3 APRIL
November 1, 2016
5 APRIL
November 1, 2016

Gebeure

1706 – Kaapse bannelinge vertrek na Nederland

Op hierdie dag het die retoervloot met Henning Huijzing, Jacobus van der Heijde, Ferdinandus Appel, Pieter van der Bijl en Jan van Meerland aan boord na Nederland vertrek, waarheen hulle as gevolg van hul deelname aan die versetbeweging teen goewerneur WA van der Stel verban is.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Die beleg van Okiep

Generaals Smuts, Maritz en Bouwer bevind hul sowat 10 km noord-oos van Okiep. Onderwyl hul die dorp bespied, besluit genl. Smuts om ’n burger met ’n wit vlag na die dorp te stuur en oorgawe te eis. Tot almal se verbasing gee die dorp sonder slag of stoot oor. As voorwaarde tot die oorgawe was slegs gevra dat eiendomsreg gerespekteer moet word, en dat die myne in vrede gelaat word.

1905 – Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) gestig

Gedurende die laaste dekades van die 19de eeu is daar aan die Kaap ’n taalstryd gevoer – aan die een kant die stryd van die Afrikanervolk vir gelyke regte van die volkstaal met dié van Engels en aan die ander kant die stryd onder Afrikanertaalmanne oor wat die voertaal moet wees: Patriot-Afrikaans soos voorgestaan deur die Genootskap van Regte Afrikaners of Nederlands. In 1819 kom dr. Kollewijn in Holland met die voorstel dat Nederlands vereenvoudig moet word en hier te lande vind die gedagte ’n ywerige dissipel in dr. WJ Viljoen van die destydse Victorie Kollege en later Superintendent-Generaal van Onderwys in Kaapland. Op Dinsdag 4 April 1905, om 10h00 kom 56 persone byeen in die saal van die Hugenote-gebou in Kaapstad. Die doel van die vergadering was om die vereenvoudiging van Nederlands te bespreek sowel as “Andere punten van belang”. Uit hierdie “andere punten van belang” is die SAOU gebore, want op voorstel van ds. FS du Toit gaan die vergadering gedurende die middag oor tot die stigting van De Suid-Afrikaanse Onderwyzerunie. Die stigting van die SAOU moet egter nie gesien word as ’n impulsiewe daad of as ’n neweproduk van die Vergadering van Taalvereenvoudiging nie. Na die Anglo-Boereoorlog wou die Afrikaner-onderwyser sy hande los hê, nie alleen om te werk vir die opheffing van die verwaarloosde Afrikanerkind nie, maar ook om gelyke regte en status vir die Afrikaner-onderwyser te verwerf. Die belangrikste werksaamhede van die SAOU is advies aan lede in verband met omstandighede wat voortvloei uit hul diensvoorwaardes en diensomstandighede; skakeling met die Onderwysowerhede ten behoewe van onderwysers; skakeling met die Kaaplandse Onderwysdepartement oor opvoedkundige aangeleenthede; ’n wakende oog te hou oor die onderwys in die algemeen en behartig partikuliere onderwyssake; behartiging van die Afrikaanse onderwyser se belange in die besonder.

1984 – Kernreaktor by Koeberg wek vir die eerste keer elektrisiteit op

 

Geboortes

1878 – Gideon Scheepers, Boere militêre leier en heliografis  († 18 Januarie 1902)

Kommandant Gideon Scheepers, Boere-verkenner en bevelvoerder tydens die Anglo-Boereoorlog (Suid-Afrikaanse Oorlog) is tereggestel deur ’n vuurpeloton langs ’n oop graf in die veld naby Graaff-Reinet. Hy is in Oktober 1901 deur ’n Britse kolom gevange geneem en deur ’n Britse militêre hof skuldig bevind op aanklagte van moord, brandstigting en sloping van treine. Scheepers het tydens sy verhoor erken dat hy brandstigting gepleeg het, maar beweer dat hy te alle tye op bevel van sy superieure offisiere opgetree het. Hy is begrawe op die plek van die teregstelling. Dieselfde nag is sy liggaam egter blykbaar deur Britse troepe opgegrawe en op ’n onbekende plek herbegrawe uit vrees dat sy kommando sou probeer om dit te herstel. Pogings om sy graf op te spoor en benaderings na die Britse owerhede om die ligging te openbaar, was onsuksesvol. Sy teregstelling het ’n protes in Suid-Afrika en in die buiteland veroorsaak. Betogings is in die Britse parlement en die Verenigde State van Amerika gemaak, aangesien hy nie volgens die Geneefse Konvensie behandel is nie. Daar was ook ’n ernstige twyfel of ’n Britse militêre hof bevoeg was om ’n doodsvonnis aan ’n krygsgevangene te verleen terwyl die oorlog nog gewoed het. Sy prestasies in die oorlog was voldoende om te verseker dat sy nagedagtenis sou voortduur, maar die manier waarop hy dood is, het hom ’n martelaar gemaak.

