3 SEPTEMBER
September 3, 2015
5 SEPTEMBER
September 5, 2015

Gebeure

1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Gatsrand

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Panstasie, Middelburg, Tvl; Leeuwriviermeule, Ladybrand

1931 – Die Capitol-teater, in Pretoria, beskryf as die beste in die wêreld, word ingewy

1939 – Suid-Afrika verklaar oorlog teen Duitsland

Net soos dit met die Eerste Wêreldoorlog die geval was, het die Tweede Wêreldoorlog wat op 1 September 1939 uitgebreek het, om die handhawing van die beginsel van die magsewewig gegaan. Onder leiding van Adolf Hitler het Duitsland weer so in sterkte toegeneem dat hy die magsewewig in Europa aangetas het. Nadat Duitsland op 23 Augustus 1939 ’n nie-aanvalsverdrag met Rusland gesluit het, het hy ’n week later Pole binnegeval. Op 3 September het Brittanje en Frankryk oorlog teen Duitsland verklaar. Amerika sou voorlopig neutraal bly, terwyl Japan reeds in ’n oorlog teen China verkeer het. Ook Italië het aanvanklik neutraal gebly. Die eerste helfte van die oorlog is gekenmerk deur groot Duitse oorwinnings. Naas Pole, is ook Denemarke, Noorweë, Nederland en België deur die Duitse magte binnegeval. Frankryk is in ’n veldtog van slegs ses weke tot kapitulasie gedwing. Danksy die beskerming wat die see aan hom verleen het, kon Brittanje die stryd egter voortsit. Die blokkade wat die Britse vloot op Duitsland toegepas het en die feit dat die Britse Lugmag nie verslaan kon word nie, het veroorsaak dat Hitler besluit het om Rusland op 22 Junie 1941 binne te val, ten einde hom van die Russiese hulpbronne meester te maak. Die Duitsers kon egter nie daarin slaag om die Russe te vernietig nie. Op 7 Desember het Japanse strydkragte ’n onverwagte aanval op die Amerikaanse vlootbasis by Pearl Harbour gedoen. Die strydtoneel is daardeur grootliks uitgebrei. Na slegs ses maande kon die Amerikaners egter begin om die Japanners terug te dryf. Aan die einde van 1942 kon die Amerikaners, die Britte en die Russe aan al die fronte tot die offensief oorgaan. Die een oorwinning na die ander is behaal, en so is Duitsland op 7 Mei 1945 en Japan op 2 September tot oorgawe gedwing. Suid-Afrika het volgens ’n besluit van die Volksraad op 4 September 1939 ook tot die oorlog onder leiding van genl. JC Smuts toegetree. Dit was teen die sin en wil van die meerderheid van die Afrikaners. Die Nasionale Party het dwarsdeur die oorlog slegs van konstitusionele middele gebruik gemaak om genl. Smuts in sy beleid teen te gaan. Dit het egter nie verhinder dat ’n nuwe organisasie, die Ossewabrandwag, ontstaan het nie. Hierdie organisasie het ’n vorm van diktatuur voorgestaan. Dit het daartoe gelei dat enige honderde Afrikaners geïnterneer is. Dit is ook gedoen met lede van die Verdedigingsmag en die Polisiemag wat nie bereid was om aan die oorlog deel te neem nie. Onder die voorstanders van die oorlog is weer ’n organisasie in die lewe geroep met die naam Waarheidsridders. Hierdie organisasie was ook daarvoor verantwoordelik dat heelwat Afrikaners geïnterneer is. 

2008 – Laaste uitgawe van Swartland en Weskus Herald

Die laaste uitgawe van die onafhanklike weekblad vir die Weskusstreek, Swartland en Weskus Herald, verskyn op Vredendal in Suid-Afrika.

