5 MAART
November 1, 2016
7 MAART
November 1, 2016

Gebeure

1881 – Eerste Vryheidsoorlog

’n Voorlopige wapenstilstand tussen generaals Wood en Joubert is ooreengekom en die Britse regering erken die Boere-leiers as verteenwoordigers van hul mense. Voorlopige vredesonderhandelings begin.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Slag van Houtwater

1901 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Ventersburg, OVS; Aberdeen, Kaapkolonie; Kommandodrif, Transvaal

1902 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Tweebosch

Genl. De la Rey neem Lord Methuen by Tweebosch gevange.

1905 – JH Hofmeyr (Onze Jan) se toespraak “Is ’t ons erns?”

Deur sy hele politieke loopbaan pleit JH Hofmeyr (Onze Jan) daarvoor dat Engels en Hollands op gelyke voet geplaas moet word. Hy stel hom ten doel om die lees van Hollands aan te moedig. In sy bekende toespraak op Stellenbosch op 6 Maart 1905 voor die Stellenbosse studentevereniging Ons Spreekuur, getitel “Is’t ons ernst?”, bepleit hy die handhawing van Hollands as die skryf en moedertaal van die volk, al is die skryftaal in ’n vereenvoudigde spelling. Hy stel die vraag of die miskenning van hul moedertaal wel vir die Nederlanders van destyds ’n saak van erns is. Hy gee praktiese voorbeelde van waar Nederlands verdraai en verengels is en trek veral te velde teen die swak toestand op skool waar Hollands nouliks as vak aangebied is. Hy is van mening dat die Hollanders selfs iets aan die saak moet doen, dat die miskenning van hulle taal hulle eie skuld is, en dat hulle wat praat oor liefde vir en lojaliteit teenoor die moedertaal, iets daadwerkliks aan die taalkwessie sou doen as dit vir hulle ’n saak van erns was. Deur voorbeelde van volke wat onder vreemde heersers nog hulle moedertaal behou het, toon hy aan die hoorders dat so iets slegs moontlik is as ’n volk taalkwessie hulle erns maak. As ander volke hulle taal kon handhaaf, kan die Hollanders in Suid-Afrika dit ook doen – “indien het u Ernst is”. Dit is opmerklik dat Hofmeyr pleit vir die behoud van Nederlands, en dat hy nie die waarde van Afrikaans besef of ingesien het nie. Die kernvraag van hierdie toespraak verskyn op die voetstuk van Hofmeyr se standbeeld in Kaapstad. Die toespraak het gelei tot ’n belangrike debat tussen Afrikaanse geleerdes, predikante en joernaliste oor die onderskeie meriete van Nederlands en Afrikaans, waaraan mense soos Gustav Preller, JHH de Waal en dr. DF Malan deelgeneem het wat die voortou geneem het om die tweede Afrikaanse taalbeweging van stapel te laat loop. Gustav Preller antwoord in Junie 1905 met “Laat’t ons toch ernst wezen”, waarin hy pleit vir die voortbestaan van Afrikaans in plaas van Nederlands. Na hom volg dr. DF Malan in Augustus 1908 met “Het is ons Ernst”, waarin hy ook Afrikaans bo Nederlands stel as die taal van die volk. Hierdie toespraak ten gunste van Nederlands het dus direk aanleiding gegee tot die bewussyn dat die stryd om Afrikaans as volkstaal bo Nederlands voortgesit moet word. 

 

Geboortes

Geen

 

Sterftes

1916 – Gerrit Adriaan Arnold Middelberg, mededirekteur van die Nederlands-Zuid-Afrikaansche Spoorweg-Maatshappy (* 21 Junie 1846)

Gerrit Adriaan Arnold Middelberg is te Boskoop, Nederland, gebore. Hy word groot in Amsterdam, werk ’n tyd lank in ’n Skotse handelskantoor, maar besluit tot ’n wetenskaplike rigting. Hy behaal in 1868 die diploma van werktuigkundige ingenieur aan die politegniese skool in Hannover en tree in Europa in diens van verskeie spoorwegmaatskappye. In 1890 word hy mededirekteur van die Nederlands-Zuid-Afrikaansche Spoorweg-Maatschappy. Daar is reeds in 1884 met die oprigting van hierdie maatskappy begin, maar dit kom eers in 1887 met die hulp van Nederlandse en Duitse kapitaal tot stand en verkry ’n konsessie vir die bou van die Oosterspoor van Lourenço Marques na Pretoria. 

