5 FEBRUARIE
October 31, 2016
7 FEBRUARIE
October 31, 2016

Gebeure 

1795 – Die Vryburgers roep die Republiek van Graaff-Reinet uit 

In die 18de eeu bereik die eerste berede kommandos van die Nederlandse setlaars die gebied waar Graaff-Reinet tans lê. Hulle het vanuit die Kaapkolonie na die ooste getrek. Die eerste boerderye word in die jare 70 van die 18de eeu opgerig. In hierdie eerste jare heers daar anargie en wetteloosheid in die gebied. Nadat n nuwe landdros na die streek gestuur is om wet en orde te handhaaf, kon daar met die vreedsame ontwikkeling van die nedersetting begin word. 

In 1795 roep die inwoners, na jare van onderdrukking deur die VOCn republiek uit. Die inwoners van Swellendam het dit ook gedoen. Voordat die leiers van die Kaapkolonie die nuwe republieke weer kon inneem, word die Kaapkolonie (saam met die twee opstandige gebiede) in 1795 (en Graaff-Reinet tot in Augustus 1796) self deur Groot-Brittanje verower. 

Nadat Nederland die Kaapkolonie weer van die Britte teruggewen het, word dit in 1806 finaal deur die Britte ingeneem. Baie bewoners van die kolonie was erg ontevrede hieroor. Vir die rede het veral baie mense uit die distrik Graaff-Reinet aan die Groot Trek deelgeneem. 

1805 – Jacob de Mist en sy dogter, Augusta, verlaat die Kaap

Augusta word veral onthou omrede haar dagboek. Vader en dogter was net minder as drie jaar aan die Kaap gewees. Augusta het in dié tyd dagboek gehou van alles wat sy in die Kaap belewe het asook van almal wat sy ontmoet het. Saam met haar vader het sy ook ’n uitgebreide reis van net meer as ses maande na die binneland onderneem. Hierdie reisdagboek is later gepubliseer en bied ’n unieke blik op die lewe in die Kaap en die binneland.

1835 – Newton Adams kom in die Tafelbaai aan

Newton Adams, sy vrou, asook eerwaarde D. Lindley en nog vier ander sendelinge kom in Tafelbaai aan. Newton Adams was die eerste dokter in Natal.

1838 – Groot Trek: Dingaan laat Retief en sy manskappe wreed vermoor 

Die Voortrekkerleier, Pieter Retief, het na lang oorweging besluit om hom in Natal te vestig. Hy en vyftien man het toe in Oktober 1837 na Dingaan as Zoeloekoning vertrek. In Port Natal het hy met van die Engelse aldaar gesprek gevoer en op 5 November 1837 in Umgungundluvu aangekom. Kort hierna het Retief sy oogmerk aan Dingaan herhaal, naamlik om wettiglik grond vir sy mede-Trekkers te bekom. Dingaan het ingestem om die grond tussen die Tugela- en die Umzimvuburivier af te staan, mits Retief die vee wat deur Sekonyela van Dingaan geroof is, terugneem en aan Dingaan besorg. Aan hierdie onredelike eis is voldoen. Daarop het Retief ’n mag van 200 man probeer byeenbring om die oordrag van die grond te beklink. Ander Voortrekkers, soos Sarel Cilliers en Gerrit Maritz, het die plan afgekeur en ’n drasties kleiner afvaardiging voorgestel. Retief het toe met ’n geselskap van 67 vrywilligers en vier seuntjies plus ongeveer 30 agterryers na Dingaan gegaan en op 3 Februarie 1838 by die koninklike hoofkraal aangekom. Die akte van afstand is deur die betrokkenes geteken, ’n goeie gesindheid het geheers en vertonings is oor en weer gelewer. Retief het ook met mense soos Owen, Wood en Jane Bird as sendelinge geskakel. Dingaan weer het ongeveer 3000 krygers by hom versamel en met hoofindoenas, soos Umhlela, onderhandel. Oor die presiese verloop van wat gebeur het sal nog lank gegis word. Maar op hierdie oggend is Retief, die Voortrekkers en die agterryers, wat almal sonder wapens was, onverwags deur die Zoeloekrygers oorval, gegryp, vasgebind, weggesleep, met stokke deurboor en buite die koninklike paradegrond op kwaMatiwane met kieries vermorsel en vir die aasvoëls gelaat. Volgens oorlewering, is Retief die laaste doodgemaak en sy hart en lewer uitgesny en op die roete begrawe waarlangs die Boere gereis het. Nie ’n enkele lid van die geselskap het die dood ontsnap nie. Die beendere is later deur die Wenkommando in ’n gemeenskaplike graf weggelê, en ’n gedenkteken is veel later opgerig. 

