3 OKTOBER
October 3, 2015
5 OKTOBER
October 5, 2015

Gebeure

1886 – Amptelike stigtingsdag van die goudstad Johannesburg

1929 – Tafelberg-kabelkar

Die oorspronklike Tafelberg-kabelkar word in Kaapstad, Suid-Afrika, geopen. ’n Verbeterde kabelkar word op 4 Oktober 1997 ingewy.

1938 – Huldigingsfees vir Vader Kestell

Dr. Johan Daniël Kestell, wat in die algemeen bekend was as Vader Kestell, het op haas elke terrein ’n onuitwisbare bydrae tot die ontwikkeling en uitbouing van die Afrikaner gelewer. Sy hulp en leiding in ’n tydperk toe die Afrikaner deur ’n smeltkoers gegaan het, was tiperend vir onbaatsugtige diens. Aan die vooraand van sy vier-en-tagtigste verjaarsdag (hy is op 15 Desember 1854 gebore) het die FAK, in antwoord op versoeke van die volk, ’n huldigingsfees in die Bloemfonteinse stadsaal aan hom gewy, in dankbare erkenning aan sy onbaatsugtige dienslewering.

 

Geboortes

1836 – Pieter Arnoldus (Piet) Cronjé, militaris en Boeregeneraal († 4 Februarie 1911)

Piet Cronjé wat op Colesberg gebore is, was by uitstek ’n krygsman – ’n Boeregeneraal in diens van die Zuid-Afrikaansche Republiek. Hy was vurig en voortvarend en soms eiesinnig van geaardheid soos onder meer blyk met die verkoop van Piet Bezuidenhout se wa wat die vonk in die kruitvat met die Transvaalse Vryheidsoorlog was. Sy krygsmanskap het ’n hoogtepunt bereik met die slag by Magersfontein waar lord Methuen verslaan is. Genl. Cronjé het hier op vernuftige wyse persoonlik oor die hele front die bevel gevoer. Dié krygsprestasie is egter kort daarna bederf deur sy onwilligheid om dit op te volg. Methuen het hom met klein geveggies besig gehou totdat lord Roberts se mag opgedaag het en die Cronjé-mag van 4000 man by Paardeberg vasgedruk en tot oorgawe gedwing het. Genl. Cronjé is gevang en na St. Helena gestuur. Ná die oorlog was hy ’n tyd lank in Amerika voordat hy hom op sy plaas Palmietfontein by Ventersdorp gevestig het. Hy het op 4 Februarie 1911 aan beroerte beswyk.

1875 – Gustav Schoeman (Gustav) Preller, joernalis, historikus, taalstryder, kultuurman, skrywer en literêre kritikus  († 7 Oktober 1943)

