3 MAART
November 1, 2016
5 MAART
November 1, 2016

Gebeure

1832 – Kaatje Kekkelbek

Die gedig oor Kaatje Kekkelbek verskyn vir die eerste keer in druk in The South African Sentinel. Dié gedig is uiters belangrik vir sy voorbeelde van vroeë Afrikaans. Die gedig word met redelike sekerheid toegeskryf aan Andrew Geddes Bain, destydse ingenieur en padbouer.

1863 – Die ontstaan van die dorp Bethulie

Gedurende 1829 het eerw. Clark van die Londen Sending Genootskap ’n “Boesman”-skool aldaar gestig. Op daardie stadium was Bethulie bekend as Moordenaarspoort. Dit volg nadat die Basoeto’s daar ’n groot aantal “Boesmans” en Griekwas vermoor het wat op hul weer die Basoeto’s vroeër aangeval het. In 1838 neem eerw. Jean Pierre Pellissier die skool namens die Franse Sending Genootskap oor. Die dorp het daarna as Caledon bekend gestaan. Die naam Caledon het egter verwarring geskep omrede daar reeds ’n Caledon in die Kaapkolonie was. Caledon se naam is daarna verander na Verhuellpolis. Die direkteure van die Franse Sending Genootskap het egter ’n ander naam verkies, en so het Bethulia ontstaan. Bethulia het as sendingstasie bly voortbestaan. Boere van die omgewing het egter aangedring op ’n dorp, en op hierdie dag ontstaan die dorp Heidelberg.

Heidelberg was met ander woorde “die buurman” van Bethulia. Die naam Heidelberg (soos Caledon) het egter verwarring geskep. Op die 8ste April 1872 het die Volksraad daarom besluit dat die dorp in geheel bekend sou staan as Bethulie.

1863 – Die ontstaan van die dorp Edenburg

Die dorp het begin as kerkdorp. Die eerste erwe is op die 24ste Februarie 1862 verkoop. Op die 28ste Februarie 1863 is ’n memorie ingedien waarin gevra was om erkenning as dorp. Hierdie versoek is op die 4de Maart 1863 toegestaan. Die dorp was aangelê op die plaas Rietfontein.

Edenburg is vernoem na ds. Andrew Murray se geboortedorp in Skotland.

1896 – Eerste beëdiging van pres. MT Steyn

Nadat strafregter Marthinus Theunis Steyn met ’n volstrekte meerderheid deur die Vrystaatse Volksraad in Desember 1895 as kandidaat vir die presidentskap aangewys is, is hy in Februarie 1896 met ’n oorweldigende meerderheid bo sy oom, JG Fraser, tot die amp verkies. As eerste gebore Vrystater, sou hy in die bekende Tweetoringkerk, soos sy voorgangers Brand en Reitz, die plegtige ampseed aflê en as vyfde en laaste Staatspresident van die Oranje-Vrystaat in die kerkgebou sy intreerede hou. Hy is ook uit hierdie kerkgebou begrawe.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Slag van Labuschagnesnek

1900 – Anglo-Boereoorlog: Boere word deur Lord Roberts in Driefontein in die Vrystaat verslaan

1901 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Zuurfontein, Philippolis; Openbaar, OVS

1901 – Anglo-Boereoorlog: Emily Hobhouse besoek Springfontein

1919 – Die Slangkopvuurtoring in Kommetjie, op die Kaapse Skiereiland word in gebruik geneem

