3 FEBRUARIE
October 31, 2016
5 FEBRUARIE
October 31, 2016

Gebeure 

1838 – Die Retief-Dingaantraktaat  

Piet Retief het in November 1837 vir die eerste keer met Dingaan onderhandel oor ’n grondgebied in Natal vir die Voortrekkers. Hoewel Dingaan gewillig was om grond aan die Voortrekkers af te staan, het hy dit as voorwaarde gestel dat Retief die Zoeloes se beeste wat Sikonyela se mense geroof het, moet terugbring. Nadat hierdie taak suksesvol afgehandel was, het Retief en sowat 70 blankes en 30 gekleurde agterryers op 3 Februarie 1838 weer by Dingaan se hookraal Umgungundluvu aangekom. By hom het Retief ’n traktaat, gedateer 4 Februarie, gehad waarvolgens Dingaan die gebied tussen die Tugela- en Umzimvuburivier aan die Voortrekkers sou afstaan. Hierdie dokument is op 6 Februarie by ’n afskeidsbyeenkoms in Dingaan se kraal onderteken. Voordat die Voortrekkers, wat hulle wapens buite die kraal moes laat bly, kon vertrek, is hulle op Dingaan se bevel wreedaardig vermoor. Die Traktaat het egter nie verlore geraak nie. Tien maande later – ná die Slag van Bloedrivier – is dit ongeskonde in ’n leersak by die beendere van Retief teruggevind. Die volgende is ’n vrye vertaling van die Traktaat, wat in Engels opgestel is: “Aangesien Pieter Retief, goewerneur van die Voortrekkers, my beeste wat deur Sikonyela gesteel is, teruggevind en nou aan my uitgelewer het, stem ek, Dingaan, koning van die Zoeloes, daartoe in om hiermee aan genoemde Retief en sy landgenote Port Natal en die aangrensende gebied in ewigdurende besitreg af te staan, dit wil sê, die gebied weswaarts vanaf die Tugela tot by die Umzimvuburivier en vanaf die see noordwaarts tot so ver as wat die grond bruikbaar mag wees en aan my behoort.” Die oorspronklike Traktaat het teen die einde van die 18e eeu verlore geraak maar noukeurige natreksels en afskrifte daarvan het gelukkig behoue gebly. Die egtheid van die Traktaat is trouens in 1923 met behulp van een van hierdie natreksels bo alle twyfel bewys. 

1939 – Die Ossewa-Brandwag  

Die Ossewa-Brandwag (OB) as kultuurorganisasie is formeel op hierdie dag in Bloemfontein gestig met kol. J Laas as leier. Die oogmerk was om in die gees van die Ossewatrek van 1938, wat ter herdenking van die Groot Trek ’n eeu tevore onderneem is en waartydens Afrikaner-nasionaliste ongekende hoogtes bereik het, te bestendig. Die OB het die Unie se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog heftig bestry en sover moontlik probeer ontwrig – optredes wat onder andere internering van regeringskant ontlok het. Vanaf 1 Januarie 1941 het dr. Hans van Rensburg as Kommandant-generaal die OB-leiding oorgeneem. Die aanvanklike eensgesindheid tussen die OB en die Herenigde Nasionale Party (HNP) het spoedig omgesit in ’n heftige ideologiese stryd oor bepaalde aspekte van die Afrikaner-politiek wat groot verwarring, spanning en stryd in Afrikanergeledere veroorsaak het. Die eens magtige en dinamiese OB het geleidelik begin kwyn. Met uiterste moeite kon via die Afrikaner Party ’n mate van samewerking tussen die OB en die HNP in die algemene verkiesing van 1948 bereik word, en het die HNP-Afrikaner Party-koalisie van dr. DF Malan aan die bewind gekom. Hierna het die OB al hoe verder op die agtergrond geskuif en is die beweging amptelik op 22 Augustus 1952 ontbind. 