Gustav Schoeman Preller kan met reg die nasionale geskiedskrywer van die Afrikaner genoem word alhoewel hy geen wetenskaplike geskiedskrywer was nie, maar hom as uitmuntende taalgebruiker en stilis in sy historiese werke openbaar het. Hy het op patriotiese wyse sy volk bewus gemaak van hulle geskiedenis. Hy is op hierdie dag in Pretoria gebore en was van moederskant ’n agterkleinkind van die Voortrekker, kmdt-genl. Stephanus Schoeman. Hy was getroud met Johanna Christina Pretorius, agterkleindogter van Piet Retief. Met nie veel skoolonderrig nie was hy agtereenvolgend winkelbediende, prokureursklerk, en ook hoofklerk in die Departement van Mynwese toe die Anglo-Boereoorlog in 1899 uitbreek. Terwyl hy as lid van die Staatsartillerie aan die oorlog deelneem, werk hy ook as oorlogskorrespondent veral vir De Volkstem en vier maande voor die einde van oorlog word hy as krygsgevangene na Indië gestuur. Terug in Suid-Afrika neem hy in Augustus 1902 die redakteurskap van Land en Volk van sy vriend Eugène Marais oor en begin sy joernalistieke loopbaan, waarin hy hom in besondere mate onderskei as veelsydige joernalis, maar ook, eers as assistentredakteur en redakteur van De Volkstem in 1903 tot 1925, en redakteur van Ons Vaderland, later Die Vaderland in 1925 tot 1936. Preller het hom in die jare onmiddellik na die Anglo-Boereoorlog openbaar as vurige pleitbesorger en stryder vir die gebruik en erkenning van sy moedertaal, Afrikaans, en sy reeks koerantartikels onder die titel Laatt ons toch ernst wezen! en Een voorstel ter handhaving en veredeling van het Afrikaans als schrijftaal (in 1905 in brosjurevorm uitgegee) word tereg die manifes van die Taalbeweging genoem. Preller wend hom veral tot die geskiedskrywing en produseer ’n hele aantal werke wat veral betrekking het op die twee groot momente in die geskiedenis van die Afrikanervolk: Die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog. Preller was ook deur en deur kultuurman, en het sy veelsydige begaafdheid gebruik om die Afrikaanse gedagte te bevorder. Sy werksaamhede is in 1931 bekroon met die toekenning van ’n eredoktorsgraad deur die Universiteit van Stellenbosch. Hy is op sy plaas Pelindaba naby die Hartbeespoortdam op 6 Oktober 1943 oorlede en in die familiekerkhof op die plaas begrawe waar in 1947 ’n gedenkplaat op sy graf onthul is.

1910 – Pierre Etienne Rousseau, wetenskaplike en stigter van SASOL († 12 April 1993)

Pierre Etienne Rosseau is op Worcester gebore, het sy ingenieursopleiding aan die Universiteit van Stellenbosch en Kaapstad voltooi en daarna in die buiteland studie gemaak van steenkool en aanverwante tegnologiese ontwikkeling. Terug in Suid-Afrika, was hy bestem om een van die Afrikanernyweraars te word wat die weg vir die ekonomiese ontwaking van die Afrikaner sou baan. Twee belangrike besluite van die Eerste Ekonomiese Volkskongres van 1939 sou in later jare ’n belangrike rol in die lewe van dr. Rousseau speel, naamlik die stigting van Federale Volksbelegggings as ’n sterk Afrikaanse finansieringsmaatskappy, waarvan hy agtereenvolgens amptenaar, besturende direkteur en voorsitter was. Die ander besluit was die opdrag aan die FAK om ’n Ekonomiese Instituut daar te stel om te help met die ekonomiese opheffing van die  Afrikaner, waarin hy as bestuurslid die geleentheid gekry het om rigtinggewende leiding te gee. Met die oprigting van Sasol, kon hy sy gespesialiseerde kennis oor steenkool tot groot voordeel van sy land aanwend. In sy halfeeufeesjaar het die FAK ’n spesiale toekenning aan hom gedoen vir sy volgehoue bevordering van die Afrikaner-ekonomie.

1916 – Anton Rupert, entrepreneur, sakeleier en omgewingsbewaarder († 18 Januarie 2006)

Anthony Edward Rupert was ’n Afrikaanse entrepreneur van Suid-Afrika, sakeman en omgewingsbewaarder. Hy is gebore en het grootgeword op die dorp Graaff-Reinet in die Oos-Kaap. Hy studeer in Pretoria en trek later na Stellenbosch, waar die Rembrandt Groep gestig is en steeds sy hoofkwartier het. Hy sterf in sy slaap in sy huis in Thibaultstraat, Stellenbosch, in die ouderdom van 89, en word oorleef deur sy seun, Johann, dogter, Hanneli, en ses kleinkinders. In 2004, is hy vereer met die 28ste plek onder die Voorste 100 Groot Suid-Afrikaners.

