President Paul Kruger – laaste boodskap aan sy volk
October 6, 2015
7 OKTOBER
October 7, 2015

Gebeure

1654 – Houtbaai as woonplek vir Nederlandse gesinne

Die direkteure van die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie (Here XVII) stel Houtbaai aan Jan van Riebeeck voor as moontlike gebied om sommige Nederlandse gesinne te vestig.

1836 – Die Slag van Vegkop

1900 – Tweede Vryheidsoorlog: Oranje-Vrystaat geannekseer

Die Oranje-Vrystaat word amptelik deur die Verenigde Koninkryk geannekseer as die Oranjerivierkolonie.

1902 – Die spoorlyn tussen Kaapstad en Beira in Mosambiek voltooi

Op 6 Oktober 1902 is die 3200 km lange spoorlyn tussen Kaapstad, Suid-Afrika en Beira in Mosambiek voltooi. Die konstruksie van die Beira-spoorweg na Umtali is in Februarie 1989 voltooi, net voor die Anglo-Boereoorlog (1899-1902). Op 16 Februarie 1898 begin die eerste gereelde vragdiens. Na die voltooiing aan Umtali is die Beira-spoorweg vir bedryf aan Pauling & Co., sy konstruktore, verhuur. Die konstruksie van die lyn het 222 myl tussen Beira en Umtali afgelê.

1955 – Instelling van die FAK-Erepenning

Die Erepenning vir Volksdiens van die FAK is op hierdie dag ingestel op grond van ’n besluit van die Afrikaanse Nasionale Kultuurraad, wat in daardie jare in die FAK-struktuur besluite van die aard kon neem. Met die Erepenning het die FAK op waardige wyse waardering en erkentlikheid teenoor mense of liggame wat “verdienstelike werk op die gebied van kultuurorganisasise en praktiese volksdiens gelewer het” betoon. Die toekenning is in die vorm van ’n vergulde penning met die FAK-wapen aan die een kant en ’n paslike inskripsie aan die ander kant ontwerp. Die FAK stel baie hoë eise vir die toekenning, en sedert die instelling daarvan is die Erepenning in die eerste twintig jaar van sy bestaan soos volg toegeken: 1957 – Dr. DF Malan; 1961 – Dr. SH Pellisier; 1962 – Kmdt. CA van Niekerk; 1964 –Staatspresident CR Swart; 1965 – Mev. ME Rothman; 1966 – Mnr. IM Lombard; 1968 – Prof. DF Malherbe; 1970 – Prof. HB Thom; 1971 – Dr. PJ Meyer; 1974 – Mev. MM Jansen; en 1977 – Dr. MS Louw.

1999 – Die Suid-Afrikaanse Landbou-unie (SALU) hervorm en verander sy naam na Agri Suid-Afrika (Agri SA)

 

Geboortes

1864 – Genl. Christiaan Botha, jonger broer van genl. Louis Botha († 29 Oktober 1902)

Christiaan Botha is ’n jonger broer van Louis Botha en was ook ‘n generaal tydens die Anglo-Boereoorlog. Hy is gebore te Greytown, KwaZulu-Natal. Sy ouers is Louis en Salomina Botha. Hulle was van die eerste inwoners van die Nuwe republiek van Vryheid. Toe dié republiek by die ZAR ingelyf word, word hulle outomaties burgers.

1954 – Evert Snyman, radio-omroeper, stemkunstenaar, akteur en skrywer († 25 September 2015)

Evert Snyman was ’n Afrikaanse radio-omroeper, stemkunstenaar, akteur en skrywer. Snyman was veral bekend as die voorleser en aanbieder van kinderprogramme op Radio Sonder Grense, asook vir sy kinderreeks, Die avonture van Stoffel die seekoeibulletjie.

 

Sterftes

2000 – Anna Rothmann, Afrikaanse skrywer en dogter van M.E.R. (* 11 Julie 1904)

Anna Wilhelmina Rothmann was ’n Afrikaanse skrywer en die dogter van M.E.R. Sy het jeugboeke en een historiese boek geskryf, asook vertaalwerk na Afrikaans gedoen.

2001 – Hymne Weiss, vertaler en skrywer van novelles en kortverhale (* 2 Oktober 1910)

Weiss word gebore in Rouxville. Haar vader het daar in sy eerste beroep gestaan. Hymne het haar naskoolse studie aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi, waara sy op Standerton en Graaf-Reinet onderwys gegee het en by verskeie geleenthede waargeneem het as dosente in Afrikaans-Nederlands aan die Stellenbosse Universiteit. As skryfster het sy verskeie romans, kortverhaalbundels en essays die lig laat sien. Terwyl sy ook vertalings uit Duits, Sweeds, Noorweegs, Deens en Nederlands gedoen het. Die Suid-Afrikaanse Akademie het haar in 1957 bekroon vir vertaalde werk.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/