Toe in 1890 met die bou van die spoorweg begin is, word Middelberg as direkteur aangewys om in Suid-Afrika teenwoordig te wees. Nadat hy kort tydperke in Suid-Afrika werksaam was, vestig hy hom vanaf 1894 in Pretoria. Hy en sy eggenote betrek die NZASM- huis in Markstraat (tans Paul Krugerstraat). Die Middelbergs word bekend vir hulle gasvryheid en die weeklikse musiekaande wat mev. Middelberg gehou het. Middelberg het onbevooroordeeld na Suid-Afrika gekom en toon insig in die politieke probleme van die dae. Hy het veral begrip vir die vryheidstrewe van die ZAR gehad. Hierdie vryheidstrewe het saamgehang met die bou van die Oosterlyn, wat aan die Republiek ekonomiese onafhanklikheid sou gee. Met die voltooiing van hierdie spoorlyn, kon die ZAR sy goedere onafhanklik van Britse hawens in- en uitvoer, en dit sou dus aan hulle ’n groter mate van selfstandigheid besorg. Middelberg se uitstekende administrasie het die NZASM tot bloei gebring. 

Hy het ten nouste saamgewerk met die regering van die ZAR en het pres. Paul Kruger en sy Uitvoerende Raad dikwels van advies gedien. Gedurende Middelberg se direkteurskap word die Oosterspoor voltooi, aansluiting oor Johannesburg en Vereeniging met die Vrystaatse (of Kaapse) en Natalse spoorwegstelsel bewerkstellig, terwyl ’n spoorlyn in die westelike rigting oor Potchefstroom tot Klerksdorp deur die NZASM gebou word. Onder sy administrasie het nie net die ZAR nie, maar ook die hele Suid-Afrika dus ’n begin gemaak met ’n spoorwegnetwerk. In 1898 tree Middelberg met pensioen af, en in 1899 verlaat die Middelbergs Pretoria. 

Sy weeklikse briewe wat hy van 1896 tot 1899 oor al sy ondervindinge geskrywe het, het veral kultuurhistoriese belang. Hierin kom sy karakter ook duidelik tot uiting. Middelberg het die res van sy lewe in Loenersloot, naby Amsterdam, geslyt, maar het steeds belang gestel in Suid-Afrika. In die Anglo-Boereoorlog het hy ’n aandeel in Nederlandse hulpverlening aan die Boere gehad. Hy was ook as kommissaris behulpsaam met die afhandeling van die sake van die NZASM, wat na 1900 tot likwidasie oorgegaan het as gevolg van die Anglo-Boereoorlog en uit vrees dat Brittanje na die inname van Pretoria deur die Britse troepe beslag op die NZASM-fonds sou lê. Hierdie geld is teruggestuur na Amsterdam en elders in Nederland, waar dit in trust geplaas is onder die naam Zuid-Afrikaansche Stichting Moederland (ZASM), wat voortaan oor die vruggebruik van die fonds sou beskik met kulturele doelstellings – ook vir sover dit die kulturele bande tussen Nederland en Suid-Afrika aangaan. 

Middelberg het Suid-Afrika na sy terugkeer na Nederland nog twee keer besoek, t.w. in 1904 toe hy die stoflike oorskot van pres. Paul Kruger vergesel het, en weer in 1909. Hy sterf op 6 Maart 1916 in Loenersloot. 

1994 – Koos Prinsloo, joernalis en skrywer (* 15 April 1957)

Koos Prinsloo was ’n joernalis en skrywer van postmodernistiese kortverhale, waarmee hy ’n baanbrekersrol in die Afrikaanse prosa speel.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/