6 JANUARIE
January 6, 2016
8 JANUARIE
January 8, 2016

Gebeure

1806 – Britse magte land by Melkbosstrand met 36 soldate wat verdrink

In 1805 besluit die Britte om na Suid-Afrika terug te keer, hierdie keer vir goed. Die Franse het ’n vernederende nederlaag in die Slag van Trafalgar gely, maar steeds was hul vloot gedug; met die Kaap as ’n veilige basis en Mauritius ook in Britse hande, kon die Koninklike Vloot die suidelike oseane oorheers.

In Augustus 1805, toe Napoleon by Boulogne magte gemobiliseer het om Engeland binne te val, vaar ’n Britse mag op ’n geheime sending om die Kaap weer in te neem. Dit het bestaan ​​uit 61 oorlogs- en vragskepe onder bevel van vise-admiraal Sir Home Popham en 6 654 soldate en mariniers onder majoor-generaal sir David Baird. Dit was inderdaad ‘n formidabele mag, omdat hy na die 1795-inval daar diens gedoen het.

Die Slag van Blaauwberg was ’n baie klein gebeurtenis. Nietemin sou die uitslag daarvan ’n baie groot uitwerking op die geskiedenis van Suid-Afrika en Suider-Afrika hê.

’n Britse vloot van 61 skepe, waaronder nege oorlogskepe, het in Tafelbaai aangekom. Daar was ’n huilende suidoos wat die omstandighede in Tafelbaai so sleg gemaak het sodat Popham tot die gevolgtrekking gekom het dat hy nie in staat sou wees om aan land te gaan nie, en het ’n deel van sy mag na Saldanhabaai gestuur om daar aan land te gaan en dan na Kaapstad op te ruk. Maar toe het die wind en die see in ’n sekere mate gekalmeer, en Popham het besluit om tog te waag om aan land te gaan.

Op 7 Januarie 1806 het Popham beveel dat ’n klein vragskip langs ’n sandbank by Losperdsbaai (nou Melkbos) gesink word om breekwater te vorm, en Baird het sy troepe aan land gestuur, hoewel die see nog rof was. Een bootvrag van die 93ste Highlanders het omgeval en 36 soldate het verdrink.

 1826 – Die oudste proewe van briewe in Afrikaans

Op hierdie datum het die eerste blad – ’n weekblad wat in die Hollandse taal aan die Kaap uitgegee is – verskyn. Sy naam was De Verzamelaar, sy redakteur J Suaso de Lima (1791–1858) van Kaapstad. De Lima wou nuttige, leersame en vermaaklike leesstof verskaf. Vir die koddigheid is onder meer gesorg deur ’n aantal briewe wat die redakteur self onder skuilname in die Biedermeier-styl geskryf het en wel in ’n taal wat ons vroeë Afrikaans kan noem – soos gepraat deur die gegoede stand buitemense. Die eerste is van Jan Tanoe van Poppetjeskloof op 1 Julie 1826, waarin hy grappig kla oor die geblaf van die strandhonde snags. Jan Hennepikker van Waterschildpadskuyvallei kla oor die lang adresname van veldkornette – as hulle korter was, kon ’n kalbas ink per jaar bespaar word. Die doktersvrou, Grietjie Geldenaar, is ontevrede oor die gebrek aan kleingeld. Die briewe was inderdaad vermaaklik, veral die twee van die modesugtige jong plattelandse nooi Mietjie, wat in Kaapstad kuier.

1876 – Die volkslied van die ZAR eerste keer in openbaar uitgevoer

Die volkslied van die Zuid-Afrikaansche Republiek is deur Catharina van Rees gekomponeer. Dit word op hierdie dag die eerste keer op Arnhem in die openbaar uitgevoer.

Kent gij dat volk vol heldemoed

En toch zo lang geknecht?

Het heeft geofferd goed en bloed

Voor vrijheid  en voor recht.

Komt , burgers! laat de vlaggen wapp’ren:

Ons lijden is voorbij;

Roemt in de zege onzer

dapp’ren: Dat vrije volk zijn wij!

Dat vrije volk, Dat vrije volk,

Dat vrije , vrije volk zijn wij!

 

Ken gij dat land, zo schaars bezoht

En toch zo heerlik schoon;

Waar de natuur haar wond’ren wrocht

En kwistig stel te toon?

Transvalers ! laat ons feestlied schallen!

Daar, waar ons volk hield stand,

Waar onze vreugde schoten

knallen, Daar is ons vaderland!