1997 – Nuwe Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika 

Die nuwe Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika tree in werking. Die Konstitusionele Hof het dit op 4 Desember 1996 goedgekeur. 

2009 – Veldbrande in Stellenbosch  

Verwoestende veldbrande breek uit rondom Stellenbosch en woed dae lank. 

 

Geboortes 

1827 – Willem Johan van Gorkum

Hy word onthou as die eerste Superintendent van Onderwys in die Zuid-Afrikaansche Republiek, asook vir die lied, “’n Iedere nasie het sy land”.

1910 – Mattheus Uys (Uys) Krige, skrywer, digter en dramaturg († 10 Augustus 1987) 

Mattheüs Uys Krige, gebore op Bontebokskloof by Swellendam, het hom onderskei in al die hoofvorme van die skryfkuns – prosa, poësie, drama. Hy is in 1974 met die Hertzogprys bekroon, benewens vyf maal die Akademieprys vir vertaalde literatuur. 

 

Sterftes 

1911 – Pieter Arnoldus (Piet) Cronjé, militaris en Boeregeneraal (* 4 Oktober 1836) 

Piet Cronjé wat op Colesberg gebore is, was by uitstek ’n krygsman – ’n Boeregeneraal in diens van die Zuid-Afrikaansche Republiek. Hy was vurig en voortvarend en soms eiesinnig van geaardheid soos onder meer blyk met die verkoop van Piet Bezuidenhout se wa wat die vonk in die kruitvat met die Transvaalse Vryheidsoorlog was. Sy krygsmanskap het ’n hoogtepunt bereik met die slag by Magersfontein waar lord Methuen verslaan is. Genl. Cronjé het hier op vernuftige wyse persoonlik oor die hele front die bevel gevoer. Dié krygsprestasie is egter kort daarna bederf deur sy onwilligheid om dit op te volg. Methuen het hom met klein geveggies besig gehou totdat lord Roberts se mag opgedaag het en die Cronjé-mag van 4000 man by Paardeberg vasgedruk en tot oorgawe gedwing het. Genl. Cronjé is gevang en na St. Helena gestuur. Ná die oorlog was hy ’n tyd lank in Amerika voordat hy hom op sy plaas Palmietfontein by Ventersdorp gevestig het. Hy het op 4 Februarie 1911 aan beroerte beswyk.

1946 – Sir Herbert Baker, argitek van bv. die Uniegebou (* 9 Junie 1862) 

Londen, maar besluit in 1892 om na die Kaap te verhuis om daar na beter geleenthede te soek as wat daar vir hom in sy geboorteland was. Binne ’n jaar na sy aankoms het Rhodes hom aangestel om die opstal op sy plaas Groote Schuur te herbou. Toe die herbouing afbrand, is Baker weer aangestel en het hy die gebou in sy huidige vorm ontwerp. Hy was onverbiddelik in sy aandrang op goeie vakwerk, en die lakse boubedryf was verplig om te herorganiseer. Sy bykans twee honderd geboue in al die provinsies toon ’n uitdruklike eklektisisme met ’n redelike sterk Suid-Afrikaanse kleur. Hy het liefde vir die Kaaps-Hollandse boustyl ontwikkel en onder meer agt bekende opstalle aan die Kaap gerestoureer. Van sy bekendste geboue is die Uniegebou, die stasie in Pretoria, die Parlementsgebou, St. George katedraal in Kaapstad, Grootse Schuur en Michaelhouse-skool in Natal. Nadat hy die argitektoniese toneel 20 jaar lank in Suider-Afrika oorheers het, vertrek hy na Indië om daar saam met Luytens te werk. Net voor die Eerste Wêreldoorlog keer hy na Brittanje terug, waar hy onder meer die Suid-Afrika-huis in Londen en die Rhodes-huis in Oxford ontwerp. Hy sterf op 4 Februarie 1946 in sy geboortedorp, Cobham, Kent.

Bronne: 

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK. 

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel. 

https://www.sahistory.org.za 

https://af.wikipedia.org/wiki/