6 AUGUSTUS
August 6, 2015
8 AUGUSTUS
August 8, 2015

Gebeure

1795 – Die Slag van Muizenberg

Die eerste Britse oorname van die Kaap het nie eintlik plaasgevind omdat die Britte op daardie stadium die Kaap in besit wou neem nie, maar omdat hulle die Kaap wou help verdedig teen ’n moontlike Franse oorname. Die Britte het Goewerneur Sluysken aan die Kaap versoek om hulle magte hier te laat land, omdat Franse besit van die Kaap die Britse handel met die Ooste ernstig sou benadeel. Sluysken het die versoek oorweeg, maar hy en die Politieke Raad het die Britte nie vertrou nie en het besluit om die Kaap teen enige invaller te verdedig.

Op 7 Augustus het die Britte voet aan wal gesit by Simonstad en die Kaap van daardie kant genader. Die Kapenaars was voorbereid en het hul magte saamgetrek op Muizenberg se strand. Lt-kol. de Lille het egter baie gou oorgegee en die Muizenberg-kamp met ’n groot klomp ammunisie het in die Britse hande geval. Enkele offisiere het hul posisie manhaftig probeer verdedig, maar die vyand het hulle gedwing om terug te val. ’n Afdeling burgers van Swellendam het ook deelgeneem aan die Slag en die stelling moedig probeer verdedig. Mettertyd is die Britse magte aansienlik versterk en het hulle hulle gereed gemaak vir ’n volle aanslag op die Kaap wat hulle sonder veel teenstand bereik het. Vredesamesprekings het egter begin en die formele oorname deur die Britte het op 16 September 1795 plaasgevind.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Slag om Tygerpoort (Venterskroon)

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Amersfoort (Rooikoppies)

1901 – Anglo-Boereoorlog: Kommandant Manie Maritz val Vanrhynsdorp in die Kaapprovinsie aan

1901 – Anglo-Boereoorlog: Slag van Fort Mpisane

Die Slag van Fort Mpisane, die laaste groot geveg van hierdie oorlog in die Laeveld.

1998 – Die Nasionale Pers verander sy naam amptelik na Naspers.

 

Geboortes

1881 – Ernest George (EG) Jansen, Suid-Afrikaanse politikus en agste goewerneur-generaal van Suid-Afrika (1951–1959) († 25 November 1959)

Sy Eksellensie dr. EG Jansen is om 10.20 nm. op Woensdag 25 November 1959 na ’n lang lyding stil aan die Goewerneurswoning te Pretoria oorlede. Daarmee is ’n lewe van oor die 78 jaar afgesluit waarvan meer as ’n halwe eeu ononderbroke aan diens van taal, volk en land gewy was. Bowendien val ’n belangrike deel van die bewoëndste tydperk uit ons volksgeskiedenis saam met die lewensplanne van die oorledene, en op meer as een terrein daarvan het hy op die voorgrond gestaan. Die eerste lewenslig het hy aanskou net ’n paar maande na die Boereoorwinning op Amajubaheuwel en vier dae na die ondertekening van die Konvensie van Pretoria waarmee die Suid-Afrikaanse Republiek sy onafhanklikheid herwin en die Eerste Vryheidsoorlog beëindig is; sy eerste optrede in die openbare lewe val net na die tragedie van die Tweede Vryheidsoorlog toe die twee Boere-republieke hulle onafhanklikheid moes prysgee. Aan die heropbouing van die volk op kulturele, politieke en geestelike gebied het hy onvermoeid sy kragte bestee, maar dit was hom nie gegun om die dag saam te beleef dat die vier provinsies in ’n vergrote en onafhanklike Suid-Afrikaanse Republiek verenig is nie. Hy het meegewerk om die weg daartoe voor te berei, en as taal- en kerkman het hy sy volle deel gedoen, as politikus en joernalis die openbare mening gevorm, as speaker en goewerneur-generaal ’n voorbeeld van ’n gedragskode daargestel wat selfs sy heftigste teenstanders geloof het, en in die privaat as mens het hy slegs die hoogste beginsels uitgeleef. Om in hierdie kort berig aan so ’n lang en vrugbare lewe op so ’n breë front reg te laat geskied kan nie gebeur nie, sodat ek met ’n paar aanwysinge moet volstaan. Dit is te hope dat ’n goeie lewensbeskrywing binnekort die verhaal van hierdie volksman in wyer kring bekend sal maak, die verhaal van ’n eenvoudige Hollandse immigranteseun van die Natalse platteland wat die eerste Afrikaanstalige geword het om die hoogste pos in ons land te beklee. Ernst George Jansen is op 7 Augustus 1881 op die plaas Strathearne (vernoem na die landmeter) in die distrik Dundee gebore. Saam met drie broers en ’n suster het sy vader, toe dertien jaar oud, uit Nederland na Suid-Afrika uitgewyk en so teen 1875 in Noordelike Natal begin boer toe die land daar nog yl bewoon was en die jong Hollander sy bruid, ene nooi Wohlitz, voorlopig in rondawels moes laat bly.

1895 – Cecilia Wessels, operasangeres († 14 Desember 1970)

1913 – John van den Berg, Afrikaanse uitsaaier en skrywer († 27 Februarie 1974)

1916 – Lalie Beukes, Afrikaanse skrywer († 8 Mei 2009)

 

Sterftes

1965 – Dr. Cornelius Francois (Vader Visser), opvoedkundige en jeugbewegingsleier (* 26 Julie 1882)

1965 – Samuel Bonnin (S.B.) Hobson, Afrikaanse skrywer van dierestories (* 17 September 1888)

2000 – Tertius Willem Jacobus (Tolla) van der Merwe, storieverteller en komediant (* 21 Augustus 1943)

Tolla van der Merwe was ’n televisiepersoonlikheid, storieverteller en komediant. Hy was gereeld op SAUK2 se program Maak ’n Las te sien. Sy seun, die bekende Wicus van der Merwe, is self ’n noemenswaardige sanger.

2012 – Noreen Berry, Suid-Afrikaansgebore mezzosopraan (* 15 April 1931)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/