Dat heerlik land, Dat heerlik land,

Dat is, dat is ons vaderland!

1901 – Anglo-Boereoorlog: Aanval op Belfast/Machadodorp-spoorlyn, Transvaal

Republikeinse magte val die Delagoabaai-spoorlyn oor ’n afstand van byna 60 km in digte mis aan. Daar was veral gefokus op Belfast en Monument Hill waar onder meer genl. Smith-Dorien in beheer was. Generaal Ben Viljoen, en Chris Muller  was gesamentlik dog afsonderlik verantwoordelik vir die aksie gewees. Aan Britse kant sneuwel 24 man, is 78 gewond en word 70 gevang.

1903 – Boeregeneraals terug in Pretoria na ’n fondsinsamelingsveldtog in Europa

Op hierdie dag arriveer genls. Louis Botha, CR de Wet en Koos de la Rey in Pretoria nadat hulle twee maande ná die beëindiging van die Anglo-Boereoorlog deur die Hoofkomitee van Boereverteenwoordigers na Europa afgevaardig is om fondse in te samel vir die ekonomiese herstel van die Boere wat deur die oorlog verarm is. Tydens samesprekings met Chamberlain het die Koloniale Sekretaris onderneem om meer geld vir die ekonomiese herstel van die Transvaal te probeer verkry.

In ’n poging om groot skenkings in Nederland en België te genereer, het Botha ’n pamflet getiteld “Beroep der Boeren op die Beschaafde Wereld” opgestel – wat in Nederlands, Frans en Duits vertaal is – waarin hy die haglike toestand van die naoorlogse Boererepublieke, as gevolg van die Britse verskroeideaardebeleid, geskets het. Die inhoud hiervan het opslae in die Britse pers veroorsaak en byna ’n breuk tussen die afvaardiging en Chamberlain veroorsaak. Dit het ook nie in Nederland en België die gewenste uitwerking gehad nie en slegs ’n bykomende £125 000 is ingesamel.       

Botha het ’n tweede artikel, “The Boers and the Empire”, in The Contemporary Review van November 1902, daarop gewys dat ’n groter geldelike bydrae van Britse kant ’n menslike gebaar en doeltreffende politiek sou wees. Hy het ook die afvaardiging se optrede op die vasteland verdedig en breedvoerig op die kritiek van die pers geantwoord. Botha het sy gevoel soos volg uitgedruk: “A man whose father, sons or brothers have already been killed in a quarrel may forgive the slayer, to live in peace, to become his fellow-worker in a good cause, to hope and endeavour to become his friend; but can he be expected to do more before the first blades of grass have sprung up on the graves of those so dear to him?” Kort daarna het die Britse regering ‘n bykomende £8 miljoen as kompensasie aan die eertydse Boererepublieke beskikbaar gestel.

1914 – Stigtingskongres van die Nasionale Party in die OVS

Die politieke situasie in Suid-Afrika en veral onmiddellik na die Uniewording was van so ’n aard dat dit vir ’n sekere groep Afrikanerpolitici onmoontlik geword het om aan hulle politieke beskouinge binne die geledere van die Suid-Afrikaanse Party van genl. Louis Botha uiting te gee. In die lig daarvan, het afgevaardigdes van Transvaal, Kaapland en die Vrystaat van 7 tot 9 Januarie 1914 in die Ramblerssaal in Bloemfontein vergader. Op die kongres is ’n Program van Beginsels goedgekeur wat die amptelike beleid van “De Nationale Partij” sou uitmaak as daar nie voor 1 Julie 1914 tot ’n vergelyk met die SA Party gekom kon word nie. Dit was ’n stryd wat wesenlik rondom die twee begrippe van Afrikanernasionalisme en Britse imperialisme gesentreer het. Dit was egter duidelik dat die breuk nie geheel sou kon word nie en ’n komitee met genl. JBM Hertzog as voorsitter en genl. CR de Wet as ondervoorsitter, tesame met elf ander lede, is belas met die stigting van dié Party. Die Nasionale Party wat dan formeel op 1 Julie 1914 deur genl. Hertzog op Smithfield gestig is, het reeds finale beslag op 7 Januarie 1914 gekry.

