3 NOVEMBER
November 3, 2015
5 NOVEMBER
November 4, 2015

Gebeure

1778 – Plettenbergbaai vernoem

Plettenbergbaai word na Joachim van Plettenberg, die 19de Goewerneur aan die Kaap, vernoem.

1795 – Colonie van Swellendam aanvaar Britse heerskappy

Die Colonie van Swellendam aanvaar Britse heerskappy onmiddellik na Britse besetting van die Kaap, drie maande na die VOC-magistraat AA Faure uitgeskop is en onafhanklikheid verklaar is.

1863 – Die spoorlyn tussen Stellenbosch en Wellington in die Wes-Kaap geopen

1969 – Diamante ontdek op die plek wat Kimberley sou word

1910 – Eerste parlement van die Unie van Suid-Afrika geopen

Kaapstad was ryklik versier vir die geleentheid. Dwarsoor Adderleystraat is talle boë opgerig met slagspreuke in Engels en Nederlands. Oor laasgenoemde was baie mense ontevrede. Verder was orkesuitvoerings, danspartye, uitstallings en historiese voorstellings aan die orde van die dag. Burggraaf Gladstone het as eerste goewerneur-generaal, die hertog van Connaught, sy vrou en hul dogter, prinses Patricia, ontmoet. Oud-president FW Reitz was die eerste President van die Senaat en James Molteno die eerste Speaker van die Volksraad. Toe Molteno sy plek die eerste keer ingeneem het, het baie mense hande geklap, en volgens Britse protokol was dit ’n ernstige fout. Duisende mense het Connaught en sy vrou toegejuig toe hulle met die perdekoets gery het om die amptelike opening namens die Britse vors te behartig. Om 12h05 is die simboliese ampstaf die pas vergrote Parlementsgebou binnegedra, gevolg deur die Swart Roede, speaker Molteno, GR Hofmeyr as Klerk van die Volksraad, die President van die Senaat, FW Reitz, die Senaatsklerk, die Aartsbiskop van die St. George-katedraal en ds. AI Steytler, Moderator van die Kaapse NG Kerk, militêre lui, die Goewerneur-generaal in sy blou-en-swart uniform. Daarna volg die ampsdraers van die hertog van Connaught. Hulle voorkoms, uniforms en eretekens is Brits. Die pikswart geklede prinses Patricia is kenmerkend ’n Engelse meisie. Die Hertog self dra die uniform van ’n Britse veldmaarskalk. Wanneer hy die spesiale verhogie bereik, word die Britse volkslied vir die soveelste keer in hierdie dae gespeel. Met sy rede het hy die gehoor tot verdere Britse bewondering weggevoer. Nadat koning George V se kabelgram van gelukwense en seën voorgelees is, wou die aanwesiges nogmaals toejuig, maar dit het in die kiem gesterf. ’n Mens “apploudiseer” nie Britse koninklikes nie. Suid-Afrika sou nog baie moet leer eer hy ’n goeie Britse onderdaan is! In sy openingsrede het die hertog aan die Britse koningshuis hulde gebring. Om 12h30 was alles afgeloop en kon die skare weer eens die hertoggesin in die strate toejuig. Die oorheersend Britse parlementêre tradisies het geleidelik plek gemaak vir ons inheemse rituele en tradisies. Ons eie volkslied, eie Weermagslui, die Afrikaanse taal en ons eie belange beklee ’n besondere plek in die seremonies. Die Westminsterstelsel as sodanig is ook nie meer die alfa en omega van ons politiek nie, maar wel ’n republikeinse volkestelsel, waardeur die Afrikaner sy suiwer staatkundige denke aangaande volkeverteenwoordiging, en nie bloot burgerverteenwoordiging nie, in die praktyk beklemtoon.

1939 – Eerste georganiseerde jukskeiwedstryd in Suid-Afrika

Die eerste georganiseerde jukskeiwedstryd is op hierdie dag tussen die Klein Drakenstein en die KWV-spanne beslis. Op 25 November 1939 sou die eerste bekerwedstryd tussen agt laers gespeel. Van hierdie beskeie begin af het die spel gegroei tot die amptelike stigting van die SA Jukskeiraad op 25 Oktober 1940 in die Koffiehuis, Bloemfontein, waar die grondwet en die spelreëls aanvaar is. Die eerste nie-amptelike provinsiale kragmeting is op 2 Maart 1940 in Port Elizabeth gehou tussen die Oos-Kaaplandse Amateur-Boeresportbond en die Vrystaat. Van die stigting van die eerste bond, die Vrystaat op 9 Desember 1939, het die spel so dramaties ingeslaan dat daar in 1979 22 bonde was afgesien van die Rhodesiese Jukskeiraad en die Jukskei Association of the USA. Die oorspronklike pen was die skei in die juk van die hotvooros wat ’n langer kop en lengte gehad het as al die ander skeie van die res van ’n span osse. Deesdae is die pen rond, staan 50 mm onder die sand en 460 mm bokant die oppervlak daarvan. Die skei se evolusie het van die ou bottelskei, die was-skei, die driekantige en dubbelskei en die koekroller ontwikkel tot die ronde komposisie- (rubber)-skei en ’n houthandvatsel met ’n maksimum- en minumumlengte van 460 en 300 mm. Dit is ’n sosiale en ’n gesinspel. Sy grootste bydrae is sy verryking van ons taal. Uitdrukkings soos “die wa is in die drif”, “klim in die boom” (sodat almal jou kan sien as gevolg van ’n besondere prestasie); en die behoud van begrippe soos “skof”, “trek”, “juk”, “skei”, “touleier” en “briekaandraai” het deur jukskei in die volksmond behoue gebly.

