6 APRIL
November 1, 2016
8 APRIL
November 1, 2016

Gebeure

1652  Jan van Riebeeck stap aan wal
 Hoewel Jan van Riebeeck self 6 April 1652 met sy aankoms in Tafelbaai as die geboortedag van die nedersetting aan die Kaap bestempel het, het hy eers die volgende dag aan wal gegaan om te kyk waar die geskikste plek vir die bou van ’n fort sou wees. Aan land kom hulle twee Hottentotte teë. Met baie handgebare kon hulle met die inboorlinge kommunikeer. Nadat “den buijk met eeten ende drincken” gevul is, hoor van Riebeeck tot sy teleurstelling dat hulle maar net vissers is en dus nie vee kan verruil nie. Die Hottentotte van Saldanhabaai sal egter vee met die Hollanders kan verruil.

1844 – Die Boere van Potchefstroom en Winburg verklaar hul onafhanklikheid

1861 – Die “Nuwe Kerk” word in Pietermaritzburg ingewy

Op die Sondagoggend is die “Nuwe Kerk” van die Nederduits Gereformeerde gemeente Pietermaritzburg in ’n gees van nederige, diepe dankbaarheid ingewy. Dit is gebou op die halwe erf van Langmarkstraat 34. Ds. P Huet was toe predikant van die gemeente, en verskeie hooggeplaastes, soos die luitenant-goewerneur, die hoofregter en die sekretaris van naturellesake, het saam met die gemeente die inwydingsplegtigheid bygewoon. Dit was die tweede kerkgebou van die gemeente en is opgerig onmiddellik langs die eerste, die Geloftekerk, wat tans die Voortrekkermuseum is. Die twee geboue het min of meer dieselfde getal sitplekke gehad, maar die nuwe gebou het nodig geword omdat, soos dr. HE Faure – predikant van die gemeente in 1855 – op 18 Julie van daardie jaar aan die regering verklaar het, “the one at present in use is altogether in a state of dilapidation.”

Die oprigting van die “Nuwe Kerk” was vir die gemeente ’n besondere prestasie. Die mense was arm, en met groot moeite is die nodige geld gevind deur middel van kollektelyste en lenings en deur die verkoop van kerkgrond in die distrik. Vir Afrikaners van Pietermaritzburg in die besonder en Natal in die algemeen was die gebou baie jare lank ’n geestelike, en kulturele, swaartepunt. Onder sommige mense het die indruk posgevat dat die “Nuwe Kerk” die eintlike Geloftekerk is. Die moet waarskynlik daaraan toegeskrywe word dat hierdie tweede kerkgebou met soveel dankbaarheid en vreugde in ontvangs geneem is; en ook omdat, nadat die eerste gebou voltooi was, daar al gou die gedagte ontstaan het om, wanneer meer geld beskikbaar is, ’n nuwe kerkgebou op te rig – wat toe in werklikheid die “Nuwe Kerk” was. Hierdie indruk is egter nie korrek nie. Die eerste gebou, die huidige Voortrekkermuseum, is die ware Kerk van die Gelofte. Afdoende bewyse hiervoor vind ons onder meer in die kollektelyste wat reeds kort na die Slag by Bloedrivier rondgeneem is om geld en voorrade vir die oprigting van die gebou in te samel. Die redakteur van De Zuid-Afrikaan, CJ Brand van Kaapstad, wat aktief met die insameling gehelp het, skryf bv. op 13 Junie 1839 aan Andries Pretorius: “Ik heb eene intekening lyst alhier geopend tot bydragen van het opbouwen des tempels, welke gy den Heere hebt beloofd.”

1891 – Spoorlyn voltooi

Spoorlyn van Pietermaritzburg tot by die Transvaalse grens in Charlestown, naby Volksrust, word voltooi.

1902 – Cecil John Rhodes begrawe

Cecil John Rhodes is in die Matopo-heuwels in Rhodesië (tans Zimbambwe) begrawe.

1915 – Die stadsaal van Johannesburg ingewy

1961 – Hoeksteen van Gedenkkerk gelê

Die hoeksteen van die Gedenkkerk, geleë op dieselfde terrein as die Geloftekerk in Pietermaritzburg, word gelê. Die kerk is ook amptelik op hierdie dag gedurende 1962 in gebruik geneem. (Hierdie kerk was met ander woorde die derde kerk, op dieselfde terrein gebou. Die tweede een is gesloop.) Ook op hierdie dag is die standbeeld van Piet Retief, ook geleë op dieselfde terrein, onthul. Die onthulling is gedoen deur mev. Jansen, vrou van advokaat EG Jansen. Die beeld is deur Coert Steynberg gemaak.

1999 – Kgalagadi-oorgrenspark kom tot stand

Die Kgalagadi-oorgrenspark kom tot stand toe die Nasionale Kalahari-Gemsbokpark van Suid-Afrika en die Gemsbok Nasionale Park van Botswana as ’n enkele ekologiese eenheid saamsmelt.

 

Geboortes

1867 – Frans Oerder, Suid-Afrikaanse kunsskilder († 15 Julie 1944)

Frans Oerder is in Rotterdam gebore en kom in 1890 as jong kunstenaar na die ZAR, waar hy onder uiters moeilike omstandighede ’n bestaan moes maak. Hy het hom heeltemal met sy nuwe vaderland vereenselwig, want by die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog sluit hy hom by die Boerekommando’s aan. Sy sketse van Boere-tipes en Boere-aktiwiteite te velde, is van ons seldsaamste en kosbaarste Africana. Dit lewer tegelykertyd blyk van ’n suiwer waarnemingsvermoë en groot tekentalent. Oerder het ook die Suid-Afrikaanse landskap leer ken, en dit is merkwaardig hoe ’n Europees-geskoolde kunstenaar die gees van die Suid-Afrikaanse landskap kon begryp en so treffend kon weergee. Daardeur het hy die grondslag vir ’n egte Suid-Afrikaanse landskapskilderkuns gelê. Deur sy blomstudies, stillewens en portrette het hy egter ook groot bekendheid verwerf. Sy realistiese kuns het baie bygedra tot die begrip en waardering van die skilderkuns by die Afrikaner. Hy is op 15 Julie 1944 in Pretoria oorlede.

 

Sterftes

Geen

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/