Resensie: Afrikanerjoernaal – ’n Vervolgverhaal in 365 episodes
November 30, 2016
5 DESEMBER
December 5, 2016

Gebeure

Geen

 

Geboortes

1826 – Johannes Henoch Neethling, een van die groot predikante van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die tweede helfte van die 19de eeu († 26 Februarie 1904)

Johannes Henoch Neethling was lid van ’n driemanskap, bestaande uit homself en proff. NJ Hofmeyr en J Murray, wat hulle in die besonder beywer het vir die stigting van opvoedkundige inrigtings. So is in 1866 die Stellenbosch-Gimnasium (Later Paul Roos-Gimnasium) gestig, waarvan ’n gedeelte later ontwikkel het in die Victoria-kollege, en dit het in 1918 die Universiteit van Stellenbosch geword. Die Meisieskool Bloemhof, is in 1875 gestig. Ds. Neethling het in 1863 met die stryd teen die liberalisme in die kerk ’n kragtige bydrae vir die ortodokse standpunt gelewer. Hy is op 26 Februarie 1904 in die bediening op Stellenbosch oorlede.

1877 – Morris Alexander, lid van die Suid-Afrikaanse Volksraad vir Kaapstad-Kasteel († 1946)

1917 – Hendrik Josephus (Hennie) Terblanche, samesteller van agt woordeboeke en drie grammatikaboeke († 23 Maart 1977)

Vir die jonger geslag sal hierdie nie so ’n bekende naam wees nie; dit is egter die naam van ’n man aan wie elke Afrikanernageslag wat nog hoegenaamd trots op sy taal is, eer kan bring vir die baanbrekerswerk op Afrikaanse vaktaalgebied. Hy was die skrywer van agt woordeboeke, drie taalboeke en duisende artikels. Hy was ’n ware kultuurleier, onverskrokke, omstrede vegter vir die gelykberegtiging van Afrikaans, die taal waarvoor hy gelewe het. Hendrik Josephus Terblanche is op hierdie dag gebore en het as boerseun in Aberdeen-omgewing grootgeword. Hy het aan die universiteite van Rhodes en Pretoria studeer. Sy werk hang ten nouste saam met die geskiedenis van Afrikaans deur drie dekades. As dosent aan die Universiteit van Natal begin sy roemryke eenmanstryd om die regte van Afrikaans in 1949. Terwyl hy direkteur van die SA Akademie se Vaktaalburo was, lewer hy ongeëwenaarde baanbrekerswerk vir die Afrikaanse vaktaal. Tog loop sy kommer oor die verwaarlosing van sy taal op 26 November 1965 uit op die stigting van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA). Die laaste jare van sy lewe wy dr. Terblanche feitlik heeltyds aan die omvangryke taak van die GHA – sonder enige vergoeding. Op 23 Maart 1977 sterf hy na twee onsuksesvolle breinoperasies. Sy boeiende outobiografie, Jare van storm en drang, het ’n paar maande na sy dood verskyn.

 

Sterftes

1949 – Susarah Frederika Magdalena (Sarah) Raal, skrywer van oorlogsherinneringe Met die boere in die veld (* 1873)

Susarah Frederika Johanna Magdalena Snyman (Sarah Raal) is op die plaas Olijvenfontein in die suidelike Vrystaat gebore. In die Anglo-Boereoorlog het hierdie onverskrokke vrou die Britte hoofbrekens besorg en daarin geslaag om £500 dwarsdeur die oorlog saam met haar te dra. Sy was in verskillende konsentrasiekampe en ook met die Boerekommando’s te velde. Haar herinneringe aan die Anglo-Boereoorlog het sy op onderhoudende wyse opgeteken in haar boek Anglo-Boereoorlog, gepubliseer onder haar nooiensvan, Raal. Sy is ’n tipiese voorbeeld van die moed, durf en vindingrykheid wat die Boervrou aan die dag gelê het tydens die Anglo-Boereoorlog, om die mans te velde te inspireer eerder as te ontmoedig, en het die wêreld vir die Engelse op alle terreine so moeilik moontlik probeer maak.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/