1889 – Henry Allen (HA) Fagan, skrywer, politikus, regter en joernalis († 6 Desember 1963)

Henry Allan Fagan is op Tulbagh gebore. Na studie in die regte op Stellenbosch en in Londen was hy agtereenvolgens advokaat in Kaapstad, onder-redakteur van Die Burger, professor in Regsgeleerdheid aan die Universiteit van Stellenbosch, waarnemende regter in Kimberley en van 1938 tot 1939 Minister van Naturellesake, Onderwys en Volkswelsyn in die Kabinet van genl. JBM Hertzog. Van 1957 tot sy aftrede in 1959 was hy Hoofregter. Naas sy bydrae tot die openbare lewe, het hy ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse literatuur gelewer, waarvoor die Hertzogprys in drama van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1935 aan hom toegeken is. Veral as toneelskrywer het hy ’n ereplek in die Afrikaanse literatuur verower. Hy is die baanbreker vir die Afrikaanse drama oor die daaglikse en aktuele lewe. In die dertiger- en veertigerjare was sy toneelstukke besonder gewild op die Afrikaanse verhoë. Regter Fagan is op 9 Desember 1963 in Kaapstad oorlede.

 

Sterftes

1896 – Genl. Nicolaas Jacobus Smit, onderpresident van die ZAR en generaal tydens die Anglo-Boereoorlog (* 30 Mei 1837)

Nicolaas Jacobus Smith is in die distrik Graaff-Reinet gebore, maar verhuis op driejarige ouderdom saam met sy ouers na Natal en van daar na Wes-Transvaal. Op jeugdige ouderdom neem hy as voortreflike skut aan verskeie strafekspedisies deel; hy word gewond en verloor sy gehoor en gesig aan die eenkant van sy hoof. Hy word tot veldkornet vir die wyk Mooirivier verkies, maar verhuis in 1873 na die distrik Ermelo om hom op die boerdery to te lê. In 1876 neem hy as tweede in bevel naas pres. Burgers aan die Sekoekoenie-oorlog deel. Hy behaal klinkend oorwinnings, maar die veldtog self is ‘n mislukking. Sy krygsvernuf en heldemoed sou egter eers in die Transvaalse Vryheidsoorlog tot volle ontluiking kom toe hy hom by Skuinshoogte en Amajuba onderskei. Na die oorlog word hy Volksraadlid en is lid van die Transvaalse Deputasie na Engeland om Britse susereiniteit opgehef te kry. Hy word in 1885 tot Voorsitter van die Volksraad verkies en in 1887 tot Vise-president en lid van die Uitvoerende Raad – ampte wat het met groot waardigheid tot aan sy dood op 4 April 1896 in Pretoria beklee het.

1949 – Susarah Frederika Johanna Magdalena (Sarah) Raal, skrywer van oorlogsherinneringe Met die boere in die veld (*6 November 1873)

1978 – Barend Hendrik (BH) Janse van Rensburg (* 9 Maart 1898)

Barend Hendrik Janse van Rensburg is op 9 Maart 1898 op Cradock gebore. Hy is kort na sy aanstelling as deeltydse sekretaris en penningmeester van die Nasionale Vrouemonumentkommissie in 1929 deur die kommissie gevra om ’n museum vir oudhede uit die Anglo-Boereoorlog by die Vrouemonument tot stand te bring. Hy het die uitdaging met groot geesdrif aanvaar, en op 30 September 1931 is die Oorlogsmuseum amptelik deur genl. JBM Hertzog geopen. In 1947 het hy sy redaksiepos by Die Volksblad neergelê en hom heeltyds aan sy taak by die museum gewy. Met sy afskeid in Mei 1969, het oud-president CR Swart gesê: “Deur baie moeilike omstandighede heen het Ben van Rensburg vir sy volk ’n grootse monument gebou waarvoor sy volk vir hom sê: Baie dankie!”

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/