30 MEI
January 10, 2017
1 JUNIE
January 10, 2017

Gebeure

1899 – Pietersburg (nou Polokwane) se spoorwegverbinding na Pretoria word ingewy.

1899 – Die Bloemfontein-konferensie begin.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Johannesburg word beset

Johannesburg word oorgegee aan die Britte toe Dr Friederick Krause, die militêre kommandant van die Witwatersrand, die sleutels van die stad aan Veldmaarskalk Lord Roberts oorhandig het.

1902 – Anglo-Boereoorlog: Vrede van Vereeniging

Saterdagaand, tussen elf- en twaalfuur van die 31ste Mei 1902, is in Pretoria deur die volksverteenwoordigers van die Republieke, wat die stryd teen die magtige Britse Ryk meer as een-en-dertig maande volgehou het, die vredestraktaat van Vereeniging onderteken. Nadat Kitchener van Khartoem en Milner hul naam ook onderaan die “Akte van Vrede” geskryf het, was die ongelyke stryd beëindig en het vir die volksleiers, wat besluit het om gesamentlik die wapens neer te lê, die bittere taak gewag om die burgers in kennis te stel dat hulle die wapens moes neerlê.

Dr. HF Verwoerd onthul die monument by Vereeniging

Die voorspel tot hierdie vrede het op 9 April 1902 op Klerksdorp begin. Daar het die Transvaalse en die Vrystaatse regering drie dae met mekaar beraadslaag, alvorens hul afgevaardigdes na Pretoria stuur. Die onderhandelinge met die Britse owerheid in Pretoria het van 12 tot 17 April geduur, en daar is besluit dat die volk geraadpleeg moes word, omdat Engeland sonder prysgewing van die Republieke se onafhanklikheid geen vrede wou maak nie.

Nadat die burgers te velde sestig manne afgevaardig het om hulle te verteenwoordig, is die onderhandelinge op Donderdag, 15 Mei op Vereeniging hervat. Die voorstelle van hierdie vergadering is op 19 Mei aan Milner en Kitchener voorgelê, dog van die hand gewys. Teenvoorstelle is gedoen en op 29 Mei aan die Boere-afgevaardigdes voorgelê. Hulle moes binne drie dae met “ja” of “nee” antwoord. Op Vereeniging is die volksverteenwoordigers nou voor die keuse gestel om die oorlog voort te sit, die wapens onvoorwaardelik neer te lê of die Britse voorwaardes aan te neem.

Verset teen die aanname van die Britse voorwaardes het veral onder die afgevaardigdes van die Vrystaat geleef, en ook party van die Transvalers was oortuig dat die oorlog, van militêre standpunt beskou, nog nie verlore was nie. Die president van die Oranje-Vrystaat, Marthinus Theunis Steyn, wat al die ontberinge van die oorlog met die burgers in die veld gedeel het, het die besprekings van die laaste drie dae nie meer bygewoon nie, aangesien ‘n volslae verlamming sy kragtige gestel aangetas het. Op 29 Mei het hy sy amp neergelê en is die bittere sielestryd van die eindbeslissing hom bespaar. Genl. Christiaan de Wet is in sy plek tot president benoem.
Die feite wat die volksverteenwoordigers onder die oë moes sien, was die meedoënlose krygstaktiek van Engeland, wat alle middele van bestaan vernietig het, en die sterfte van vroue en kinders in die kampe, wat gedurende die afgelope ses maande wel afgeneem het, maar tog nog skrikbarend hoog was. Die bewapening van inboorlingstamme binne en buite die grense het verder ‘n onhoudbare toestand geskep, en baie was van mening dat hongersnood voor die deur gestaan het. Slegs die oortuiging dat die voortbestaan van die volk op die spel gestaan het, het manne soos genl. De Wet beweeg om die Britse voorwaardes aan te neem. Vir hom het die duidelik geword dat God die Afrikaners deur die oorlog tot een volk wou vorm en dat die volk as ‘n verenigde en nie as ‘n verskeurde en verdeelde volk uit die stryd te voorskyn moes tree nie. Dit was vir hom en sy dappere medestryders ‘n geloofsaak – die vrede ‘n geloofsdaad, wat getuig van meer moed en ‘n kragtiger geloofslewe as wat vereis word vir die heldedade op die slagveld.

