4 OKTOBER
October 4, 2015
President Paul Kruger – laaste boodskap aan sy volk
October 6, 2015

Gebeure

1837 – Piet Retief vertrek na Natal om met Dingane te onderhandel oor grondgebied

1960 – Referendum in verband met Republiekwording

Die Nasionale Party het in 1936 vir die eerste keer in sy program van beginsels voorsiening gemaak vir die beliggaming van die republikeinse ideaal en daardeur ’n republikeinse party geword. Hierdie party het in 1948 aan bewind gekom. Die status van die Unie het onder die agtereenvolgende leiding van dr. DF Malan, adv. JG Strijdom en dr. HF Verwoerd tussen 1948 en 1960 stelselmatig in die rigting van ’n republiek verander. Teen 1960 was al die belangrikste simbole van ’n komende republiek reeds ingevoer, en is die grondslag gelê vir één trou aan Suid-Afrika, één burgerskap, één vlag en één volkslied. Op 20 Januarie 1969 het dr. Verwoerd in die Volksraad aangekondig dat daar ’n referendum oor die verkryging van die Republiek van Suid-Afrika gehou sal word. Aan Regeringskant is die aankondiging met geesdrif ontvang, terwyl daar verwarring in opposisiegeledere geheers het. Kort daarna op 9 April 1960, is ’n sluipmoordaanval op dr. Verwoerd gedoen, maar hy het wonderbaarlik herstel en die stryd om ’n republiek voortgesit. Op 3 Augustus 1960 het hy in Pretoria aangekondig dat die volkstemming op 5 Oktober 1969 gaan plaasvind. Nog nooit in die geskiedenis van Suid-Afrika is daar op so ’n breë terrein ’n verkiesingsveldtog gevoer soos die een wat die volkstemming oor ’n republiek voorafgegaan het nie. Uiteindelik het die groot dag, 5 Oktober 1960 aangebreek. Toe die eerste verkiesingsuitslae begin instroom was dit duidelik dat die Republiek ’n werklikheid sou word – selfs al was die monargiste in een stadium met 150 000 stemme voor. Die uitslag van Welkom in die Oranje-Vrystaat het egter die agterstand uitgewis. Die opwindende en geskiedkundige referendum het ten einde geloop met ’n oorwinning vir die republikeine. Die uitslag was: Republikeine 850 458; Monargiste 775 878. Dit het beteken die meerderheid stemme was ten gunste van die Republiek – 74 580. Altesaam 1 633 872 van die totaal van 1 800 748 geregistreerde kiesers het gestem en daar was 7 436 bedorwe stembriefies. Hoewel die bedoeling was om ’n republiek binne die Statebond te verwesenlik, is dit anders beskik en het dr. Verwoerd sy aansoek om lidmaatskap op die konferensie van Statebondspremiers in Maart 1961 in Londen teruggetrek. Die Republiek van Suid-Afrika het op 31 Mei 1961 tot stand gekom. Vir menige Afrikaner was dit die bereiking van ’n lank gekoesterde ideaal, ’n dag van groot vervulling en vreugde, feesvieringe en vooruitsigte.

 

Geboortes

1844 – Francis William (FW) Reitz, vyfde president van die Vrystaat († 27 Maart 1934)

Dit was hierdie talentvolle Swellendammer, op hierdie dag gebore, beskore om sy volk in ’n groter verskeidenheid van hoë ampte in die openbare lewe te dien as enige ander Suid-Afrikaner: regsgeleerde in die Kaapkolonie in 1868–1874; eerste hoofregter in 1874–1888; en vyfde Staatspresident in 1889–1895 van die OVS Republiek; regter en staatsekretaris van die ZAR in 1998–1902, en President van die eerste Senaat in 1910–1920 na die Uniewording. Ook as kultuurleier het hy onskatbare dienste gelewer. Reeds in 1870 begin hy met “Kaapsch-Hollandsch” eksperimenteer en lewer hy sy eerste bydraes in ’n taal wat tydens sy eie lewe tot volkstaal sou ontwikkel. In 1888 verskyn sy Twee en Sestig uitgesogte Afrikaanse gedigte wat sterk weerklank by die volk gevind het as gevolg van die gemoedelike volkshumor wat daarin weergegee word. Hy was ’n dinamiese ondersteuner van die Afrikanerbond – toe nog ’n suiwer volksorganisasie – wat heftig gekritiseer is deur Engelsgesindes weens die vrees van die potensiële krag daarvan in Afrikanergeledere. Oortuig van die suiwerheid van sy politieke en kulturele beginsels, het hy alle opposisie getrotseer en ’n voorwaartse republikeinse beleid gevolg. Hy was in murg en been ’n demokraat, het die groot Suid-Afrikaanse vraagstukke met idealisme aangepak en was onvermoeid in sy pogings om nouer samewerking tussen die Suid-Afrikaanse state te verkry. Met die ontberings van die Anglo-Boereoorlog was Reitz se moed, geloof en blymoedigheid ’n inspirasie vir sy volk, en sy oorlogsversies is wyd en syd gelees. In die Senaat het hy rondborstig erken dat hy in murg en bloed ’n republikein is. Hierdie openhartige standpunt, wat lynreg teenoor die beleidsrigting van die Smuts-regering gestaan het, het daartoe gelei dat hy nie weer in 1920 tot President van die Senaat verkies is nie. Tot aan die einde van sy lewe is hy met die hoogste agting en liefde deur sy volk bejeën. Hy is op 27 Maart 1934 in Kaapstad oorlede.

