4 JANUARIE
January 4, 2016
6 JANUARIE
January 6, 2016

Gebeure

1673 – Opperchirurgyn word gekielhaal

Opperchirurgyn Jan Pieterz Cortemünde het in Desember 1672 aan boord van die Deense skip, Oldenborg, in Tafelbaai aangekom. Terwyl Cortemünde en drie bemanningslede kruie gesoek het, is hulle deur Jan van Eeden, ’n plaaslike inwoner, genooi om koue melk by hom aan huis te geniet. Die gasvrye Van Eeden het die dorstige Deense gaste egter sterk drank aangebied. Met verloop van tyd het almal, ook die gasheer en sy vrou, Lysbeth, baie vrolik geword.

Die vrolikheid het egter ’n ernstige nadraai gehad. Teen tienuur die aand, toe die beskonke gasheer reeds gaan slaap het, wou Cortemünde en sy vriende vertrek, maar ongelukkig het een van hulle die kers geblus en met groot geraas het hulle gesukkel om die kers weer aan te steek. Die gasheer het wakker geword en sy vrou, Lysbeth, geroep, maar dié het intussen met een van die manlike gaste in die donker verdwyn. Van Eeden het daarop met ’n mes in elke hand die vertrek binnegestorm en sy gaste aangeval. In ’n poging om homself te verdedig, het Cortemünde vir Van Eeden gewond. Die gevolg was dat Cortemünde moes vlug en vir ’n aantal dae in die omgewing van die Soutrivier moes skuil. Nadat hy gevange geneem is, het die Politieke Raad hom op 5 Januarie 1673 “meegedeel” dat hy driemaal in Tafelbaai gekielhaal sou word.

Die volgende oggend om 09:00 is die vonnis aan boord die skoener, De Goudvinck, in Tafelbaai voltrek. As ’n veroordeelde gekielhaal is, is sy hande en voete vasgebind en gewigte is aan sy lyf vasgemaak sodat hy maklik kon sink. Daarna is hy met ’n tou onder die kiel van die skip deurgetrek. Cortemünde was gelukkig om dié lewensgevaarlike straf te oorleef.

1857 – MW Pretorius (seun van Andries Pretorius) verkies tot eerste President van die ZAR

1864 – Die burgerstryd by Krokodilrivier

Pres. MW Pretorius se pogings om die twee Boererepublieke te verenig, was nie voldoende beweegrede vir die Transvalers om hom op die duur as president van albei state te aanvaar nie. Terwyl hy in die Vrystaat was, het kmdt.-genl. Stephanus Schoeman as president van die ZAR waargeneem, maar die nuutverkose Volksraad van 1862 wou Schoeman nie aanvaar nie. Ongekende onderlinge onenigheid het sedertdien hoogty gevier. Omdat teenstanders van WC Janse van Rensburg die egtheid van sy verkiesing as president in 1863 in twyfel getrek het, het hulle uiteindelik tot openlik geweld oorgegaan en in 1863 as ’n Volksleër onder kmdt. JW Viljoen teen die sogenaamde Staatsleër onder SJP Kruger opgetrek. Nadat kleiner skermutselinge in Desember 1863 naby Potchefstroom plaasgevind het, het die twee leërs in alle erns op 5 Januarie 1864 by Krokodilrivier, tussen Rustenburg en Pretoria, slaags geraak. Die totale ongevalle dié dag was ongeveer tien dood en twintig  gewond. Stortbuie het die geveg tydelik vertraag. Die volgende dag het Pretorius self opgedaag, aangebied om as bemiddelaar op te tree, en is hy in die presidentsverkiesing in Mei met ’n groot meerderheid herkies.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Naauwpoort, Witwatersrand/Magaliesberg, Transvaal

1909 – Stigting van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

’n Konferensie wat in die Hugenote-gebou in Kaapstad gehou is, lei later tot die stigting van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in Bloemfontein.