 

Sterftes

1871 – Sarel Arnoldus (Sarel) Cilliers, godsdienstige Voortrekkerleier (* 7 September 1801)

Op hierdie dag is die bekende Voortrekkerleier, Sarel Cilliers op Klein-Drakenstein gebore. Met die begin van die Groot Trek bevind hy hom in die omgewing van Graaff-Reinet, en in 1836 sluit hy hom aan by die trekgroep van Hendrik Potgieter. Hy neem deel aan die beslissende Slag van Vegkop en vergesel ook die Voortrekkers se ekspedisie teen die Matebele. Veral as geestelike leidsman beteken hy baie vir die medetrekkers, dien in die kerkraad, neem dienste waar en is later ’n eerbiedwaardige ouderling, eers in Pietermaritzburg en later in die gemeente Kroonstad, want in 1847 vestig hy hom op die plaas Doornfontein in die distrik van die teenswoordige Lindley. Hy word ook genoem die Vader van die Gelofte, want dit is hy was as spreekbuis van die Voortrekkers by Danskraal die Gelofte aflê en daarna ook deelneem aan die roemryke Slag by Bloedrivier. In die jare na die Slag by Bloedrivier is die Sondagoorwinning al minder herdenk en was dit selfs vir Sarel Cilliers nodig om by ’n geleentheid die held van die slag, Andries Pretorius, aan te spreek oor sy versuim om die Gelofte na te kom. Daarteenoor het Sarel Cilliers getrou die besondere gebeurtenis herdink. Sy huis was die middelpunt van die herdenkingsgeleentheid, wat gewoonlik uit die volgende program bestaan het:
In die voormiddag het hy en sy gesin saam gesing, gebid vir sy land en volk, uit die Bybel gelees en daarna is die Gelofte verduidelik en die geskiedenis vertel. In die namiddag was die mense weer byeen om self elkeen iets oor die geleentheid mee te deel. Vir Sarel Cilliers het die herdenking van Geloftedag deur sy hele lewe ’n ernstige saak gebly, ondanks die gebrek aan ’n nasionale besef, wat eers heelwat later aan die herdenking van die Gelofte ’n sentrale plek in die Afrikaner se volkslewe sou toeken. In die Vrystaat neem hy ook verantwoordelik deel aan die volkslewe en stuur self in 1854 voorstelle vir die nuwe grondwet na Bloemfontein. Tot sy dood op 4 Oktober 1871 op Lindley, neem hy aktief aan die kerklike lewe deel en is hy verskeie kere ouderling by Sinodesittings. So was hy byvoorbeeld teenwoordig by die Sinode van 1862, toe die Transgariepse afgevaardigdes se sittings reg deur ’n omstrede hofbeslissing (die bekende Loedolfsaak) hul ontneem is. 

1919 – Petrus Postma, predikant en Christelike onderwysaktivis (* 21 Januarie 1854)

Ds. Petrus Postma was ’n predikant in die Gereformeerde Kerk. Hy word veral daarvoor onthou dat hy tydens sy 22 jaar lange dienstyd as predikant van die Gereformeerde gemeente Pretoria pres. Paul Kruger, ook ’n Dopper uit die Noordoos-Kaap, se kapelaan en getroue raadgewer, veral oor godsdiens- en opvoedingsaangeleenthede, geword het en baie verrig het ter bevordering van Christelik-Nasionale Onderwys.

1957 – Jacob Hendrik (Henk) Pierneef, skilder (* 13 Augustus 1886)

JH Pierneef was ’n Suid-Afrikaanse landskapkunstenaar en word algemeen beskou as een van die beste ou Suid-Afrikaanse meesters. Sy kenmerkende styl word wyd herken en sy werk is grootliks deur die Suid-Afrikaanse landskap beïnvloed.

1979 – Gerard Rissik, bankier en die vierde president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (* 1 Februarie 1903)

Gerard Rissik was ’n Suid-Afrikaanse bankier en die vierde president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank.

1999 – Sir De Villiers Graaff, leier van die Verenigde Party (1956 tot 1977) (* 8 Desember 1913)

Sir David Pieter de Villiers Graaff, of sir De Villiers Graaff soos hy algemeen bekend gestaan het, was van 1956 tot 1977 leier van die Verenigde Party en dus leier van die Amptelike Opposisie in die Volksraad, en ’n kort rukkie lank die tussentydse leier van die Nuwe Republiek Party.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/