4 APRIL
November 1, 2016
6 APRIL
November 1, 2016

Gebeure

1814 – Lord Charles Somerset word goewerneur aan die Kaap

1900 – Anglo-Boereoorlog: Slag van Boshoff (ook bekend as Slag van Tweefontein)

1952 – Van Riebeeck-skoolkoshuis (Thomson Falls in Kenia) amptelik ingewy

Die Afrikaner het gelukkig nog altyd die hoogste premie geplaas op godsdiens en onderwys in sy persoonlike en volkslewe. Met die vestiging van Afrikanergemeenskappe buite ons landsgrense is hierdie tradisie in talle wêrelddele gehandhaaf. So ook in Oos-Afrika. In Tanganjika (Tanzanië) het mnre. Gert de Beer, JF van Wyk, HJC Pieterse en andere, groot pionierswerk op onderwysgebied in belang van die Afrikanerkind verrig. In Nairobi, Kenia, was mnr. PG Nel die eerste (en laaste) Afrikaansonderwyser aan die Engelse hoërskool in Nairobi (1950–1954). In 1946 is besluit om ’n Afrikaanse skool op Thomson Falls te bou. In 1947 is uitvoering aan hierdie besluit gegee met die opening van ’n beskeie skooltjie op Ol Joro Orok, by Thomsons Falls, met “meester” J van der Westhuizen as hoof. In 1948 het die NG Sinode (Suid-Afrika) R30 000 (£15 000) vir ’n Afrikaanse skool en koshuis op Thomsons Falls bewillig. Die dryfkrag en besieling agter hierdie grootse kultuuraksie in die vreemde was wyle ds. JH (Hoffie) Louw, leraar van daardie gemeenskap. In 1950 is die boukontrak (R33 000) vir die koshuise geteken. In 1951 het die leerlinge van die Ol Joro-skooltjie ’n toer deur die destydse Unie onderneem om geld vir die nuwe skool in te samel; 16 000 km is afgelê, 40 konserte is aangebied en R5000 is ingesamel. Op 5 April 1952 is die koshuis amptelik in gebruik geneem deur brig. Campbell Ross, SA se Hoë kommissaris in Nairobi, terwyl die hoeksteen van die Van Riebeeckskool op Thomsons Falls deur die NG Kerk-moderator, ds. CB Brink, gelê is. Teen 1958 was die skool feitlik voltooi. Die argiefstukke vermeld ’n personeel van nege met oor die honderd leerlinge. Merkwaardig hier is die groot materiële offers wat die Afrikaanse gemeenskap vir die verwesenliking van hulle ideaal gebring het. Die Van Riebeeckskool, saam met die nuwe kerk, was ’n manifestasie van hulle kulturele belydenis. Op 6 April 1960 is die skool amptelik ingewy deur ds. AF Louw, van Bothashof, Salisbury. Die Van Riebeeckskool het die brandpunt van die Afrikaanse Kultuurlewe gebly tot Uhuru. As gevolg van massale emigrasie van Afrikaners is die skool in 1963 aan ’n Amerikaanse Sendinggenootskap verkoop. Dit was die einde van nog ’n epog in die kultuurgeskiedenis van die Afrikaner. Met dankbaarheid kan gemeld word dat oudleerlinge van die Van Riebeeckskool, Thomsons Falls, reeds ’n groot bydrae tot die kulturele en ekonomiese lewe in die RSA gelewer het.

 

Geboortes

1830 – Daniël Jacobus Erasmus, voormalige waarnemende staatspresident van die ZAR (November 1871 tot Julie 1972) († 30 April 1913)

Daniël Jacobus Erasmus is op 5 April 1830 in die distrik Bedford gebore. Nadat president MW Pretorius in 1871 bedank het, word Erasmus tot waarnemende Transvaalse Staatspresident verkies. As kommandant neem hy ook in 1883 aan die Mapog-oorlog deel. Hy is op Bethal oorlede.

1900 – DJ Roode, musiekonderwyser, orrelis, koorleier, komponis van Afrikaanse liedere en eerste musiekprofessor aan die Vrystaatse Universiteit (†

 

Sterftes                                     

1900 – Graaf George de Villebois-Mareuil, Franse edelman en Boeregeneraal in die ABO, sneuwel by Boshof, Vrystaat (* 22 Maart 1847)

Graaf Georges de Villebois-Mareuil, die Franse edelman, is op 17 Maart 1900 te Kroonstad tot veggeneraal van die Boere benoem deur presidente Kruger en Steyn. Sy opdrag was om ’n legioen te stig uit die vreemdelinge wat hulle aan die kant van die Boererepublieke geskaar het. Op 24 Maart het hy met ongeveer 125 Franse en Hollanders uit Kroonstad vertrek om na Modderrivier te gaan en die spoorlyn suid van Kimberley op te blaas. Hierdeur sou die lewensbelangrike verbindingslyn van die Britte van die Kaap na Transvaal, waarheen lord Roberts aan’t opruk was, afgesny word. Onderweg sou hy ’n nagtelike aanval op Boshof uitvoer om die dorp te ontset, waar net ’n klein Engelse garnisoen was. Voordat hy egter Boshof kon bereik, het die Engelse ’n sterk leër daar geplaas. Toe hy in die vroeë skemer van 5 April Boshof nader, was daar geen sprake van ’n aanval nie. Sowat 9 myl suid van Boshof het hy en sy manskappe in die koelte van bome gaan rus om in die donker van die aand verder te gaan. Die Engelse is van hul skuilplek verwittig en het ’n sterk mag teen hulle uitgestuur. Vier uur lank het hy en sy manskappe dapper teenstand gebied, voordat hy dodelik gewond is.

1941 – Hugo Pieter Naudé, skilder (* 23 Julie 1868)

Pieter Hugo Naudé is in die distrik Worcester, Kaapland, gebore. Hy studeer kuns in Londen, München en Fontainebleau en ook in Italië. Vanaf 1896 reis en skilder hy deur Suid-Afrika, waarna hy hom in Worcester vestig. Na verdere reise trou hy in 1915 en rig dan finaal sy bekende ateljee op Worcester in. Hy het vroeg reeds erkenning vir sy portrette, effens romantiese landskappe en fyn tekeninge ontvang en was een van Suid-Afrika se gewildste kunstenaars. Hy het hom van die destydse sektetaal en gebruike van die kuns bevry en het van die akademiese tot ’n individueel-, vrye skilder- en tekenstyl ontwikkel. Met sy vryer gebruik van kleur en kwistige verfaanwending, het Naudé se werk later as ’n soort impressionisme ontwikkel. Sy geliefkoosde landskappe was blombestrooide valleie tussen berge, in ‘n atmosfeer van voortdurende lente of somer. Sy huis op Worcester het bewaar gebly as die Hugo Naudé-Kunssentrum. Sy werke word in die meeste openbare kunsversamelings in Suid-Afrika gevind. Hy is op 5 April 1941 op Worcester oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/