1910 – Unie van Suid-Afrika kom tot stand

1928 – Unievlag wapper vir die eerste keer op openbare geboue

1933 – Taalmonument te Burgersdorp onthul

Die Taalmonument te Burgersdorp, Oos-Kaap, is onthul op sy nuwe staanplek, die Burgerplein. Die monument is in 1893 opgerig om die erkenning van Hollands op 9 Junie 1882 in die Kaapse Parlement te gedenk.

1961 – Republiek van Suid-Afrika kom tot stand

Die Republiek van Suid-Afrika kom tot stand, Suid-Afrika verlaat die Britse Statebond en die geldeenheid verander van die Britse pond na die rand.

1994 – Suid-Afrika tree weer tot die Britse Statebond toe

 

Geboortes

1827 – Andreas Adriaan (Andries) Louw, eerste predikant in Fauresmith († 24 Junie 1908)

1913 – William Ewert Gladstone (WEG) Louw, digter en letterkundige († 24 April 1980)

WEG Louw is op 31 Mei 1913 op Sutherland, Noord-Kaap, gebore en sterf op 24  April 1980. Sy digbundel, Die Ryke Dwaas (1934), is een van die vroeë bewyse na 1930 van ’n vernuwing in die Afrikaanse poësie. Hy is een van die belangrikste digters in Afrikaans. Sy as is herbegrawe by die Louw-huis in Sutherland.

1924 – Theunis Theodorus (TT) Cloete, digter en akademikus († 29 Julie 2015)

TT Cloete was ’n bekroonde digter, Bybelvertaler, letterkundige en akademikus. In die 1970’s was hy by die hersiening van die Afrikaanse Kerkgesange betrokke en later by die 1993-vertaling van die Bybel in  Afrikaans. Cloete was vir lank aan die Potchefstroomse Universiteit se Skool vir Tale en Skryfkuns verbonde. Hy het verskeie pryse vir sy werke ontvang, o.a. die Ingrid Jonker-prys, WA Hofmeyr-prys, Hertzogprys en die Andrew Murray-prys. Cloete skryf aanvanklik onder die skuilnaam T Jansen van Rensburg en publiseer verskeie van sy gedigte in tydskrifte onder die skuilnaam om die water te toets voor hy in 1980 met Angelliera debuteer.

 

Sterftes

1969 – Jozua Francois (Tom) Naudé,  politikus en waarnemende Staatspresident van Suid-Afrika (1967–1968) (* 15 April 1889)

Jozua Francois Naudé is op Middelburg, Kaap, gebore. Hy vestig hom in 1910 as prokureur op Pietersburg. Hy protesteer teen Suid-Afrika se deelname aan die Eerste Wêreldoorlog en bring drie maande in die Booysens-interneringskamp deur. Hy was lid van Pietersburg se stadsraad (1915–1920), LV vir Pietersburg (1920–1961), lid van parlementêre komitees, sweep van die NP, hoofsweep van die VP (van 1933–1939) hoofsweep van die NP na 1939, en Speaker van die Volksraad vanaf 1948. Vanaf 1950 tot 1961 was hy Minister onder dr. Malan, adv. Strijdom en dr. Verwoerd, nl. van Pos- en Telegraafwese (1950–1954), Gesondheid (1954–1956), Finansies (1956–1968), en Binnelandse Sake (1958–1961). Hy was die eerste President van die Senaat van die Republiek in 1961, en Waarnemende Staatspresident (1967–1968). Hy is op 31 Mei 1969 in Kaapstad oorlede en is op Pietersburg begrawe. Hy was drie keer getroud en het vyf kinders gehad. Tom Naudé was ’n groot kenner van parlementêre prosedure, ’n doelgerigte Afrikaner, wat sy werk met toewyding gedoen het, en ’n waardige man met ’n wonderlike sin vir humor.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/