5 JULIE
July 6, 2015
Die nasionale monument vir die Britse Setlaars van 1820 in Grahamstad
July 6, 2015

Gebeure

1865 – Pretoria Rifle Corps gestig

Die Pretoria Rifle Corps onder leiding van Stephanus Schoeman, wat met die rang van kaptein die eerste hoof daarvan was, is as ‘n vrywilligerkorps gestig. Die woord Rifle dui nie op die Engelse begrip van ‘n geweer nie maar op die Westley-Richards-doppie-agterlaaier van 1858 – ‘n geweer wat gou in Transvaal bekend geword het en spoedig graag gebruik is. Die doel met die Rifle Corps was om Pretoria en omgewing en ook die staat in die algemeen te beskerm. Daarby sou die lede aan kommando’s en noodlydendes voorrade help voorsien.

Die manne het sover as moontlik in hulle eie behoeftes voorsien – ‘n geweer, mes en rewolwer is as basiese wapens beskou. Die uniform was ‘n bruin broek en baadjie van fluweel, ‘n grys hoed, ‘n swart kraag aan die moue en ‘n swart volstuisveer aan die regterkant van die hoed. Pres MW Pretorius het as beskermheer opgetree en hiervoor amptelik die rang van kolonel ontvang. Die eenheid is verder formeel deur die Uitvoerende Raad van die ZAR goedgekeur en is later ook die Vrywilliger Corps genoem, wat later ontbind is.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Waterval en Vogelfonteinn, Bethlehem

1939 – FAK se Kongres oor CNO, Bloemfontein

Sedert die stigting van die FAK in 1929 het die vereniging hom uitdruklik uitgespreek vir moedertaalonderwys. Op ’n FAK-kongres wat in Desember 1934 plaasgevind het, het die kultuurvereniging van Hartbeesfontein ’n beskrywingspunt ingedien met die versoek dat die FAK ’n kongres oor Christelik-nasionale onderwys moet hou. Die Afrikaanse Nasionale Kultuurraad (ANK) het op sy vergadering in 1938 in Bloemfontein besluit om in 1939 ’n volkskongres oor die toekoms van die Afrikaner in die handel te hou. Een van die hooftemas sou ook oor Christelik-nasionale onderwys gaan. By hierdie kongres van die FAK op 5 Julie 1939 in Bloemfontein het die voorsitter, dr NJ van der Merwe, dit benadruk dat die FAK hom veral moet beywer vir die bevordering van ’n eie opvoedkundige stelsel op Christelik-nasionale grondslag, waarin ook voorsiening vir die kulturele opvoeding van volwassenes en jongmense gemaak moet word. In aansluiting by dié FAK-kongres het die Volkskongres oor Christelik-nasionale onderwys op 6 en 7 Julie 1939 in Bloemfontein plaasgevind. Advokaat EG Jansen het as voorsitter opgetree, en referate is onder andere deur professors JD du Toit, ID Bosman, JC Coetzee, doktor E Greyling en doktor HA Steyn, oor verskeie aspekte van Christelik-nasionale onderwys gelewer. Die Volkskongres het besluit om aan die Uitvoerende Komitee van die FAK op te dra om ’n Nasionale Instituut  vir Opvoeding en Onderwys op so ’n wyse saam te stel dat die Afrikaanse Kerke, die Afrikaanse provinsiale onderwysliggame en Afrikanerouers daarin verteenwoordig sal wees. Op 4 Oktober 1939 is die Nasionale Instituut vir Opvoeding en Onderwys ingestel en vind die eerste vergadering in Bloemfontein plaas. Professor JC van Rooy is tot voorsitter verkies. Na sy samestelling het die Instituut hom daarvoor beywer om hierdie histories-geworde ideaal van Christelik-nasionale onderwys in Suid-Afrika voortdurend te propageer en te bevorder. Deur die Instituut is daar ook ’n wakende oog oor sake rakende die onderwys en opvoeding in die algemeen in Suid-Afrika gehou.

1976 – Verpligte onderrig in Afrikaans in swart skole herroep

Verpligte onderrig in Afrikaans in swart skole, wat een van die oorsake was van die Soweto-onluste, is die die Minister van Bantoe-onderwys, herroep.

1976 – Eerste Konferensie vir Kultuurrade

Die Hoofbestuur van die FAK besluit op 7 November 1975 dat aangesien daar ’n sterk behoefte bestaan om verteenwoordigers van kultuurrade/skakelkomitees as groep saam te trek en om kultuurrade tot groter doeltreffendheid te lei, daar van 1976 af jaarliks ’n Konferensie vir Kultuurrade ten tye van die Algemene Vergadering gehou word. Die aanvoeling van die Hoofbestuur het geblyk korrek te wees want die belangstelling van kultuurrade het van toe af met rasse skrede van jaar tot jaar toegeneem. Benewens praktiese aangeleenthede van gemeenskaplike belang, is daar jaarliks besin oor ’n gesamentlike jaartaak, byvoorbeeld die behoefte aan Afrikaanse kleuterskole, die werkende vrou en talle volks- en sosiale aangeleenthede wat by hierdie besprekings en beplannings gebaat het.

 

Geboortes

1792 – Sir Andries Stockenström, luitenant-goewerneur van die Kaapkolonie († 16 Maart 1864)

1916 – Audrey Blignault, skrywer († 1 Oktober 2008)

Audrey Blignault was ’n skrywer en joernalis wat veral bekend is vir haar sketse, essays en kortverhale. In die 1940’s was sy die aanbieder van die destydse Vrouerubriek-radioprogram en sy hert die leeskring-kultuur in Suid-Afrika gevestig. In 1961 is sy met die Eugène Marais-prys bekroon, en in 1965 met die WA Hofmeyr-prys vir Met ligter tred. Sy het die ATKV se Prestigetoekenning in 2000 ontvang vir haar uitstaande bydrae tot die Afrikaanse joernalistiek en literatuur.

 

Sterftes

Geen

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/