5 APRIL
November 1, 2016
7 APRIL
November 1, 2016

Gebeure

1652 – Aankoms van Jan van Riebeeck

Die middag om 14h30 van 5 April 1652 word Tafelbaai gewaar deur die opperstuurman van die Drommedaris, een van die drie skepe waarmee kommandeur Jan van Riebeeck op 6 April 1652 aan Tafelbaai land om ’n verversingspos vir die VOC te stig. Die ander twee skepe was die Goede Hoop en die Reijger, wat hulle om vieruur die oggend by die Drommedaris aan die Kaapse kus aangesluit het. Die skepe het op 6 April naby die kus bly lê, terwyl Adam Hulster, die boekhouer, en die onderstuurman, Aernt van Ieveren, per sloep vertrek het om Tafelbaai te verken. Twee uur voor sononder het hulle berig dat daar geen skepe in die baai is nie en kon die Drommedaris en die Goede Hoop die baai binnevaar en by die “versse”-rivier anker gooi. Twee weke lank sou almal slegs bedags aan land gaan en saans op die skepe slaap. Hoewel Jan van Riebeeck en sy geselskap dus nie lyflik op 6 April 1652 aan die Kaap voet aan wal gesit het nie, het hy self hierdie dag as die verjaardag van die nedersetting beskou. In 1654 belowe hy in sy dagregister om “dese dagh, den 6en April wesende, tot Godes eer met dancksegginghen te vieren ende voor altijt tot een vastblijvende danck ende bededagh in te stellen, ten eijnde daer des Heeren weldaeden, aen ons bewesen, bij ons naecomelingen noijt vergeten, maar altijt tot Godes eere ter gedachtenisse in memorie gehouden moge worden.” Van Riebeeck moes ’n verversingspos aan die Kaap vir die skepe van die VOC stig, wat op hulle lang reis van Europa na die Ooste in Tafelbaai vars voedsel kon inneem. Die oogmerke van die VOC was bloot prakties en ekonomies van aard, en die gedagte aan ’n volksplanting word nie by hulle aangetref nie. Tog sou hierdie daad oorgaan tot die vestiging van ’n nuwe volk aan die suidpunt van Afrika: ’n volk met ’n eie taal, beginsels, lewensbeskouing, filosofie en lewenswyse. Die immigrante moes hulle aanpas by gans ander omstandighede as die waaraan hulle gewoond was. Vanuit die ontwikkelde Nederland het hulle gekom na ’n onontwikkelde, ongetemde land. In hulle stryd teen die elemente sou die bodemgesteldheid beslissend inwerk op die vorming van ’n groep mense met ’n eie aard en die geboorte van ’n nuwe volk onvermydelik maak. Veral met die instelling van Vryburgers in 1657 is die volksplanting bevestig en het die nuwe volk sy eie tuiste gevind. Van Riebeeck en sy mense was die draers van sekere beginsels en ’n eiesoortige kultuur. Met die latere binnekoms veral van Duitse en Franse immigrante sou die volksaard vervorm word tot wat later die Afrikaner geword het. Omdat hy die draer van ’n kultuur was, was Van Riebeeck ook die oorplanter van ’n kultuur. Hy was nie net die stigter van ’n verversingspos of die leier van ’n groep immigrante nie, maar die vader van ’n nuwe volk, uniek ter wêreld. Van Riebeeck se koms sou in die geskiedenis van Afrika ’n nuwe wending bring. As draer van die Westerse beskawing, het hy die Protestants-Christelike lewensbeskouing met hom saamgebring. Sy koms het aan die Christelike kerk ’n stewige vastrapplek op die vasteland van Afrika gegee. Uit sy koms het die sending voortgevloei waarby die hele Afrika baat kon vind. Hy het die tegnieke, geloof en lewenswyse van die Westerling na Suid-Afrika gebring. Kaapstad se aanskyn sou spoedig verander met die oprigting van Westerse geboue, die bewerking van die aarde, wat ’n meer produktiewe landbou tot gevolg gehad het, en die beëindiging van die absolute isolasie wat teweeggebring is deur die aandoen van skepe by die verversingspos. Die Kaap het spoedig ontwikkel in ’n pos onafhanklik van Nederland, en daarmee saam het sy mense onafhanklik van Nederland geraak. In hulle gesamentlike stryd teen die bodem, barbarisme en later die kompanjie, het die mense van die verversingspos ’n nouer verbondenheid met mekaar begin ervaar en ’n nageslag voortgebring wat as nuwe volk onder die naam Afrikaner bekend sou staan en ’n Westerse staat aan die suidpunt van Afrika sou stig.

1814 – Lord Charles Henry Somerset word goewerneur van die Kaap

Hy was energiek en kragdadig en sy outokratiese styl het hom baie ongewild gemaak. Hy het hom toegespits om die landbou te verbeter. Hy sal ook onthou word vir die erge dispuut met Thomas Pringle en John Fairbairn oor die vryheid van die pers.

1856 – Boshof gestig

Die dorp, Boshof, in die Vrystaat is gestig en vernoem na pres. JN Boshoff, die tweede president van die Oranje-Vrystaat.

1874 – Gerhardus Cornelis Oosthuizen koop Langlaagte

Gerhardus Cornelis Oosthuizen koop die gedeelte van die plaas Langlaagte, waar die grootste goudrif van die Witwatersrand ontdek is, vir £ 100.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Zeekoeigat

Kommandant Gideon Scheepers vang 75 Britse soldate by Zeekoeigat, naby Cradock, Kaapkolonie.

1936 – Krugerhuis tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar

Die huis van Paul Kruger in Kerkstraat-Wes word as ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar. By die dood van mev. Kruger is dit as polisiekaserne gebruik en daarna is die ou Moedersbond daar begin.

 

Geboortes

1913 – Gabriel Cornelis de Jongh, bekende landskapskilder († 11 Maart 2004)

 

Sterftes

1978 – Pierre de Villiers Pienaar, taalkundige en kultuurhistorikus (* 11 Augustus 1904)

1996 – Kristo Johannes Pienaar, plantkundige, skrywer, akteur en TV-aanbieder (* 4 Julie 1922)

2013 – Francois Frederik Odendal, taalkundige en leksikograaf (* 28 Desember 1926)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/