5 NOVEMBER
November 4, 2015
7 NOVEMBER
November 7, 2015

Gebeure

1869 – Diamante te Kimberley ontdek

Die Groot Gat, effektief die grootste uitgrawing deur mensehand ter wêreld, ontstaan. Ongeveer 23 miljoen ton materiaal is verwyder en die opbrengs 2,722 kg diamante.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Slag van Bothaville of Doornkraal

Genl. De Wet het teen hierdie tyd van die oorlog met sy besondere en suksesvolle wyse van oorlogvoering by die Engelse magte ’n onuitwisbare begeerte laat ontstaan om die vermaarde generaal vas te keer. In die laaste drie maande van die jaar 1900 het hulle twee keer byna daarin geslaag en het genl. De Wet ernstige teenslae gely. Aan die begin van Oktober het genl. De Wet se kommando Frederickstad-stasie beset en genl. Barton vyf dae daar vasgekeer. Vanweë ernstige versuim van die kant van sommige offisiere, het Engelse versterkings hulle ongesien bereik en moes die burgers terugtrek met ’n lewensverlies van 30. Van daar het hulle na Bothaville beweeg. Langs die pad het pres. MT Steyn, op weg terug van die Transvaal, hom by hulle aangesluit. Op 5 November het hulle Bothaville bereik, voor die “aanrukkende” Engelse kolonnes. Brandwagte is uitgestuur, maar hulle het gerapporteer dat hulle geen vyand gewaar het nie. Die boodskap pas afgelewer, vuur die Engelse kolonnes onder aanvoering van kol. Le Gallais van ongeveer 200 tree op hulle. Genl. De Wet verhaal self in sy boek, Die stryd tussen Boer en Brit: “Wat daarop gevolg het, het ek nog nooit tevore gesien nie. Ek het baie van verskrikking gehoor, maar nou eers gesien wat dit is. Ek moes self maar rondsoek waar my perd is om dit op te saal. Intussen het ’n paar burgers geveg, maar almal wat opgesaal het, het so hard moontlik weggejaag.” Ondanks uitdruklike bevele om te veg, het die burgers verkies om weg te jaag. Nege het in die slag gesterf, ongeveer 30 is gewond en ongeveer 100, onder wie staatsprokureur Jacob de Villiers, is gevange geneem. Ses Krupp-kanonne het ook in die slag gebly. Na die slag het genl. De Wet verklaar dat, as die burgers geveg het, sou “ons hulle kon teruggedryf het en die onheil nie plaasgevind het nie. Ons was agthonderd man sterk en hulle nie meer as twaalfhonderd nie..!”

1940 – Herenigde Nasionale Party in die Vrystaat gestig

Op hierdie dag het Vrystaatse verteenwoordigers van dr. DF Malan se Nasionale Party en ondersteuners van genl. J.B.M. Hertzog, wat by die oorlogsverklaring van September 1939 van die Verenigde Party afgeskei het, in ’n kongres in Bloemfontein vergader om die Herenigde Nasionale Party of Volksparty te stig die woord “hereniging” hier dui op die byeenkom van Nasionaliste wie se paaie by Samesmelting in 1934 geskei het tot die Nasionale Party o.l.v. dr. D.F. Malan voortgesit is, maar die grootste deel daarvan in die toe gestigte Verenigde Party opgegaan het). Onderhandelinge vir die hereniging is onmiddellik na September begin, en dr. Malan het aangekondig dat hy genl. Hertzog as leier van die nuwe party sou aanvaar. Verskillende stappe is gedoen om die party te vorm: ’n herenigingskonferensie, ’n ooreenkoms vir parlementêre samewerking, ’n voorlopige federale raad, die opstel van ’n ontwerpprogram van beginsels en van aksie, die hou van kongresse om die weg te baan vir die stigting van die nuwe party in elke provinsie, steeds op federale grondslag soos die Nasionale Party. Die voorlopige federale raad het op 15 en 16 Oktober 1940 in Pretoria vergader en die ontwerpprogramme goedgekeur. Die byeenkoms is egter nie deur die Hertzoggroep in die Vrystaat bygewoon nie, en dit het geblyk dat genl. Hertzog sy eie program van beginsels opgestel het vir voorlegging aan die Vrystaatse stigtingskongres van die nuwe party. Die Vrystaatse stigtingskongres van die nuwe party. Die Vrystaatse besture van die twee groepe het op 5 November in Bloemfontein saamgekom om eensgesindheid oor die voorgestelde programme te probeer verkry, maar sonder welslae. Toe die kongres op hierdie dag vergader, het genl. Hertzog voorgestel dat sy program as grondslag van bespreking geneem word, maar die kongres het die voorstel verwerp en die voorlopige federale raad se program aanvaar. Hierop het genl. Hertzog die kongres verlaat en nie verder aan die stigting van die nuwe party deelgeneem nie. Die stigtingskongresse in ander provinsies het glad verloop. Hertzog-volgelinge wat nie in die nuwe party opgegaan het nie, het later die Afrikanerparty gestig, welke party in 1951 met die Herenigde Nasionale Party of Volksparty saamgesmelt het, en toe is die ou naam Nasionale Party herstel.

