3 JANUARIE
January 3, 2016
5 JANUARIE
January 5, 2016

Gebeure

1806 – Die einde van die Bataafse tydperk aan die Kaap

Gedurende hierdie tydperk ry politieke verbondenheid in Europa wipplank. Die ontwikkeling van formele staatsgesag in Engeland en Nederland is nog aan die gang. Daar vind verskeie oorloë tussen Engeland en Nederland plaas die 16de en 17de eeu. Hulle ding mee om die vestiging van handelsroetes na die Ooste.

Sowel die Nederlanders as die Engelse het belanggestel in die vestiging van ’n verversingstasie aan die Kaap. Anders as die Portugese wat langs die ooskus van Afrika opgevaar het na Indië via die Indiese Oseaan, kies hulle van die Kaap af reguit koers na die Indonesiese eilande toe. Die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) van Nederland besluit om ’n verversingspos aan die Kaap te vestig.

Teen die einde van die 18de eeu steun die Nederlanders en die Franse die Amerikaners teen die Engelse tydens die Amerikaanse Vryheidsoorlog. Hulle word deur dié vryheidsideaal beïnvloed. Nadat Napoleon die mag in Frankryk oorneem ná die Franse Rewolusie, verkry hy ook in 1799 invloed oor die buurland, Nederland, waar die Bataafse Republiek, in plaas van die Koninkryk van die Nederlande, tot stand kom. Die invloed van die Franse liberalisme met die slagspreuk “Vryheid, gelykheid en broederskap” raak dus ook in Nederland gevestig.

In die laaste twee dekades van die 18de eeu speel die VOC gaandeweg bankrot. Gedurende die oorlog tussen Frankryk en Engeland beset die Engelse die Kaap in 1795 om te verhoed dat dit nie in Franse hande val nie. Ná die Vrede van Amiens in 1802 word die Kaap aan die Bataafse Republiek teruggegee, aangesien die VOC nie meer bestaan het nie. Daar word in hierdie tydperk heelwat “liberale” veranderings aan die regering in die Kaap aangebring deur De Mist. In 1806 breek daar weer ’n oorlog tussen die Franse en Engelse uit. Op 4 Januarie 1806 sien hulle die Engelse skepe op die see, wat aanleiding gee tot die Slag van Blaauwberg. Dit lui die einde van die Bataafse tydperk aan die Kaap in.

1897 – Eerste motor in Suid-Afrika

In 1896 besluit John Percy Hess van Pretoria om Suid-Afrika se eerste motor in te voer. Die motor is in 1896 na Port Elizabeth gestuur en na Pretoria vervoer. Daarna het Hess die enigste agent vir Benz Motors in Suid-Afrika geword.

Die eerste motorrit in Suid-Afrika was op 4 Januarie 1897 in Berea Park in Pretoria. John Percy Hess het vir die eerste keer sy tweesitplek Benz Velo bestuur. Sy eerste passasiers was AE Reno, sy sakevennoot, en WJ Leyds, die Staatsekretaris. President Paul Kruger is genooi vir die rit, maar het geweier en van die kantlyn af gekyk. ’n Goue medalje is vir die geleentheid gemunt. Toeskouers moes 2 sjielings en 6 sent toegangsgeld betaal vir die plesier om hierdie wonder, die perdelose koets, te sien.

’n Week later is die Benz by die Wanderers in Johannesburg vertoon en aan ’n koffie-invoerder, AH Jacobs, verkoop. Hy wys die motor gratis aan almal wat 500g koffie by sy winkel in Pritchardstraat gekoop het. ’n Paar maande later is die motor in ’n brand verwoes.

1897 – Johannesburg Fort open

Die Ou Fort, voorheen die Johannesburgse tronk, is in 1893 deur president Paul Kruger laat bou. Dit is net sewe jaar ouer as die stad self. Die gevangenis, wat oorspronklik gevestig is om die misdadigers van die opkomende mynstad te huisves, was die eerste militêre fort van die stad na die Jameson-aanval in 1896, toe die Britte probeer het om die Boereregering omver te werp.