1952 – Aanvang van die Van Riebeeckfees

Die amptelike opening van die Van Riebeeckfees waarmee die 300-jarige bestaan van die blanke nasie in Suid-Afrika herdenk is, het op Ohrigstad plaasgevind. As hoofspreker het opgetree dr. DF Malan, wat by dié geleentheid gesê het dat die doel van die fees eenheid onder alle groepe in Suid-Afrika sal wees. Op sy teken het Die Voortrekkers en die Boy Scouts, onderskeidelik die verteenwoordigers van die Afrikaanssprekende en die Engelssprekende jeug, die fees laat begin deur vreugdevure in al die stede aan te steek en die kerkklokke te laat lui. Op die oggend van 5 Januarie het die eerste poskoets van Ohrigstad af vertrek na Kaapstad, waar die fees op 6 April 1952 sy hoogtepunt bereik het. Daar was sewe poskoetse wat van verskillende vertrekpunte en langs verskillende weë na Kaapstad gereis het om op hierdie wyse die boodskap van vriendskap en eenheid dwarsoor die land te span.

1976 – SAUK begin met gereelde daaglikse televisie-uitsendings nadat proefuitsendings op 5 Mei 1975 begin het

Gereelde televisie-uitsendings begin in Suid-Afrika nadat daaglikse proefuitsendings reeds op 5 Mei 1975 ’n aanvang geneem het. Die uitsendings was uit die staanspoor in kleur, en die PAL-stelsel is gevolg. Daar is vyf ure per dag uitgesaai, met ’n bykomende drie uur sportuitsending op Saterdagmiddae. Die uitsaaityd is gelykop verdeel tussen die twee amptelike tale: Afrikaans en Engels. Die volledige programspektrum word bestryk: nuus, nuusagtergrond en -kommentaar, aktualiteits-, joernaal- en besprekingsprogramme, dokumentêre programme, kleuter- en kinderprogramme, godsdiens- en stemmingsprogramme, drama, musiek, verskeidenheid en sport. Binne ’n jaar na die aanvang van die diens was nagenoeg 70% van die Afrikaanstalige programme en 63% van die Engelstalige programme inheems van oorsprong. Die televisiediens was toe inligtings- en voorligtingsgerig, maar die vermaaklikheidsaspek is nie agterweë gelaat nie. In ooreenstemming met die aanbevelings van die Kommissie van Ondersoek insake Televisie (1970), sou ’n tweede diens, wat in vyf tale van die swart volke van Suid-Afrika, in 1982 begin, wat toe bekend gestaan het as TV2.

 

Geboortes

1789 – Thomas Pringle, digter en baanbreker vir persvryheid († 5 Desember 1834)

Thomas Pringle is op 5 Januarie 1789 in Roxburghshire, Skotland, gebore en is Suid-Afrika se eerste Engelstalige digter en een van die baanbrekers vir persvryheid.

1814 – Sophia Gray, argitek

Sophia Gray, argitek, en haar eggenoot, eerw. Robert Gray, aanvaar in 1847 die bisdom van die Kaap die Goeie Hoop en hulle kom op 24 Februarie 1848 in die Kaap aan. Sy ontwerp ongeveer 50 kerke, kapelle en pastorieë. Sy laat ook meer as 150 potlood- en waterverfskilderye van landskappe en plekke van argitektoniese belang na.

1942 – Jan Ellis, rugbyspeler († 5 Februarie 2013)

In 1976 het Jan Ellis die rekord vir die meeste toetse tot op daardie stadium deur ’n Springbok-rugbyspeler geëwenaar.

Hy is op 5 Januarie 1942 in Brakpan gebore maar hy en sy gesin het na Gobabis in Suidwes-Afrika (Namibië) verhuis. Na skool het hy in Windhoek gaan rugby speel en is in 1964 genooi na die Springbok-proewe om in aanmerking te kom vir die span wat die volgende jaar na Australië en Nieu-Seeland sou toer. Hy het sy toetsdebuut in 1965 teen die All Blacks gemaak toe Frik du Preez van flank na slot verskuif is.

In 1967 het hy en Piet Greyling saam begin speel; Ellis op loskopflank, Greyling op vaskopflank en Tommy Bedford op agtsteman was een van die beste lostrio’s in die geskiedenis van Springbok-rugby. Op 24 Julie 1976 het hy sy laaste toets teen die Nieu-Seelandse toerspan van Andy Leslie gespeel; die sewe toetsdrieë wat hy gedruk het, was die meeste deur ’n Springbok-voorspeler op daardie stadium en sy 38 toetse was ’n rekordgetal, wat Frik du Preez se aantal geëwenaar het.

 

Sterftes

Geen

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za