1955 – Die Suid-Afrikaanse afvaardiging stap uit die Nasionale vergadering van die Verenigde Nasies

1962 – Resolusie 1761 aangeneem

Die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies neem Resolusie 1761 aan wat Suid-Afrika se Apartheidsbeleid veroordeel. Ekonomiese sanksies word uitgevaardig.

 

Geboortes

1813 – Johannes Hermanus Grobler, eerste landdros van Potchefstroom en Ohrigstad en later waarnemende president van die ZAR († 9 September 1892)

Johannes Hermanus Grobler is by Olifantsrivier, George, gebore. Nadat hy die Kaapkolonie in 1838 verlaat het, was hy agtereenvolgens medestigter en eerste landdros sowel van Potchefstroom as van Andries Ohrigstad. Daarbenewens was hy mede-ondertekenaar van die Sandrivier-konvensie (17 Januarie 1852, voorsitter van die afvaardiging van die ZAR wat in Junie 1857 ’n vredesooreenkoms met die Oranje-Vrystaat gesluit het, feitlik ononderbroke lid en dikwels voorsitter van die Volksraad en van 15 Februarie 1858 lid van die Uitvoerende Raad van die ZAR. Na pres. MW Pretorius se vertrek na die Oranje-Vrystaat, is Grobler in Februarie 1860 tot Waarnemende President van die ZAR benoem, maar dit was ’n omstrede posisie wat selfs ’n aanslag op sy lewe tot gevolg gehad het. In Desember 1860 het hy bedank en het kmdt.-genl. Stephanus Schoeman by hom oorgeneem. Op 9 September 1892 is hy op sy plaas Gemsbokheuwel in die distrik Ermelo oorlede.

1822 – Esaias Reynier Snijman, politikus en staatsman

Esaias Reynier Snijman, ook wel E.R. Snijman, was ’n Suid-Afrikaanse politikus en staatsman. Hy was ’n lid en voorsitter van die Volksraad van die Oranje-Vrystaat, lid van die Saamgestelde Kommissie vir die Bestuur van die Regering in 1855 en het gedien as Waarnemende Staatspresident in 1859.

1873 – Susarah Frederika Johanna Magdalena (Sarah) Raal, skrywer van oorlogsherinneringe Met die boere in die veld († 4 April 1949)

 

Sterftes

1854 – Pieter Johannes (Piet) Potgieter, kommandant-generaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek (* 24 Desember 1822)

Piet Potgieter was ’n Voortrekkerleier. Potgieter was die tweede seun en sesde kind van Andries Hendrik Potgieter. Hy is in 1852 (in opvolging van sy vader) as kommandant-generaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek aangestel. Die dorp Potgietersrus (letterlik Potgieter se laaste rusplek) was vroeër na hom vernoem.

2017 – Thomas William Seymour (Tommie) Meyer, rolprentregisseur en -vervaardiger (* 28 Februarie 1928)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/