1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Vaalkrans (Vaalkrantz)

Dag 2: Britse magte word teen skemeroggend totaal verras. Republikeinse magte het gedurende die nag alle beskikbare artillerie (sowat 10 stuk) asook etlike pom-poms nadergesleep. Generaal Louis Botha is terug vanuit Pretoria en besef dadelik dat Vaalkrantz Buller se hoofoogmerk is. Generaal Botha maak werk van die situasie en stuur soveel moontlik versterkings na die gebied. In kort kan dit gestel word dat die Britse opmars vierkantig gestuit is. Rondom 15:00 die middag ontstaan ’n veldbrand as gevolg van Republikeinse bombardering. ’n Groepie burgers sluip onder die dekmantel van rook na vore en oorval ’n Britse stelling. Britse magte is egter wawyd wakker en stuur versterkings. Die burgers was daarna gedwing om te onttrek. Generaal Buller gebruik die res van die dag om sy stellings te versterk.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Long Tom in Kimberley

Die Creusot, Long Tom-kanon, bekend as “die Jood” kom in Kimberley aan.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Chrissiesmeer, Transvaal

Generaal Louis Botha loods omstreeks 02:50 ’n aanval op die Britse kamp. Die Yorkshire regiment wat die voorposte beman het, het die ergste deurgeloop. Alarm word gemaak, maar in die harwar veroorsaak die berede infanterie meer kwaad as goed, deurdat die perde alles vertrap en amok maak. Britse magte herstel egter gou van die aanvanklike verrassing en slaan terug. Botha besef die verassingselement is daarmee heen en besluit om teen 4:30 te onttrek. Slegs ’n baie digte oggendmis red hom. Aan Republikeinse kant het 80 man geval, en aan Britse kant 70 man.

 

Geboortes 

 Geen

 

Sterftes 

1838  – Pieter Mauritz (Piet) Retief, Voortrekkerleier (* 12 November 1780) 

Piet Retief is in die Wamakersvallei, te Wellington, gebore. Hy het sy skoolonderrig daar ontvang, asook homself goed in die skryfkuns bemeester. Afgesien van vele grondtransaksies en verskeie ander ondernemings wat Piet Retief finansieel ten gronde gebring het, het sy persoonlikheid hom vroeg reeds as ’n gerespekteerde leier na vore laat tree. In 1812 is hy as kommandant aangestel, en van 1822 beklee hy die regeringspos van veldkommandant aan die Oos-Kaap. Aan die Oosgrens het Retief die probleme met die regering se grensbeleid ervaar en het hy as voorspraak vir die grensboere opgetree. Telkens kom hy in botsing met die owerheid, sodat hy in 1824 onthef word van sy kommandantspos, maar weer in 1834 as kommandant aangestel is. Hy was die onbetwiste leier vir die grensboere. Op 17 April 1837 is Piet Retief tot goewerneur en Maritz tot magistraat verkies. Een van Retief se leierstake was die bepaling van die Trekkers se eindbestemming. Sy keuse was Natal, en Maritz en P. Uys het hom gesteun. Retief het ook onderhandelinge aangegaan met Dingaan. Die tweede besoek aan Dingaan om die ooreenkoms van die vestigingsgebied wettig te maak, was egter vir die Voortrekkerleier en ongeveer honderd van sy mense ’n tragiese lewenseinde. Na die ondertekening het Dingaan se krygers die Retief “geselskap” by die kraal op 6 Februarie 1838 wreed vermoor. Retief se bydrae tot die Afrikaner se vryheidstryd bly tot vandag toe nog onuitwisbaar.

