4 JULIE
July 6, 2015
6 JULIE
July 6, 2015

Gebeure

1822 – Engels word die enigste amptelike taal

Brittanje het die Kaap in Januarie 1806 vir die tweede keer beset. In April 1814 het lord Charles Somerset goewerneur van die Kaap geword, en in Augustus 1814 is die Kaap formeel aan Engeland afgestaan. Die Britse bewindhebbers het van meet af aan ’n verengelsingsbeleid teenoor die Afrikaners gevolg omdat hulle die Kaap ’n suiwer Britse kolonie wou maak. Daarom het Somerset sedert 1818 die tekort aan predikante in die gemeentes van die NG Kerk aangevul deur die aanstelling van predikante van die Skotse Presbiteriaanse Kerk. Op onderwysgebied het Somerset ’n stelsel van vrye Engelse skole in die lewe geroep waar ingevoerde Engelse en Skotse onderwysers aan die Afrikaanse kind onderwys sou gee. Die uiteindelike oogmerk was die invoering van Engels as enigste amptelike taal van die Kolonie. En om hieraan uitvoering te gee, het Somerset op 5 Julie 1822 sy bekende taalproklamasie uitgevaardig. Hiervolgens sou Engels met ingang van 1 Januarie 1827 die enigste amptelike taal in die geregshowe wees, en in alle ander regeringskantore reeds met ingang van 1 Januarie 1825. Voorts sou alle regeringstukke en briefwisseling vanaf 1 Januarie 1823 slegs in Engels opgestel en gevoer word. Engels is dus op alle terrein van die openbare lewe tot die enigste amptelike taal verklaar. Die Hollandse koloniste het hulle aanvanklik nie teen die verengelsing van die staatsbestuur verset nie. Daarby het die boere, wat ruim tagtig persent van die bevolking uitgemaak het, ’n afgesonderde lewe op hul plase gevoer en maar min met die staat en sy instellings in aanraking gekom. Hoewel die Hollandse koloniste bereid was om in die verengelsing van die staatsdiens te berus, was hulle geensins van plan om hul eie taal op kerklike en opvoedkundige gebied prys te gee nie. Daarom het hulle op kulturele gebied ’n hardnekkige stryd om die behoud van hul eie taal gevoer. Die Afrikaners het dus volstrek geweier om hul identiteit prys te gee.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Botha ontvang telegraaf van Kruger

Kommandant-generaal Louis Botha ontvang ’n telegraaf van president Kruger wat hom versoek om aan te hou veg.

1913 – Genl. Louis Botha en Jan Smuts reis van Pretoria na Johannesburg om die eerste mynwerkerstaking te bemiddel

1945 – FAK se Volkskongres oor Maatskaplike Beleid

Op maatskaplike vlak was daar vir die Afrikaner ná 1929 nog baie probleme om te oorbrug. Verwarring en onvermoë op hierdie sosio-ekonomiese terrein het immers ook kultuurarmoede beteken. Daarom het die FAK dit nodig geag om ’n volkskongres daaroor te reël – met die oog daarop om ’n maatskaplike beleid vir die Afrikaner te bespreek. Die betrokkenheid van Suid-Afrika by die Tweede Wêreldoorlog en die gevolglike uitwerking daarvan op die volk op vele terreine het dit soveel te meer noodsaaklik gemaak. Die kongres van 5 Julie 1945 is deur 250 afgevaardigdes bygewoon. Die sake wat bespreek is, het onder meer ingesluit die Afrikaanse gesinslewe, en ’n arbeidsbeleid vir ons jeug. Die bedoeling was voorts, ook in die jare hierna, om veral deur kultuurbewustheid en volkstrots die Afrikaner op sosio-ekonomiese gebied sterker te laat staan. Onbetrokkenheid by die Kerk, die eie kultuur en die eie onderwys het hierdie taak bemoeilik, terwyl noue inskakeling op hierdie terreine maatskaplike bewaring vergemaklik het. Met die jare het die FAK minder op die maatskaplike vlak opgetree omdat ’n hoë graad van opheffing bereik is en omdat die Kerk en ander liggame veel meer betrokke geraak het en veel in hierdie verband uitgerig het.

