30 SEPTEMBER
January 13, 2017
Erik Holm
January 23, 2017

Gebeure

1517 – Hervormingsdag

Hierdie dag word in die Protestantse Kerke as die begin van die Kerkhervorming beskou, en jaarliks word dit op die Sondag die naaste daaraan herdenk. Die datum is dié waarop Martin Luther 95 stellinge aan die deur van die slotkerk in Wittenberg aangebring het. Die inhoud van die stellinge het gehandel oor die verwerplikheid van die aflaathandel en die aard van die ware boetedoening. Luther se daad het heelwat opsien verwek en uit verskeie oorde steun ontvang. Die Pous was verplig om te reageer, en toe Luther weier om sy stellinge terug te trek tensy met bewyse uit die Skrif aangetoon kan word dat hy verkeerd is, is hy in die ban gedoen. In 1521 is hy voor die Ryksdag in Worms gedaag waar sy saak ondersoek is. Toe hy weer weier om sy geskrifte terug te trek, is hy tot ketter verklaar en is die ryksban op hom toegepas. In Wartburg by Eisenach het hy skuiling gevind en daar die Bybel in Hoogduits vertaal. Toe hy in 1546 sterf was die Hervorming in Duitsland in volle gang. Ongeveer dieselfde tyd het kerkleiers in Switserland teen misbruike in die Kerk gereageer. Hier moet veral die naam van Johannes Calvyn genoem word. Daar het mettertyd verskille tussen Protestantse teoloë ontstaan, veral oor die Sakramente. Daardeur het verskillende kerke ontstaan, hoofsaaklik dié met Lutherse en dié met Gereformeerde leertipes. Die Kerkhervorming het ook na lande soos Engeland, Skotland, Frankryk en Nederland uitgebrei. Die Gereformeerde leer het sy stempel op die Protestantse Kerke in Nederland afgedruk omdat die geloofsbelydenis opgestel is deur persone wat kwekelinge van Calvyn was. By die Nasionale Sinode van Dordrecht (1618 tot 1619) is die belydenisskrifte aan die Skrif getoets en finaal goedgekeur. Ook Frankryk het die Gereformeerde belydenis ingang gevind. Die Gereformeerde belydenis is saam met Van Riebeeck en die eerste nedersetters na die Kaap gebring en is in 1688 versterk met die aankoms van die eerste Hugenote wat op verskeie gebiede ’n groot invloed op die Afrikanergemeenskap uitgeoefen het. Hoewel daar godsdiensvryheid in ons land bestaan het, het die Kerkhervorming, en by name die Gereformeerde leertipe, so ’n groot rol in die godsdienstige lewe van die Afrikaner gespeel dat die belydenis van die oorgrote meerderheid daardeur gevorm en hul optrede in baie opsigte daardeur bepaal is.

1890 – Eerste Taalkongres in Kaapstad gehou

Met die opkoms van die Afrikaanse taal het die voorstanders van Hollands hulle tot ’n front saamgesnoer met die stigting van die Zuid-Afrikaanse Taalbond. In De Zuid-Afrikaan van 6-8 Mei 1890 verskyn ’n oproep van dr. A Moorrees aan belangstellendes tot die bywoning van ’n taalkongres wat op 31 Oktober en 1 November 1890 in Kaapstad, veral op inisiatief van dr. N Mansvelt, gehou sou word. Prof. De Vos was voorsitter van ’n vergadering waarop predikante, Parlementslede, onderwysers en persmanne teenwoordig was. Op hierdie kongres, wat bygewoon is sowel deur voorstanders van Afrikaans as deur dié van Nederlands, is besluit om die Zuid-Afrikaanse Taalbond te stig. Jaarlikse Taalbondeksamens is ingestel wat nog vir baie jare later in skole afgeneem is. Op die kongres is die doelstellinge van die Taalbond geformuleer, naamlik die bevordering van kennis van die volkstaal en die aankweking van ’n nasionale gevoel. Geskikte literatuur sou versprei word, die taalkwessie sou onder die publiek se aandag gebring word, en die skryf van Hollands sou aangemoedig word. Hierdie kongres was die eerste taalkongres wat in Suid-Afrika gehou is en sou in 1896 opgevolg word deur eerste Afrikaanse taalkongres in die Paarl.