1919 – JH Hofmeyr word rektor

Op hierdie dag het die intellektueel hoog begaafde Jan Hendrik (Frederik) Hofmeyr op 24-jarige ouderdom rektor van die Witwatersrandse Mynskool, Universiteit in 1922, geword. Op 29 jaar was hy in 1924 Administrateur van Transvaal. Alles wat hy tot op daardie tydstip aangeraak het, het hy hoofsaaklik ’n groot sukses van gemaak. Sy breinvermoë is deur vriend en vyand geprys. Maar hy het van die begin af en deurgaans vreemd teenoor die Afrikanerstryd gestaan. In die jare twintig en dertig was elke Afrikanerleier nodig om die volk ekonomies, polities en kultureel te ondersteun. Die Afrikanergevoel het gevolglik teen hom gegroei, en hy was verplig om in 1929 as Transvaalse Administrateur te bedank. Hy het hom dadelik by Smuts se Suid-Afrikaanse Party geskaar, maar deurgaans ook hier half ontuis gevoel, omdat hy ’n breër, meer oop en geïntegreerde Suid-Afrikanisme voorgestaan het. Nogtans het hy na 1939 Smuts se regterhand en adjunk-premier geword. Die land was aan hom oorgelaat, want Smuts was met sy internasionale oorlogstake besig. Die gevolg was groeiende onrus by die Afrikaner, omdat sy kultuur en afkoms juis via die politiek verder bedreig is. Dit was ’n uitgemaakte saak dat Hofmeyr polities die bejaarde Smuts se opvolger sou wees. In 1948 is Smuts polities verwerp, onder meer omdat Hofmeyr eendag premier kon word.

1972 – Hendrik Verwoerddam geopen

Die grootste enkele konstruksiewerk in Suid-Afrika, die Hendrik Verwoerddam (nou Gariepdam) aan die Oranjerivier, word amptelik deur Staatspresident Jim Fouché geopen.

 

Geboortes

1890 – Gerard Leendert Pieter (Gerard) Moerdijk, argitek van o.a. die Voortrekkermonument († 29 Maart 1958)

Toe die jong Gerard Leendert Pieter Moerdijk in 1920 die boekie Kerkgeboue vir Suid-Afrika geskryf het, was hy nog ’n onbekende Johannesburgse argitek. Die Afrikaanse dagblaaie en tydskrifte het hom dadelik aangegryp as die versinnebeelding van die Afrikaner se kultuurbewustheid in die boukuns. Hy was talentvol, intelligent, ’n goeie spreker en skrywer en ’n dinamiese voorstander van ’n volksegte argitektuur. Opdragte vir die ontwerp van kerke het ingestroom en ander openbare geboue het gevolg. Toe hy op 29 Maart 1958 oorlede is, was hy ongetwyfeld die bekendste Afrikaanse argitek. Sy ontwerp vir die Voortrekkermonument was die hoogtepunt van ’n loopbaan wat geboue oor die hele land nagelaat het.

1891 – Stephanus Petrus (SP) le Roux, politikus en voormalige minister van landbou († 25 Januarie 1974)

1908 – James Norval, toneelspeler († 16 November 1970)

Die toneelspeler James Norval is op Zastron gebore en het sy toneelloopbaan in 1930 by die Afrikaanse Toneelgeselskap van Hendrik Hanekom en Willem van Zyl begin. In 1932 het hy sy eie geselskap tot stand gebring, goed ondersteun deur Anna Cloete (met wie hy later in die huwelik tree), wat verskeie stukke wat hulle opvoer, self geskryf het. James Norval ontwikkel as ’n stewige karakterspeler wat in die vyftigerjare ook die rolprentwêreld betree. In 1967 het die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns hom vereer met sy Erepenning vir Toneel. Hy is op 16 November 1970 oorlede.

Sterftes

1809 – Petrus van der Spuy, eerste Afrikaner wat predikant geword het (* 23 November 1722)

Petrus van der Spuy is in Kaapstad gebore, hy studeer in die teologie in Nederland en word op 4 Oktober 1745 deur die klassis van Amsterdam beroepbaar gestel en word hy die eerste predikant wat in Suid-Afrika gebore is. Op 22 Augustus 1746 tree hy as leraar van Kaapstad in diens. In 1753 word hy na die gemeente Drakenstein verplaas, waar hy teen 1771 in ’n jarelange kerktwis betrokke raak waarin ouderling TA Theron en Thieleman Roos die hoofbetrokkenes was. In 1781 aanvaar hy sy emeritaat en vestig hy hom op Stellenbosch, waar hy sy dienste as geneesheer gratis aanbied. Hy sterf op 4 Maart 1809 op Stellenbosch.

2017 – Margaret Roberts, ’n Suid-Afrikaanse kruiedokter en skrywer (* 1937)

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/