1869 – Dr. Willem Jacobus Viljoen, opvoedkundige en pionier van die Afrikaanse taal († 1929)

1883 – Prof. Johannes Jacobus (JJ) Smith, taalkundige en woordeboekmaker († 18 Junie 1949)

Johannes Jacobus Smith, taalkundige en woordeboekmaker, is op 5 Oktober 1883 op ’n boereplaas in die distrik Tulbagh gebore en op 66-jarige leeftyd op Stellenbosch oorlede. Sy eerste skoolopleiding het hy in ’n plaasskooltjie in daardie distrik ontvang, tussen die jare 1891 en 1896. Daarna is hy na die openbare skool op Tulbagh en die Paarlse Gimnasium.
Van 1900 tot 1905 het hy aan die Victoriakollege op Stellenbosch gestudeer. Hier het hy ’n BA-graad met onderskeiding in moderne tale verwerf. Weens sy besondere bekwaamheid, is aan hom die Hiddingh-beurs toegeken. Waarmee hy eers aan die Inner Temple, Londen, in die regte en later aan die Universiteit van Londen in moderne tale gestudeer het. 
Hy het tot 1914 in die buiteland gebly. Op Stellenbosch het hy in 1914 die professoraat in Duitse en Frans aanvaar. In 1919 het hy die tweede professoraat in Afrikaans aanvaar aan die Universiteit van Stellenbosch. 
Van die vroegste tyd of het prof. Smith aan die Afrikaanse taalstryd deelgeneem. Dadelik na sy terugkeer op Stellenbosch het prof. Smith saam met dr. BB Keet en dr. Tobie Muller in die voorste linie getree vir Afrikaans. Saam met Gordon Tomlinson, het hy in 1914 Ons Moedertaal uitgegee, wat later oorgegaan het in Die Huisgenoot, waarvan prof. Smith redakteur was van 1917 tot 1924.
In Londen het hy kennis gemaak met C Louis Leipoldt, wie se eerste bundel gedigte Oom Gert Vertel hy in 1911 persklaar gemaak en uitgegee het. In 1926 het prof. Smith die reusetaak onderneem om die Woordeboek van die Afrikaanse Taal op te stel, en hy het voltyds daaraan gewerk tot 1943 toe hy weens swak gesondheid die redakteurskap neergelê het. 
Prof. Smith het die grondslae vir die woordeboek gelê en ’n ontsaglike hoeveelheid materiaal versamel. In die verwerking van hierdie materiaal het hy egter die slagoffer van sy strewe na volmaaktheid geword. Nooit tevrede met sy eie werk nie, het hy steeds opnuut aangevul en gewysig. Hy was van die begin af ’n vooraanstaande lid van die Taalkommissie van die Akademie vir Taal, Lettere en Kuns en het aanvanklik ’n groot aandeel gehad in die opstel van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls. Daar het ’n hele reeks skitterende artikels van hom in Die Suiderstem en Die Brandwag verskyn. Na sy dood is hulle gebundel deur sy dogter, dr. Anna Smith, onder die titel Op ons Taalakker (1962). 

1917 – Godfried Andreas (GA) Watermeyer, digter († 4 Junie 1972)

GA Watermeyer was ’n digter en baanbreker vir Afrikaans in die reklamebredryf.

 

Sterftes

1900 – Danie Theron, Kommandant, baasverkenner en krygsman in die Anglo-Boereoorlog  (* 9 Mei 1872)

Danie Theron was ’n Boeresoldaat en baasverkenner in die Anglo-Boereoorlog.

1917 – Bernard Petrus Jacobus Marchand, predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, en een van die stigters van die arbeidskolonie op Kakamas (* 22 Augustus 1853)

Ds. Marchand was predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en een van die stigters van die arbeidskolonie op Kakamas, ’n besproeiingskema waarvan die doel was om armblankes op te hef. In dié omgewing is die NG gemeente Marchand na hom genoem.

2010 – Alba Bouwer, Suid-Afrikaanse kinderboekskryfster, joernalis en maatskaplike werkster (* 16 Maart 1920)

Alba Bouwer was ’n Afrikaanse kinderboekskryfster, joernalis en maatskaplike werkster in die tweede helfte van die 20ste eeu. Verskeie van haar boeke het die plaaslewe as agtergrond. Sy was veral bekend vir haar stories van Rivierplaas en Bergplaas.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/