1933 – Charl Wynand Marais (Charlie) Malan, regsgeleerde en politikus (* 9 Augustus 1883) 

1933 – Prof. Willem Sybrand Logeman, belangrike rolspeler in die stigting van die biblioteek van die Universiteit van Kaapstad (* 15 April 1852) 

Willem Sybrand Logeman, besonder knap Nederlandse filoloog, kom in 1892 na Suid-Afrika waar hy aan die Victoriakollege, Stellenbosch, professor word in Nederlands, Frans, Duits en Geskiedenis. Twee jaar later word hy ook aangestel as professor in moderne tale aan die South African College, Kaapstad. Hy speel ’n uiters belangrike rol in die vestiging en totstandkoming van die biblioteek van die Universiteit van Kaapstad en verdedig die gebruik van Afrikaans in sy geskrifte. Hy is op 15 April 1852 in Haarlem, Nederland, gebore. 

1933 – Prof. Nicolaas Mansvelt, onderwyser en samesteller van die Hollands-Afrikaanse Liedere Bundel (* 30 Julie 1852) 

Dr. Nicolaas Mansvelt was die eerste Superintendent-generaal van Onderwys in Transvaal. Hy is in 1852 in Wassenaar, Nederland gebore. Hy bekwaam hom as ’n onderwyser en in 1874 ontmoet hy die beroemde predikant van Suid-Afrika, Jan Lion Cachet wat weer ’n besoek gebring het aan sy geboorteland. Dit loop uit op Mansvelt se aanstelling op die personeel van die Gimnasiumseunskool op Stellenbosch. Hy begin belang stel in en skryf oor Afrikaans en word in 1890 aangestel as sekretaris van die nuwe SA Taalbond. Hy word die jaar daarna na Pretoria gestuur as Superintendent-generaal van Onderwys. Hy herorganiseer die hele stelsel en begin met die plaaslike opleiding van onderwysers. Met die besetting van Transvaal tydens die Anglo-Boereoorlog het hy bedank en na Nederland teruggekeer waar hy in 1933 in Haarlem oorlede is.

1952 – Charles William Henry Köhler, stigter en eerste voorsitter van die KWV (* 7 Februarie 1862) 

Charles William Henry Köhler is op Calvinia gebore. Na sy skoolopleiding in Kaapstad het hy as tandarts gepraktiseer, maar met die ontdekking van goud verhuis hy in 1886 na die Witwatersrand, waar hy betrokke was by die stigting van verskeie suksesvolle mynmaatskappye. Na ’n besoek aan Europa en Amerika in 1889, het hy hom gevestig op die plaas Riverside, naby Simondium. As boer het Köhler hom deur twee beginsels laat lei – enersyds dat slegs produkte van gehalte verseker is van ’n toekoms, en andersyds dat die swak ekonomiese posisie van die wynboere alleen opgelos kan word deur doeltreffende organisasie. Plaaslik neem hy spoedig die leiding in die georganiseerde landbou deurdat hy eers tot sekretaris en later tot voorsitter van die Paarlse Boerevereniging gekies word. Gedurende 1909 het Köhler in verset gekom teen die hoë aksyns- en beperkende wetgewing met betrekking tot die wynbedryf. Na ’n mislukte poging op 14 April 1909, om deur middel van ’n straatoptog na die Parlementsgebou in Kaapstad die wynboere se ontevredenheid onder die aandag van John X Merriman te bring, word die Wynhandelaars- en Wynboerevereniging van die Kaap gestig, met Köhler as voorsitter. Hierdie vereniging, gestig met die doel om die pryse van wyn en brandewyn vas te stel en in die algemeen die belange van die wynbedryf te bevorder, misluk egter vanweë interne verdeeldheid. Daarna begin Köhler die gedagte van koöperasie bepleit, en dit loop uit op die stigting van die Ko-operatiewe Wifjnbouwers Vereniging van ZA Bpkt. (KWV) in 1918, met Köhler as eerste voorsitter. Tesame met ander sou hy hom suksesvol beywer om die ekonomiese posisie van die wynboere te verbeter. Hy is op 6 Februarie 1952 op Vishoek oorlede.

2015 – André P. Brink, skrywer en professor in letterkunde (* 29 Mei 1935) 

André P Brink was ’n wêreldbekende skrywer en ’n professor in letterkunde. Hy het in Afrikaans en Engels geskryf en sy werk is in minstens 20 tale vertaal. Saam met o.a. Breyten Breytenbach word hy as lid van die letterkundebeweging die Destigers beskou. Hy het ook onder die skuilname Adrienne du Toit en Chris van Lille geskryf.

 

Bronne: 

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK. 

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel. 

https://www.sahistory.org.za 

https://af.wikipedia.org/wiki/