Dit het daartoe gelei dat die Boere tussen 1896 en 1899 die skanse van die fort gebou het. Op 4 Januarie 1897 is die Johannesburg-fort geopen.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Kromspruit, Lindley, OVS

1901 – JGW Jansen tereggestel

Op hierdie dag is Johannes Gert Wolfaardt Jansen se vrou en vier kinders na ‘n konsentrasiekamp by Kimberley gebring. Hy is later gevang en weens sogenaamde diefstal van vier perde en koeëls van die Britse leër ter dood veroordeel. Sy vrou is nooit toegelaat om hom tydens die aanhouding te besoek nie. Sy het sy doodsberig in ‘n koerant gelees wat, oopgevou op die plek waar die berig geplaas is, deur ‘n Britse soldaat voor haar kamptent laat val is. In die paar uur tussen vonnis en teregstelling op 11 Oktober 1901 het Jansen aan sy vrou ‘n briefie geskryf, sy onskuld bely, haar iets oor hulle vee meegedeel, haar in Jesus Christus bemoedig en sy eie droefheid bevestig. Hy is opgehang, in 1929 opgegrawe en saam met drie ander Boere wat ook destyds tereggestel is, in die konsentrasiekampkerkhof by Vryburg herbegrawe. Die ander was NC Rautenbach en die twee welgestelde broers, Johannes en Hermanus Kühn. Die galg is destyds spesiaal gebou. Om seker te maak of hulle wel dood is, is hulle met ‘n bajonet gesteek. Hulle vlak grafte is deur die medegevange burgers net buite die gevangenismuur gegrawe. In Oktober 1977 is die historiese tronkmuur se ingangsaansig en die konsentrasiekampbegraafplaas deur die Vryburgse Afrikaanse Kultuurraad ná opknapping tydens ‘n herdenkingsfees as gedenkwaardighede toegewy.

1948 – Die Suid-Afrikaanse vlag word op Prince Edward-eiland gehys ná ’n ooreenkoms met Brittanje

Op 4 Januarie 1948 word die Nasionale Vlag van die Unie van Suid-Afrika op Prins Edward-eiland gehys. Prins Edward-eiland is een van die twee eilande wat deur Suid-Afrika geannekseer word, wat die Marion-eiland insluit. Die eiland lê ongeveer 1900 km suidoos van Kaapstad en 19 km noord-noordoos van Marion-eiland en beslaan ’n oppervlakte van 47 vierkante km. Na die Tweede Wêreldoorlog het Brittanje Prins Edward- en Marion-eiland onder ’n regering ingelyf, omdat hulle besef het dat eilande ook in ’n wêreldoorlog kon verstrengel raak en ’n strategiese rol kon speel. Die Britte werk saam met die Suid-Afrikaanse regering onder Jan Smuts, wat destyds die eerste minister was om die eilande te annekseer. Smuts het toe ’n ondersoek na die eilande gedoen, wat gelei het tot ’n besluit om ’n Suid-Afrikaanse oorlogskip na die eilande te stuur om hulle te annekseer en formele beheer oor die Prins Edward- en Marion-eilande in die naam van Suid-Afrika te neem.

Kragtens die Prince Edward Islands Act van 1948 is die eilande onder die Kaapse provinsie onder die stad Kaapstad geplaas en is dit onderworpe aan die wette van die Unie. Albei eilande is later as natuurreservate verklaar as gevolg van die uitgebreide koloniale voëllewe, wat skuas, reuse-petrels en verskillende pikkewyne en albatrosspesies insluit.

2018 – Shosholoza Meyl ontspoor

Die Shosholoza Meyl ontspoor na ’n botsing met ’n vragmotor tussen Hennenman en Kroonstad, waarby 21 mense sterf en 254 beseer word.

 

Geboortes

1865 – Genl. Chris Muller, Anglo-Boereoorlog-kryger († 1945).

