4 FEBRUARIE
October 31, 2016
6 FEBRUARIE
October 31, 2016

Gebeure 

1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Vaalkrans (Vaalkrantz)

Dit begin op hierdie dag wat op 7 Februarie in ’n Boere-oorwinning eindig. Dag 1: Generaal Buller se mag van by die 24 220 man kom presies 6:00 die oggend in beweging. Daar word na Potgietersdrif se kant beweeg, maar dit is net vir die skyn. Presies om 7:00 skiet ’n 4,7 vlootkanon ’n enkele skoot vanaf Mount Alice. Dit dan is die teken vir 42 kanonne om met ’n bombardement op die Brakfontein-hoogte te begin. Intussen steek ’n deel van die Britse magte Potgietersdrif oor en beweeg na Brakfontein-hoogte se kant toe. Republikeinse magte beantwoord op hierdie stadium vuur met vuur. Britse soldate grawe hul daarna in, en trap vas. Britse artillerie verskuif nou na Vaalkrantz waar slegs 95 Burgers die stellings beset. Britse magte slaag daarin om drie pont-brûe na Meuldrif naby Vaalkrantz oor die Tugela te bou. Nodeloos om te noem, maar tog, die Britse magte slaag daarin om oor die rivier te kom. Maklik was dit nie. Dit het vyf ure se konstante bombardering gekos, en daar was gebloei vir elke meter grond. Teen 14:00 is die skrif egter aan die muur. Generaal Ben Viljoen is heel voor, by sy mense, dog die getalle klop nie. Teen 16:00 beset die Britse magte die Vaalkrantz-hoogtes. Generaal Tobias Smuts was 100% in die kol met sy voorspelling.

1902 – Anglo-Boereoorlog: Geveg van Gruisfontein

Die geveg by Gruisfontein, 24 km oos van Lichtenburg, vind op hierdie dag plaas. Kolonel Kekewich, bygestaan deur “Colonial Scouts” veras die kommando van kmdt. Sarel Alberts. Tesame word ongeveer 132 man gevang, is daar 10 gewondes, en betaal agt burgers die hoogste prys.

1902 – Francois Engelbertus du Rand tereggestel

Francois Engelbertus du Randt (20) is op hierdie dag deur die Britse magte voor ’n vuurpeleton tereggestel. Burger du Randt is op 16 Desember 1901 na ’n skermutseling met die Britse magte in die Cradock-omgewing gevang. Du Randt is aangekla van moord en diefstal, en natuurlik hoogverraad. ’n “Joiner”, asook ’n vroulike winkelassistent was hoofgetuies in die saak gewees. Du Randt het die oggend van 4 Februarie 1902 sy vonnis op die Cradock-markplein aangehoor. Die volgende is opgeteken: “nog sy houding, nog sy voorkoms het ’n skadu van vrees of neerslagtigheid verraai”. Woensdagoggend skuins voor ses die oggend het hulle op die walle van die Visrivier aangekom. Du Randt was, soos die vorige dag, kalm en bedaard. Sy versoek om met los hande stelling in te neem, is toegestaan. Geen moeder, geen vader, geen familie, geen vriend, net ’n bevel, “Right about face! Present arms! Fire!”. Hulde aan die laaste Kaapse Rebel wat op hierdie dag die hoogste offer gebring het.

