twee termyne) en die Algemene Sinode (1974 tot 1978). Hy was voorsitter van die FAK tot in 1976 toe hy uitgetree het en deur professor B Kok opgevolg is.

 

Geboortes

1889 – Prof. Maria Fismer, musiekopvoedkundige († 3 Junie 1953)

Maria van der Lingen Fismer (nooiensvan Von Wielligh) is op 7 Julie 1889 in die Paarl gebore as die tweede kind van die bekende Afrikaanse skrywer GR von Wielligh. Haar musiektalent het sy van haar moeder gekry, wat ’n dogter was van die bekende musikus Jan S de Villiers (Jan Orrelis) en ook ’n kleindogter van die ewe bekende ds. GW van der Lingen, albei van die Paarl. Na ’n baie suksesvolle loopbaan as musiekpedagoog op Robertson en op Stellenbosch word sy in 1939 die eerste volle professor van musiek aan die Universiteit van Stellenbosch, ’n pos wat sy met eer beklee tot by haar aftrede in 1951 weens swak gesondheid. Sy is waarskynlik die dame wat die grootste invloed uitgeoefen het op die musiekonderwys in Suid-Afrika. In 1952 word sy deur die SA Akademie bekroon met ’n erepenning vir musiek en deur die Universiteit van Stellenbosch met ’n eredoktorsgraad.

1890 – Albertus Johannes Roux van Rhijn, eerste hoofredakteur van Die Volksblad, lid van die parlement en administrateur van Suidwes-Afrika († 31 Desember 1971)

Die veelsydige, toegewyde Albertus Johannes Roux van Rhijn is gebore op Vanrhynsdorp, wat na sy oupa genoem is. Nadat hy onderwyser, lektor, skoolhoof en ook president van die Onderwysunie was, word hy in 1925 die eerste hoofredakteur van Die Volksblad as dagkoerant – ’n betrekking wat hy 23 jaar beklee. Daarna word hy Volksraadlid, Administrateur van Suidwes-Afrika, Minister van Gesondheid en Mynwese en later Minister van Ekonomiese Sake. As 68-jarige is hy aangewys as Hoë Kommissaris in Londen – die eerste Kabinetslid wat ’n buitelandse amp vul. Tot kort voor sy dood op 31 Desember 1971 was hy nog bedrywig in verskeie direksies en rade. Met sy fyn humorsin, so eie aan die mense van die Noordweste, was hy ook ’n baasstorieverteller. Hy het veral oor die radio naam gemaak met sy Oom Andries-verhale.

1907 – Frederik Louis Benjamin (Oom Frikkie) Burgers, Suid-Afrikaanse vermaakkunstenaar, radio- en rolprentpersoonlikheid en orrelis († 16 Julie 1967)

 

Sterftes

1943 – Pieter Willem Adriaan Mulder, Boerekryger, kommandant in die Rebellie van 1914 en toegewyde kampvegter vir Afrikaans (* 29 Januarie 1878)

Pieter Willem Adriaan Mulder is op Muldersdrif, Transvaal, gebore. Sy vurige idealisme vir die Afrikanersaak het daartoe gelei dat hy ’n dapper vegter in die Engelse Oorlog (1899 tot 1902) was, tronkstraf as kommandant in die Rebellie (1914) opgelê is en ’n toegewyde kampvegter vir Afrikaans as landstaal geword het. Hy sterf op 7 Julie 1943 in Pretoria.

1980 – Johannes Meintjes, kunsskilder en skrywer (* 19 Mei 1923)

Johannes Meintjes was ’n kunsskilder, beeldhouer, amateur-geskiedkundige, skrywer en dramaturg.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/