1899 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Kanonkoppie, Mafeking

1910 – Die eerste Parlement van die Unie van Suid-Afrika geopen

1918 – Uitbreek van griepepidemie

Die groot wêreldwye griepepidemie breek uit en laat ook talle mense, waaronder baie kinders, in Suid-Afrika sterf.

1941 – Inspan verskyn

Inspan het verskyn as amptelike spreekbuis van die FAK en die Reddingsdaadbond “op ’n tydstip in die volkslewe wat uiters bewoë is en root moontlikhede, maar ook gevare, in sy skoot hou”, volgens die hoofartikel in die eerste uitgawe. Die redaksiekomitee het bestaan uit prof. N Diederichs as voorsitter, prof. G Cronjé, prof. JC Coetzee, dr. PJ Meyer en dr. Albert Coetzee as sekretaris-redakteur. Dié kommissie het hom ten doel gestel dat Inspan die “wekroep moet wees in die geestelike volkstrek. Hy wil oproep tot doelbewuste kraginspanning om die stoflike en geestelike eiegoed van die Boeredom te bewaar en te bestendig; hy wil oproep om in te span om verder te trek: nie elkeen in sy eie rigting, elkeen op sy eie tyd, elkeen volgens eie besinning nie, maar tot gesamentlike, eendragtelike eenheidsoptrede op die weg van die Christelik-nasionale koers van ons volk.” Sewe jaar lank het die redaksie hom getrou by sy stigtingsvoorneme gehou, en toe die blad in 1948, vermoedelik om geldelike redes, gestaak is, het hy steeds die Afrikanervolk oor aktuele sake ingelig en hulle op ’n onverskrokke wyse gewaarsku teen die gevare wat sy toekoms bedreig.

1965 – Sondagkoerant Die Beeld verskyn

Die eerste uitgawe van die Nasionale Pers se Sondagkoerant Die Beeld verskyn. Dit het in 1970 met Dagbreek saamgesmelt as Rapport.

 

Geboortes

Geen

 

Sterftes

1970 – Pieter Cornelis (PC) Schoonees, skrywer en leksikograaf (* 23 Desember 1891)

Pieter Cornelis Schoonees is op Uniondale gebore. Hy studeer aan Victoria-kollege, Stellenbosch, die Natalse Universiteitskollege en aan die Gemeentelike Universiteit van Amsterdam. Hy gee op verskillende plekke onderwys en aanvaar in 1946 die redakteurskap van Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). In die Saamwerk-Unie van Natalse Kultuurvereniginge het hy ’n belangrike rol gespeel; van 1923 tot 1946 dien hy in die Hoofbestuur; hy was vyf jaar lank voorsitter van hierdie liggaam en het ook jare lank opgetree as redakteur van die orgaan van die Saamwerk-Unie. Hy was lid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en het dikwels opgetree as beoordelaar vir die Hertzogprys. Dr. Schoonees het verskeie boeke geskryf en bloemlesings saamgestel. Sy bekendste werke is egter woordeboeke: saam met MSB Kritzinger, HA Steyn en NJ Cronjé het hy uitgegee die Groot Woordeboek en HAT (verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal) saam met CJ Swanepoel, SJ du Toit en CM Booysen. Sy vernaamste werk staan egter in verband met die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Onder sy leiding is daar vinnige vordering met die opstel van die WAT gemaak en het verskeie dele verskyn. Hy is op 31 Oktober 1970 in die Strand oorlede.

2006 – Pieter Willem (PW) Botha, Suid-Afrikaanse politikus, agste eerste minister van Suid-Afrika (1978–1984) en sesde Staatspresident van Suid-Afrika (1984–1989) (* 12 Januarie 1916)

Pieter Willem Botha, beter bekend as PW en ook as Die Groot Krokodil, was ’n lid van die ou Suid-Afrikaanse Nasionale Party. Hy was van 1966 tot 1978 die Minister van Verdediging, van 1978 tot 1984 Eerste Minister en van 1984 tot 1989 die Staatspresident van Suid-Afrika. 

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/