1915 – Suid-Afrika en Suidwes-Afrika 

Genl. Louis Botha vertrek op 5 Februarie 1915 na Suidwes-Afrika om bevel oor te neem oor die Unietroepemag wat die gebied van Duitsland sou verower. Daardeur is Suidwes-Afrika aan Suid-Afrika verbind en is ’n informele verbintenis wat reeds lank tussen die twee gebiede bestaan het op ’n formele grondslag geplaas. Die Kaapse burger, Jacobus Coetsé, het op 14 Julie 1760 van sy woonplaas by die Piketberge vertrek op ’n reis wat hom na sowat 50 dae tot aan die Bunsenberg (deur hom Swartberg genoem) net noord van Warmbad in die huidige Suidwes-Afrika gevoer het. Teen die einde van Augustus het hy die Grootrivier oorgesteek, “die bij der Relatanten weeten bevoorens door geene Europische Natie gepasseerd weesende …” Hierdie gebeurtenis het die blankes, en by name die Afrikaners, met Suidwes-Afrika in verbinding gebring en tot verdere verkenningsreise deur Hendrik Hop, Willem van Reenen e.a. aanleiding gegee. Sendelinge van die Londense Sendinggenootskap het vroeg in die 19de eeu gevolg, die Rynse Sendinggenootskap het in 1840 tot SWA toegetree en sedert die veertigerjare was jagters en handelaars in toenemende getalle aanwesig in hierdie uitgestrekte gebied noord van die Oranje, wes van die Kalahari en suid van die Portugese invloedsfeer in Angola. Terwyl die Britse bewind in die Kaapkolonie die gebied rondom Walvisbaai in 1878 geannekseer en Duitsland sy gesag sedert 1884 oor SWA gevestig het, het Afrikaners hulle geleidelik daarheen begewe en hulle veral in die suide gevestig. Aansienlike getalle trekkers uit Transvaal het gedurende die sewentigerjare onder groot ontberings deur die Kalahari-dorsland na Angola getrek en teen 1884 na Grootfontein teruggekeer, waar hulle hul tydelik gevestig het. Na afloop van die Tweede Vryheidsoorlog in 1902 het heelwat Afrikaners hulle in SWA gaan vestig. Die Afrikaners is deur die Duitse bewind toegelaat om hulle eie skole te stig en veral die NG Kerk van Kaapland het deur middel van bearbeidingsreise, hoewel gebrekkig, aandag aan die geestelike behoeftes van die wydverspreide gemeenskappe gegee. Die eerste gemeente in SWA, Groot Namaqualand, is in 1898 gestig, maar weens die probleme om ’n vaste predikant te kry, het die sendelinge van die Rynse Sendinggenootskap dikwels belangrike hulp verleen. Naas ander geestelike arbeiders speel eerw. EJ Leonard ’n besonder belangrike rol. Die verowering van Suidwes-Afrika in 1915 deur die Unie het die land vir die Afrikaners aanloklik gemaak en hulle getalle het sodanig toegeneem dat hulle mettertyd sowat 70% van die blanke bevolking uitgemaak het. Die Afrikaners in SWA speel deur die jare heen ’n belangrike rol, veral in die skaap- en beesboerdery, die visbedryf en die administrasie van die Iand. Hollands-Afrikaans as taal is deur Nama- en Bastergroepe vanuit die Kaapkolonie na SWA gebring sodat selfs die Rynse sendelinge van die medium in hulle werk gebruik moes maak. Later jare was Afrikaans die taal waarmee dwarsoor die land gekommunikeer kon word. Naas die skole en die verskillende Afrikaanse kerke het kultuurorganisasies soos die FAK Gebiedskultuurraad vir SWA en die Rapportryers ’n belangrike bydrae gelewer om die Afrikaanse kultuur op natuurlike wyse te voed. SWA was egter ’n land van vele kulture waarvan elk plek naas die ander gehad het voordat die internasionale geldmag met die hulp van verraderlike Suid-Afrikaanse ‘volksleiers’ daarin geslaag het om die land onder die voorwendsel van onafhanklikheid en sogenaamde demokrasie in die hande van ’n swart onbevoegde regering te plaas. Hierna was Suidwes-Afrika nie meer ’n heenkome vir die blanke Afrikaner nie. 

1965 – Diefstal van goudstawe 

Die diefstal van goudstawe van sowat R200,000 uit die Kasteel die Goeie Hoop in Kaapstad word ontdek. 

