5 JANUARIE
January 5, 2016
7 JANUARIE
January 7, 2016

Gebeure

1498 – Vasco da Gama kom aan wal by die mond van die Limpoporivier

1688 – Hugenote op pad na die Kaap

’n Nederlandse skip, die Rosenberg, wat Hugenote vervoer, vertrek uit Den Haag.

1704 – Eerste kerkgebou van NG gemeente Kaapstad die Groote Kerkword ingewy

1857 – Die Vierkleur eerste keer op Potchefstroom gehys

By geleentheid van MW Pretorius se plegtige beëdiging as eerste president van die Suid-Afrikaanse Republiek op 6 Januarie 1857, is ook die nuwe vlag van die Republiek, die Vierkleur, vir die eerste keer gehys. Die ontwerper is waarskynlik ds. Dirk van der Hoff.

1857 – MW Pretorius word as eerste president van die ZAR ingehuldig

Marthinus Wessel Pretorius, gebore op 17 September 1819, word in 1853 kmdt.-genl. van Transvaal; in 1855 word hy op Potchefstroom tot provinsiale Staatspresident verkies en in 1856 tot Staatspresident. Op 6 Januarie 1857 word hy as Staatspresident beëdig. Die inhuldiging het op ’n plegtige wyse geskied. Die Volksraad het vier lede afgevaardig om Pretorius te perd by sy huis te gaan haal. Hulle het tussen die skare op die markplein teenoor die Hervormde Kerkgebou na die landdroskantoor gery. Daarna het ds. Van der Hoff ’n toespraak gehou, en die president is beëdig. Gewapende burgers het ’n paar sarsies afgevuur, die kanon het gebulder en tegelykertyd is die Vierkleur op die markplein gehys. Nadat die ander lede van die Uitvoerende Raad beëdig is, is hulle in optog na die Hervormde Kerk waar ds. Van der Hoff ’n gebed gedoen en ’n redevoering gehou het. Met die terugoptog het ds. Van der Hoff by die Vierkleur ’n toespraak gehou en die Vlaggelied voorgedra. Die stoet is onder salvo’s terug na die kantoor met die gevoel dat dit ’n dag vol belofte vir die toekoms is.

1896 – Cecil John Rhodes word gedwing om as premier van die Kaap te bedank weens sy betrokkenheid by die Jameson-inval

Cecil John Rhodes, premier van die Kaapkolonie, is erg veroordeel weens sy betrokkenheid by die berugte Jameson-inval en deur die Britse regering gedwing om te bedank. Die aanval misluk as gevolg van ’n vinnige reaksie deur die magte van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR of Transvaal Republiek). Die operasie is verder gedoem toe ’n beoogde opkoms deur Uitlanders aan die Witwatersrand kort voor Jameson se inval afgestel is.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Die Slag by Platrand, suid van Ladysmith

Die enigste poging van Boerekant om die beleërde Ladysmith stormenderhand te verower, het uitgeloop op die slag van Platrand, suid van Ladysmith. Indien dié posisie verower kon word, sou Ladysmith val. Na ’n verwoede geveg met swaar verliese aan albei kante, moes die Boere onder genl. Schalk Burger en hoofkmdt. M Prinsloo terugval, deels vanweë onoordeelkundige leiding, maar ook as gevolg van toenemende Britse versterkings.

 

Geboortes

1865 – Stephanus Postma, teoloog en predikant († 8 Februarie 1904)

1890 – Paul Louw, predikant en digter († 14 Februarie 1933)

1906 – Walter Battiss, abstrakte kunsskilder († 20 Augustus 1982)

Walter Battiss is in 1906 in Somerset-Oos gebore in ’n Engelse Metodiste-gesin. Hy het een van Suid-Afrika se eerste en belangrikste abstrakte skilders geword. Hy het eers as jong seun in argeologie en primitiewe kuns belanggestel nadat hy in 1917 na Koffiefontein verhuis het, en sedert sy kinderjare geteken en geskilder het. Sy formele kunsstudies begin in 1929 aan die Wits Tech Art School (teken en skilder), gevolg deur die Johannesburg Training College (’n onderwysersdiploma) en etslesse. Battiss het sy studies voortgesit terwyl hy as landdrosklerk gewerk het, en uiteindelik sy baccalaureusgraad in beeldende kunste aan UNISA op 35-jarige ouderdom behaal. Op 24 Oktober 1981 is die Walter Battiss-kunsgalery in Somerset-Oos amptelik geopen.

 

 

Sterftes

1815 – Margaretha Anna Möller, weldoener aan die Kaap wat aanleiding gegee het tot die oprigting van die Zuid-Afrikaanse Weeshuis in 1814 in Kaapstad

Margaretha Anna Möller het uit ’n gesiene Kaapse familie gestam. Haar vader was Daniël Heyning en haar moeder Maria Magdalene Pasques de Chavonnes. Na die dood van haar man het sy as kinderlose, welgestelde weduwee dikwels skenkings aan die kerk, sending en liefdadigheid gedoen. Sy het ook ’n aandeel in die totstandkoming van die Suid-Afrikaanse Sendinggenootskap in 1799 gehad. Deur haar ondernemingsgees en deursettingsvermoë en deur die skenking van groot bedrae geld, is die Zuid-Afrikaanse Weeshuis in 1814 in Kaapstad opgerig. Dit was die eerste inrigting van sy soort in Suid-Afrika – ’n monument vir die edelmoedigheid van ’n Suid-Afrikaanse vrou. 

1977 – Mathilda Hanekom, aktrise en toneelpionier (* 9 Desember 1899)

Matilda Hanekom was een van die baanbrekers van Afrikaanse toneelspel. Sy en haar man, Hendrik, het die toneelgeselskap, Die Afrikaanse Toneelspelers, gestig; hulle het 27 jaar lank die land vol getoer. Sy is op 6 Januarie 1977 oorlede.

1990 – Virginia Lee, sangeres van ligte musiek (* 27 Junie 1927)

In die 1950’s en 1960’s het een Suid-Afrikaanse sangeres kop en skouers bo die res uitgestaan wat gewildheid betref.

Virginia Lee is op 27 Junie 1927 gebore en het in 1959 en 1960 groot sukses met onderskeidelik “Tien duisend myl” en “Seeman” behaal. Laasgenoemde liedjie, waarvoor Virginia die Afrikaanse woorde geskryf het, het weer ’n groot treffer geword nadat Gé Korsten dit opgeneem het en sy sukses het daartoe gelei dat selfs die oorspronklike weergawe van Petula Clark opnuut gewild geword het.

In 1965 het sy ’n groot jaar beleef toe sy en Slim Whitman nie net saam getoer het nie, maar “Tennessee yodel polka”, een van die treffers op Springbok Radio se eerste Top 20, opgeneem het. In dieselfde jaar het haar album Vaarwel my lief – ek sal jou nooit vergeet nie met die trefferliedjie “Goodbye my love” verskyn. Sy het verdere Top 20-treffers met “Darling it’s wonderful”, “Lonely river”, “Spanish nights and you” en “Wish me a rainbow” gehad.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org