1939 – Ontwerp-grondwet vir ’n republiek

Die Afrikanereenheidskomitee (AEK), wat op 9 Junie 1940 saamgestel is om die breuke in Afrikanergeledere te heel, het ’n bykomende taak gehad: om ’n grondwet vir ’n toekomstige republiek op te stel. Reeds op 4 November 1939 het ’n groep Afrikaners in dr. HF Verwoerd se kantoor by Die Transvaler in Johannesburg byeengekom om ’n ontwerp-grondwet vir ’n moontlike republiek te bespreek. Die ontwerp sou na voltooiing ter beskikking van die Nasionale Party gestel word. ’n Kommissie onder voorsitterskap van prof. LJ du Plessis is saamgestel uit o.m. dr. TE Dönges, dr. N Diederichs, dr. A Hertzog, dr. HF Verwoerd, prof. CGW Schumann, mnr. IM Lombard en prof. HB Thom. Om praktiese redes is gevind dat dit beter sou wees as net een mens die ontwerp opstel en dr. Verwoerd het die taak op hom geneem. ’n Ontwerp-grondwet van 29 bladsye is aan prof. Du Plessis gestuur wat dit na wysiginge deur ’n sentrale komitee van verskillende organisasies, aan dr. Malan oorhandig het.

1988 – Vrye Weekblad verskyn die eerste keer

 

Geboortes

Geen

 

Sterftes

1950 – Ferdinand Postma, eerste rektor van die PU vir CHO (* 15 Julie 1879)

Ferdinand Postma is op Aliwal-Noord gebore. Hy matrikuleer aan die Teologiese Skool Burgersdorp in 1896 en woon in dieselfde jaar die eerste Afrikaanse Taalkongres in die Paarl saam met sy vader by, waar ’n lewenslange vriendskap met Totius begin. Sy huis- en skoolopvoeding skerp by hom die liefde vir die Gereformeerde geloof en Afrikaanse volk en taal in, ’n bodem waaruit sy idealisme en daadkrag teen groot teenslae in, steeds gegroei het. Na deelname aan die Heidelbergse Kommando in 1899, gaan hy na die Vrije Universiteit van dr A Kuyper te Amsterdam. In 1904 aanvaar hy die professoraat in die Literariese Afdeling van die Teologiese Skool op Burgersdorp, wat die volgende jaar na Potchefstroom verplaas word. Hy doktoreer in 1914 in die Klassieke Lettere aan die Vrije Universiteit, Amsterdam, en doseer selfs, naas rektorale pligte, Latyn en Grieks tot aan sy dood op 4 November 1950, aan die vooraand van die selfstandigwording van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. Hy het, naas sy ongeëwenaarde bydrae op universitêre gebied, binne die destydse Unisa ook steeds ’n leidende rol gespeel in die Tweede Afrikaanse Taalbeweging en was ’n vurige voorstander van Christelik-nasionale onderwys. Ferdinand Postma was op akademies-universitêre gebiede een van die grootste seuns van Suid-Afrika, wat saam met sy kollegas ’n unieke rol gespeel het in die wording van die Afrikaanse volk gedurende die eerste helfte van hierdie eeu.

1983 – Hendrik Bernardus (HB) Thom, skrywer en historikus (* 13 Desember 1905)

Hendrik Bernardus Thom, gewese Rektor van die Universiteit van Stellenbosch, het ’n onuitwisbare stempel afgedruk op die universiteitswese, die opvoedkunde en die kultuurlewe in Suid-Afrika. Hy is ’n volksleier wat hom onderskei het as dosent en Rektor van die Universiteit van Stellenbosch, as skrywer op vakgebied, as feesredenaar, as lid van verskeie geleerde verenigings, kultuurliggame, rade en komitees, en as direkteur van verskeie trusts, fondse en ander instansies. Onder sy talle lidmaatskappe tel dié van die Wetenskaplike Adviesraad van die Eerste Minister en die Nasionale Kultuurraad, en hy is ook voorsitter van die Konvokasie van die Universiteit van Stellenbosch. Prof. Thom was voorsitter van die FAK van 1952 tot 1970. Hy is reeds deur verskeie hoë liggame vereer, waaronder die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (4 keer), die Ryks-universiteit van Gent, die Universiteit van Stellenbosch met ’n eredoktorsgraad in die opvoedkunde, die FAK met sy eksklusiewe Erepenning vir Volksdiens, die Voortrekkers, die Saamwerk-Unie van Natal, die Kaaplandse Nasionale Party en die Universiteitskollege, Wes-Kaapland. In 1979 is die Ruiterbeeld vir Afrikanerdiens deur die Federasie van Rapportryerskorpse aan hom oorhandig. Hy het ook eretoekennings ontvang vir sy aandeel aan die Voortrekkereeufees (1938), die inwyding van die Voortrekkermonument (1949) en die Uniefees (1960) en was erevoorsitter van verskeie akademiese en kulturele verenigings.

1989 – Minnie Postma, skrywer (* 18 Augustus 1908)

2016 – Dot Serfontein, Suid-Afrikaanse skrywer (* 30 April  1925)

Dot Serfontein was ’n skrywer van kortverhale en kontreiverhale. Sy was die moeder van die digter Antjie Krog. Sy het ook onder die skuilname SJ Nasau en Luca Fick geskryf.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/