 

Geboortes 

1840 – Abraham Steytler, invloedryke leraar van die Nederduitse Gereformeerde Kerk († 1922) 

1935 – Jannie Geldenhuys, voormalige SA Weermaghoof († 9 September 2018) 

Generaal Johannes Geldenhuys was die hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag van 1985 tot 1990. Geldenhuys is op 5 Februarie 1935 op Kroonstad, Oranje-Vrystaat in die Unie van Suid-Afrika gebore. Hy sluit in 1954 by die weermag aan. Hy was as hoof van die weermag betrokke by die onderhandelinge wat in 1989 tot die einde van die Grensoorlog gelei het. In sy laaste jare het Geldenhuys aan alzheimersiekte gely. Hy is in die dae voor sy dood in die Jura Care Village-versorgingsoord in George, Wes-Kaap, Suid-Afrika, versorg, waar hy op 10 September 2018 oorlede is. 

 

Sterftes 

1937 – Ds. Josephus Johannes Kühndigter van die eerste Afrikaanse Psalms (* 15 Maart 1881) 

Ds. Josephus Johannes Kühn, gebore op 15 Maart 1881, was ’n NH predikant, welsprekende kanselredenaar en begaafde digter. Hy het belangrike werk gelewer vir die eerste Afrikaanse Psalmberyming en die tweede beryming van Ps. 130 is van sy hand. 

1951 – Dr. Albert Jacobus Stals, minister (* 24 Augustus 1880) 

Albertus Jacobus Stals is op Oude Kloof, Tulbagh, gebore. Met twee doktorsgrade – in Medisyne en Regte – het hy hom onderskei as sakeleier en Minister van Gesondheid. Hy was lid van die eerste Hoofbestuur van die Afrikaanse Handelsinstituut in 1942, ondervorsitter tot in 1948. Hy was voorsitter en besturende direkteur van Volkskas en direkteur van Voorbrand-Tabakmaatskappy, wat die begin van die Rembrandt-Groep was. Hy is op 5 Februarie 1951 in Kaapstad oorlede.

1951 – Theopil (Theo) Wendt, musikus en dirigent (* 1874) 

Theo Wendt as dirigent

Theo Wendt is op 22 Augustus 1874 in Londen gebore. Hy was die eerste dirigent (1914 tot 1924) van die Kaapstadse Simfonieorkes, daarna was hy van 1924 tot 1927 die eerste musiekdirekteur van die pas gestigte uitsaai-organisasie in Johannesburg en die laaste jare van sy lewe was hy hoofdirigent van die SAUK se simfonieorkes. Hy was ook ’n komponis van naam en het ’n belangrike rol in die musieklewe van Suid-Afrika gespeel. 

2013 – Jan Ellis, rugbyspeler (* 5 Januarie 1942) 

In 1976 het Jan Ellis die rekord vir die meeste toetse tot op daardie stadium deur ’n Springbok-rugbyspeler geëwenaar. Hy is op 5 Januarie 1942 in Brakpan gebore maar hy en sy gesin het na Gobabis in Suidwes-Afrika (Namibië) verhuis. Na skool het hy in Windhoek gaan rugby speel en is in 1964 genooi na die Springbok-proewe om in aanmerking te kom vir die span wat die volgende jaar na Australië en Nieu-Seeland sou toer. Hy het sy toetsdebuut in 1965 teen die All Blacks gemaak toe Frik du Preez van flank na slot verskuif is.

In 1967 het hy en Piet Greyling saam begin speel; Ellis op loskopflank, Greyling op vaskopflank en Tommy Bedford op agtsteman was een van die beste lostrio’s in die geskiedenis van Springbok-rugby. Op 24 Julie 1976 het hy sy laaste toets teen die Nieu-Seelandse toerspan van Andy Leslie gespeel; die sewe toetsdrieë wat hy gedruk het, was die meeste deur ’n Springbok-voorspeler op daardie stadium en sy 38 toetse was ’n rekordgetal, wat Frik du Preez se aantal geëwenaar het. Jan Ellis is op 5 Februarie 2013 in die ouderdom van 71 jaar oorlede.

 

Bronne: 

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK. 

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel. 

https://www.sahistory.org.za 

https://af.wikipedia.org/wiki/