4 DESEMBER
December 4, 2016
6 DESEMBER
December 6, 2016

Gebeure

1905 – Die derde Afrikanertrek kom in Comodoro Rivadavia in Argentinië aan

1934 – Stigting van die Verenigde Suid-Afrikaanse Nasionale Party

Die Verenigde Suid-Afrikaanse Nasionale Party is amptelik op hierdie dag gestig deur die samesmelting van genl. JBM Hertzog se Nasionale Party en die Suid-Afrikaanse Party van genl. JC Smuts. Samesmelting is deur ’n periode van samewerking tussen hierdie twee partye voorafgegaan ooreenkomstig die wil van ’n groot meerderheid kiesers in ’n algemene verkiesing op 17 Mei 1933. Die samesmelting het egter weer ’n verdeling sowel onder Afrikaans- as Engelssprekendes tot gevolge gehad, naamlik die Malangroep en die Stallardgroep. Die voortsetting van die Nasionale Party deur dr. DF Malan, dr. NJ van der Merwe, adv. CR Swart en adv. JG Strijdom het met verloop van tyd die betekenisvolste gebeurtenis blyk te wees.

Die Malaniete of Gesuiwerdes het van die standpunt uitgegaan dat die Afrikaner nog slegs die eerste rondte in die stryd teen Engelse oorheersing gewen het. Daar was nog konstitusionele kwessies wat opgelos en imperialistiese simbole wat uit die weg geruim moes word. Die stryd sou eers beëindig wees met die verkryging van onverdeelde lojaliteit van Suid-Afrikaanse burgers en die totstandkoming van ’n Republiek.

Die Tweede Wêreldoorlog en die verwerping van Hertzog se neutraliteitsmosie in die Parlement het onder meer bewys dat hy die houding van die Engelssprekende in die Suid-Afrikaanse politiek verkeerd vertolk het, en dat nasionalisme teenoor imperialisme steeds ’n verdelingsfaktor was. Dr. Malan het geblyk reg te hê, en die Nasionale Party slaag daarin om weer voldoende Afrikanersteun te verwerf en die Verenigde Suid-Afrikaanse Nasionale Party in 1948 te verslaan. Die Verenigde Party het daarvandaan al hoe meer steun verloor, ook van Engelssprekendes, en in 1977 ontbind.

 

Geboortes

1888 – Tienie Holloway, skrywer van kinderliteratuur († 17 Junie 1967)

1894 – Charles Robberts (CR) Swart, laaste Goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika en eerste Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika († 16 Julie 1982)

Charles Robberts Swart is op hierdie dag in Winburg gebore en hy deel reeds op vyfjarige ouderdom in die smart en ellende van die Afrikanervolk toe hy saam met sy moeder en ander huisgenote na die Winburg-konsentrasiekamp gestuur word. Dit sou dwarsdeur sy lewe een van sy grootste ideale bly om die republikeinse erfenis waarbinne hy gebore is, weer volkome te laat herleef. Op dertienjarige ouderdom verwerf hy matriek en in 1918 die graad LLB. Van 1919 tot 1948 het hy as advokaat van die Hooggeregshof in Bloemfontein gepraktiseer.

In 1923 het hy Volksraadslid geword en ’n al duideliker rol in die politiek begin speel. Met die oorwinning van die Nasionale Party in 1948 by die stembus word hy benoem as Minister van Justisie en as sodanig was hy verantwoordelik onder meer vir die herstel van die naam landdros, die vertaling van die Nederlandse Uniewette en die Romeins-Hollandse Regsbronne in Afrikaans asook die afskaffing van appèl na die Geheime Raad.

Met die siekte en afsterwe van premier JG Strijdom in 1958 is hy as waarnemende Eerste Minister benoem. Van Januarie 1960 tot April 1961 was hy Goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika en op 31 Mei 1961 is hy as eerste Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika ingehuldig. Hierdie amp het hy ses jaar lank met groot onderskeiding en gewildheid beklee.