 

Geboortes

1850 – Abraham Fischer, eerste en enigste minister van die Oranjerivierkolonie († 16 November 1913)

Abraham Fischer is in Kaapstad gebore waar hy ook sy skool- en naskoolse opleiding ontvang het. Hy het hom veral as regstudent onderskei en het die regsberoep betree as prokureur in Kimberley en van 1875 af as prokureur en advokaat in Bloemfontein. Hier het hy in aanraking gekom en vriendskapsbande gesmee met advokate MT Steyn (later president) en JBM Hertzog (later Boeregeneraal en premier). Sy politieke loopbaan het op 9 Januarie 1879 begin as Volksraadlid vir Philippolis en later vir Smithfield. Fischer het die hoofbemiddelaarsrol in die spanningsjare voor 1899 tussen sir Alfred Milner, pres. SJP Kruger en pres. MT Steyn gespeel en hom onafgebroke vir vrede beywer. Toe oorlog onvermydelik was, het hy die Boere-ultimatum in sy finale vorm gegiet. Hy was die hoofonderhandelaar om hulp aan die Boere in Europa en Amerika, maar ofskoon hy die vriendelike moondhede geïmponeer het, kon hy geen hulp kry nie. Na die vrede in 1902 het Fischer in 1907 Eerste Minister van die Vrystaat geword. In 1908/09 het hy ’n belangrike rol in die totstandkoming van die Unie gespeel, en ’n pos in die eerste Botha-kabinet beklee. Hy is op 13 November 1913 in Kaapstad oorlede.

1886 – Johannes Antonie Smith, skilder, kunskritikus, kunsredakteur en joernalis († 2 April 1954)

Johannes Antonie Smith is op Aberdeen gebore. Hy was ’n skilder en kunskritikus, kunsredakteur van ’n koerant en joernalis. Hy was lid van verskeie kunsliggame en het uitstallings gehou. Op 3 Julie 1902 is hy as sestienjarige skolier aan hoogverraad skuldig bevind en gevonnis. Hoewel vrede op 31 Mei 1902 gesluit is, is die krygswet nie voor 16 September 1902 finaal in Kaapland opgehef nie. Sy boek Ek rebelleer vertel sy ervarings tydens die Anglo-Boereoorlog. In die Kaaplandse Ossewabrandwag het hy ’n belangrike rol gespeel. Op 2 April 1954 is hy op George oorlede.

1923 – Gideon Joubert, verslaggewer en skrywer († 27 Oktober 2010)

1937 – Pieter Kooij, pianis, musiekonderwyser en resensent († 20 September 2018)

Pieter Kooij was ’n Suid-Afrikaanse pianis en musiekonderwyser en -resensent. Sy ouers was Johan en Elizabeth. Hy het ’n BMus (Hons) graad aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi en is daarna met ’n beurs na Duitsland waar hy vir 3 jaar klavier studeer het. Hy was musiekresensent by Die Burger en die Pieter Kooij-musiekkompetisie is na hom vernoem. Hy sterf op 20 September 2018 in die ouderdom van 81 aan leukemie en word oorleef deur drie susters. Sy twee broers het hom reeds ontval.

 

Sterftes

1887 – Christoffel Coetzee de Villiers, vader van die Suid-Afrikaanse genealogie (* 10 Maart 1850)

Met reg word Christoffel Coetzee de Villiers nie alleen die vader nie, maar ook die prins van die Suid-Afrikaanse genealogie genoem. Hy het feitlik alleen die geslagsregisters opgestel van byna alle Suid-Afrikaanse stamouers wat voor 1880 na die Kaap gekom het. Dis ’n prestasie wat uniek is in die genealogiese wêreld. Om hierdie groot taak te verrig, het hy die doop- en trouregisters van die agt oudste gemeentes in ons land van 1665 tot 1810 deurgewerk en die inskrywings onder die betrokke familiename geïndekseer. Aangesien die registers van sommige gemeentes, soos Paarl en Stellenbosch, onvolledig was, het hy die leemtes probeer aanvul deur navorsing in die staatsargief en weesheerkantoor. Ongelukkig is hy jonk oorlede, op 4 September 1887 voor sy 38ste verjaarsdag, toe sy groot taak nog nie voltooi was nie. Die Kaapse parlement het toe ’n som geld beskikbaar gestel vir die voltooiing van die werk deur G McCall Theal en WJ Vlok. In 1893 is die eerste deel van die Geslachtregister der oude Kaapsche Familiën gepubliseer, gevolg deur dele twee en drie in 1894. Hierdie registers is in 1966 deur Balkema herdruk en staan bekend as die De Villiers/Pama-herdruk.

1903 – Daniël Petrus (Daantjie) van den Heever, Hollandse taalstryder en voorstander van Afrikaans (* 18 Januarie 1838)

2009 – Barend Jacobus Toerien, digter (* 29 Maart 1921)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/