Geboortes

1853 – Cecil John Rhodes, Brits-Kaapse mynmagnaat, imperialis, staatsman en eerste minister van die Kaapkolonie († 26 Maart 1902)

1875 – Japie Hauptfleisch, Boerekryger († 7 Februarie 1901)

 

Sterftes

1979 – Prof. Francois Ernst Johannes (FEJ) Malherbe, dosent en literêre kritikus (* 3 Mei 1894)

Francois Ernst Johannes Malherbe is in die distrik Paarl gebore. Hy het grootgeword in die omgewing van waar die Genootskap van Regte Afrikaners – waarvan die stigterslede van vaders sowel as van moederskant naverwant was – die grootste gedeelte van hulle werksaamhede van stapel laat loop het. Hy het sy opleiding aan die Hoër Jongenskool in die Paarl en aan die Universiteit van Stellenbosch ontvang. Na ’n vyfjarige studie in Amsterdam, Nederland, in die Germaanse Filologie, Nederlandse Taal- en Letterkunde en Kunsgeskiedenis, het hy in 1924 aan die Stedelike Universiteit in Amsterdam die doktorsgraad behaal. Van 1924 tot 1929 was hy dosent en van 1930 tot sy emeritaat in 1959 professor in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. As inspirerende dosent, geesdriftige essayis en gesaghebbende literêre kritikus, het hy ’n diepgaande invloed op sy studente en op jong skrywers, veral in die dertigerjare, gehad. Hy is op 5 Julie 1979 oorlede.

1988 – Pieter Johannes (PJ) Schoeman, skrywer (* 20 September 1904)

Pieter Johannes Schoeman is in die distrik Utrecht, Natal, gebore. Hy was een van nege broers en het as plaasseun grootgeword in die vrye natuur en in noue aanraking met die Zoeloe. Sy eerste “skoolkamer” was die veld en eers op ongeveer veertienjarige leeftyd besoek hy gereeld die skool, ’n paar jaar in Natal en later die Hoërskool Helpmekaar in Johannesburg, waar hy matrikuleer. Hierna gaan hy na Stellenbosch en bestudeer daar Bantoetale en Volkekunde. Hy promoveer in 1934 en is ’n tyd lank joernalis by Die Vaderland in Pretoria. Kort daarna is hom ’n pos aangebied as senior lektor in Volkekunde aan sy eertydse Alma Mater. In 1938 word hy bevorder tot hoogleraar, maar teen die einde van 1946 bedank hy en wy hom uitsluitlik aan skryfwerk. Hy het op Stilbaai gaan woon en oor ’n periode van vier jaar sy gewilde Fanie-boeke geskryf. In 1951 is hy genader om by Sangiro oor te neem as hoofwildbewaarder van die Etosha-Kaokoveldgebied in Suidwes-Afrika. Hy het die pos aanvaar en dit vyf jaar lank beklee. Sedert 1957 woon hy op Stellenbosch, waar hy al sy aandag aan skryfwerk wy. Baie bekend en gelief is sy jagverhale waarvan ’n aantal veral vir die jeug bedoel is. Só is die Scheepersprys vir Jeuglektuur deur die Akademie twee maal aan hom toegeken. In sy talle prosawerke vind ’n mens sy hartstog vir die wildernis in sy jag- en diereverhale, en intiem daarmee verweef sy simpatieke benadering van die natuurmens – die Swazi, die Zoeloe en die Boesman. Hy publiseer onder meer: Die swerwerjagter (1933), Drie jong jagters (1935), Mboza die Swazi e.a. verhale (1939), Op die groot spore (1942), Op die klein spoortjies (1944), Fanie se veldskooldae (1948), Op ver paaie (1949), Trados, die swerwerboesman (1963), Uit die dagboek van ‘n wildbewaarder (1967) en Jabula, die Zoeloe (1972).

2015 – Hermanus Jacobus (Hernus) Kriel, politikus (* 14 November 1941)

Hernus Kriel was ’n minister van wet en orde in die kabinet van FW de Klerk, asook die eerste premier van die Wes-Kaap in 1994.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/