 

Geboortes

1871 – Fredericus Jacobus Leonardus (Frederik) Rompel, joernalis en parlementêre verslaggewer van De Volksstem in die Suid-Afrikaanse Republiek (ZAR) († 1 April 1940)

Fredericus Jacobus Leonardus Rompel, ’n gebore Nederlander, het in 1895 na Suid-Afrika gekom en parlementêre verslaggewer van De Volkstem geword voordat hy in 1900 as oorlogskorrespondent in Bloemfontein gevang is. Na sy vrylating keer hy terug na Nederland en beywer hom vurig vir die saak van die Boere. In 1912 keer hy terug na Suid-Afrika, sluit by dieselfde koerantredaksie aan, word oorgeplaas na Die Burger en skryf onder andere die volgende werke: Uit den Tweede Vrijheidsoorlog, Marthinus Theunis Steyn en Van alle kante. Hy is op 1 April 1940 in Kaapstad oorlede.

1905 – Coert Steynberg, internasionaal-bekroonde beeldhouer en ontwerper († 28 Julie 1982)

Coert Steynberg was ’n internasionaal-bekroonde beeldhouer en ontwerper.

1917 – Sarel Jacob Pretorius, digter, joernalis, professor en omroeper († 31 Maart 1995)

1966 – Corrie Sanders, Suid-Afrikaanse bokser († 23 September 2012)

Corrie Sanders was ’n wêreldbokskampioen wat van 1989 tot 2008 aan professionele boks deelgeneem het. Hy het altesaam 42 gevegte in sy professionele loopbaan gewen en vier verloor. Hy is op 23 September 2012 dood nadat hy tydens ’n gewapende rooftog geskiet is.

 

Sterftes

1814 – Ds. Hendrik Willem Ballot, predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk en ’n kranige boekversamelaar (* 1766)

Hendrik Willem Ballot is in Iserlohn, Wesfale, Duitsland, in 1766/67 gebore. Hy word in 1790 in Leiden georden, nadat hy sy kursus met lof afgelê het. Daarna vertrek hy en sy gade, Hermijnganda van Lil, na Malakka as predikant van die VOC. Gedurende 1797 kom hy en sy gesin na die Kaap. Na ’n paar maande op Tulbagh, word hy predikant op Graaff-Reinet. Daar sterf sy vrou en word die moederkerk ook feitlik voltooi. Ballot bevind hom midde-in die woelinge aan die oosgrens en leer Maynier ken, wat hom telkens versoek om die gemoedere van die burgers te kalmeer, veral na die inhegtenisneming van Adriaan van Jaarsveld. Teen 1801 keer Ballot terug na die Kaap en trou met Elizabeth W Cruywagen. Uit hierdie huwelik is een kind, die latere ds. Stephen S Ballot, gebore. Na ’n kort en ongelukkige verblyf op Swellendam word hy in 1803 die leraar van Tulbagh (Roodezand), waar hy tot met sy dood in 1814 arbei. Hy is begrawe voor die preekstoel van die historiese Tulbagh-kerk, wat ’n museum word. Met sy koms na die Kaap, het Ballot ’n omvangryke boekeversameling saamgebring en dit verder uitgebrei, sodat dit mettertyd uit sowat 950 boeke bestaan het. Dit bevat godsdienstige boeke van die sewentiende en agttiende eeu en ook werke van Calvyn. Benewens ’n hoeveelheid Latynse en Griekse klassieke, is daar ook reisbeskrywings, woordeboeke, grammatikas en werke oor die geneeskunde en geskiedenis. Die versameling word in die biblioteek aan die Universiteit van Kaapstad bewaar.

2008 – Alwyn Louis Schlebusch, politikus en staatsman (* 16 September 1917)

Net een man het die amp van vise-staatspresident beklee toe die Nasionale Party in Suid-Afrika aan bewind was.

Alwyn Louis Schlebusch is op 16 September 1917 gebore en was in die 1940’s die burgemeester van Hennenman in die Vrystaat. Hy was van 1962 tot 1980 die Volksraadslid van Kroonstad en het die portefeuljes van Openbare Werke en Immigrasie en Justisie in die kabinet beklee. Hy was ook die voorsitter van die kommissie wat die buitelandse befondsing van anti-apartheidsorganisasies afgesny het en op hul bates beslag gelê het. Toe die Senaat in 1981 ontbind het, was hy die voorsitter van die Presidentsraad wat die 1983-grondwet, wat voorsiening vir ’n uitvoerende Staatspresident eerder as ’n seremoniële Staatspresident en ’n Eerste Minister gemaak het. In hierdie tyd het hy as vise-staatspresident gedien. Toe die nuwe grondwet in 1984 in werking getree het, is daar met hierdie amp weggedoen.

 

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org

https://en.wikipedia.org/

http://samilitaryhistory.org/

http://capetownhistory.com/