Christiaan Hendrik Muller, ook bekend as Ou Raaltjie, het sy geboorteland, die Kaapkolonie, as jong seun verlaat en hom eers in die Vrystaat en later in die Transvaal gevestig. Hy het sy eerste militêre ondervinding met die Jameson-inval opgedoen en het later ook aan die veldtog teen Mphephu, die Venda-opperhoof, deelgeneem. Hy het die Engelse Oorlog as ’n korporaal begin. Maar het hom spoedig aan die Natalse front as leier onderskei. Nadat hy in Mei 1900 veldkornet geword het, het hy geveg by Babsfontein, Donkerhoek, Olifantsfontein en Dalmanutha. Hy was al kommandant toe hy aan die slag by Renosterkop deelgeneem het, en nog voor die einde van 1900 het hy veggeneraal geword. Vroeg in die volgende jaar was hy betrokke by die slae van Helvetia en Monumentheuwel (Belfast). ’n Wond wat hy in April 1901 opgedoen het, het hom nie lank van die slagveld gehou nie. Na die gevangeneming van genl. Ben Viljoen in Januarie 1902 het hy hom as assistent-kmdt.-genl. van die noordoostelike distrikte opgevolg. Hy het tot op die einde in die veld gebly en was ’n afgevaardigde by die Vredeskonferensie op Vereeniging. Na die oorlog het hy ’n belangrike rol gespeel as direkteur van die Landbank en as lid en later voorsitter van die Transvaalse Landsraad. In 1914 het hy gerebelleer, is hy swaar gewond en by Maloeskop gevang. Van 1920 tot 1926 het hy Pretoria-Suid in die Volksraad verteenwoordig. Sy outobiografie Oorlogsherinneringe … het in 1938 verskyn. Hy is op 14 Januarie 1945 in Johannesburg oorlede.

 

Sterftes

1974 – Wilhelm Knobel, digter en skrywer (* 26 Oktober 1935)

Wilhelm Knobel was ’n Afrikaanse digter en skrywer. Hoewel hy hoofsaaklik bekendheid verwerf het vir sy digkuns, skryf hy onder meer ook prosa, ’n kinderboek en doen hy ook vertaalwerk.

1993 – Danie Craven, rugbyspeler en administrateur (* 11 Oktober 1910)

Dr. Danie Craven was van 1931 tot 1938 ’n Springbok-rugbyspeler en -kaptein, en het in 1949 tot 1952 die span afgerig. In 1956 is hy tot president van die Suid-Afrikaanse Rugbyraad verkies; en hy het verskeie kere as voorsitter opgetree. Sy noue bande met internasionale rugbyadministrateurs het verseker dat Suid-Afrika, te midde van sanksies en boikotte, steeds aan internasionale rugby kon deelneem, maar van 1984 af het geen amptelike internasionale toere plaasgevind nie. In 1988 het sy samesprekings met die ANC gelei tot die totstandkoming van die verenigde Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie, waarvan hy in 1992 die eerste president geword het. Dr. Danie Craven is op 4 Januarie 1993 in Stellenbosch oorlede.

1996 – Jan Spies, skrywer, storieverteller, joernalis en akademikus (* 30 Julie 1936)

Johannes Petrus (Jan) Spies (1936-1996) was ’n gewilde Afrikaanse storieverteller en skrywer. Hy is in die distrik Rehoboth in Suidwes-Afrika gebore, waar hy later redakteur van die Afrikaanse koerant Die Republikein word. Saam met PG du Plessis was Spies die aanbieder van die gewilde televisieprogram Spies en Plessie – met permissie, waar ook ánder persoonlikhede, soos Tolla van der Merwe en Nico Nel, bekendheid verwerf het. Spies was die outeur van ’n aantal boeke, en lektor by die Randse Afrikaanse Universiteit.

2007 – Marais Viljoen, politikus en vyfde Staatspresident van Suid-Afrika (1979–1984) (* 2 Desember 1915)

Marais Viljoen was die laaste van Suid-Afrika se seremoniële staatspresidente. Hy was van 4 Junie 1979 tot 3 September 1984 president, waarna Eerste Minister P. W. Botha hom opgevolg het. Viljoen was die jongste van Magdalena Debora “Lenie” (de Villiers) en Gabriel Francois Viljoen se ses kinders. Hy is op 20 April 1940 met Dorothea Maria Brink getroud en hulle het een dogter, Elizabeth Magdalena (Elna) Viljoen gehad. Hy het aan die Universiteit van Kaapstad studeer, waarna hy by die poskantoor en later die Afrikaanse koerant Die Transvaler, onder redaksie van Hendrik Verwoerd, gewerk het. Viljoen se politieke loopbaan het begin toe hy as lid van die Volksraad vir Alberton verkies is. Hy het ook van 21 Augustus tot 10 Oktober 1978 as staatspresident waargeneem, waarna hy in 1979 as nie-uitvoerende president aangestel is. Die presidentskap was op hierdie stadium bloot seremonieël van aard, terwyl die Eerste Minister uitvoerende magte gehad het. Nadat Viljoen uit die openbare oog verdwyn het, het hy ’n lewendige belangstelling in die politiek behou. 

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://www.constitutionhill.org.za/

https://en.wikipedia.org/