Hy het ook ’n lewenslange aktiewe deelname aan allerlei taal- en kultuurliggame gehad: lid van die stigtingskomitee en lewenslange lid van die FAK; een van die stigters van die Voortrekkerbeweging in 1931 en vanaf die stigting daarvan tot 1948 lid van die Vrystaatse Provinsiebestuur; lid van die Nasionale Oorlogsmuseum in Bloemfontein, en erelid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy is in 1951 as eerste kanselier van die Universiteit van die Oranje-Vrystaat verkies en het tot 1978 die pos beklee.

Van hom het steeds besieling uitgegaan om jong mense te inspireer met die Christelike lewensbeskouing en ‘n gesindheid van ordelikheid en ordentlikheid. ’n Voorbeeld hiervan was sy talle besoeke aan die Hoërskool Staatspresident CR Swart waar hy graag onthaal is weens die vernoeming van die skool. Daar het hy die hele skool se leerlinge vir ure lank in ’n skoologgend met interessante staaltjies uit die geskiedenis en sy eie lewenservaringe geboei, en daardeur die Afrikanerkind se kultuur van godsdiens, taal, herkoms, ordelikheid en ordentlikheid vasgelê. Sy geliefde noemnaam “Oom Blackie” het juis as gevolg van sy sagmoedige maar inspirerende persoonlikheid ontstaan en so het die jeug hom dan ook aangespreek.

Charles Swart het ook joernalistieke baanbrekerswerk verrig as persverteenwoordiger in die Parlement vir Die Burger en Die Volksblad – destyds nog suiwer pro-Afrikanerkoerante – en hy het gereelde rubrieke aan talle ander nuusblaaie en tydskrifte gestuur. Sy twee gewilde en treffende Afrikaanse boeke vir kinders, Kinders van Suid-Afrika, en Die Agterryer, het talle herdrukke beleef.

 

Sterftes

1834 – Thomas Pringle, digter en baanbreker vir persvryheid (* 5 Januarie 1789)

Thomas Pringle is op 5 Januarie 1789 in Roxburghshire, Skotland, gebore en is Suid-Afrika se eerste Engelstalige digter en een van die baanbrekers vir persvryheid.

1918 – Schalk Willem Burger, advokaat, politikus en waarnemende president van die ZAR van 1900 tot 1902 (* 6 September 1852)

Schalk Willem Burger is op Krugerspoort, Lydenburg, gebore. Sy grootvader was JJ (Kootjie) Burger, wat volgens oorlewering die Traktaat tussen Piet Retief en Dingaan opgestel het. Burger was agtereenvolgens Boeregeneraal en waarnemende president van die ZAR, vise-voorsitter van Het Volkparty, voorsitter van die Transvaalse tak van die Suid-Afrikaanse Party en Transvaalse Senator na die Uniewording. Polities gesproke was hy gematig, maar by tye weifelend; tog moet sy rol in die heropbou van Transvaal na die Anglo-Boereoorlog nie onderskat word nie. Hy is op 5 Desember 1912 op Goedgedacht, Krugerspos, oorlede.

1990 – Peter Blum, omstrede digter (* 4 Mei 1925)

Peter Blum was ’n omstrede digter. Hy is weens sy teenkanting teen die destydse beleid van apartheid twee keer Suid-Afrikaanse burgerskap geweier.

1999 – Paul Friedrich Detlev Weiss, leraar, dosent en kultuurleier (* 22 Oktober 1907)

Detlev Weiss is op Standerton gebore. Vanaf 1935 tot 1947 staan hy in Pretoria in die bediening, terwyl hy ook deeltyds aan die Universiteit van Pretoria, eers Maatskaplike Werk en daarna Semitiese tale, doseer. Daarna was hy professor in Semitiese tale aan die Universiteit van Stellenbosch. Prof. Weiss het ’n rol gespeel in die hersiening van die Afrikaanse Bybel, was ’n tyd lank voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en sedert 1967 erepresident van die SA Buro vir Rasse-aangeleenthede. Van 1962 tot 1969 was hy direkteur van die Afrika-Instituut, vanaf 1965 voorsitter van die Christelike Kultuuraksie en van 1966 tot 1972 voorsitter van die Afrikaanse Kultuurraad van Pretoria.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/