30 MAART
November 1, 2016
1 APRIL
November 1, 2016

Gebeure

1842 – Die eerste Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Oranje-Vrystaat word gestig

1859 – Stasie in Wellington

Bouwerk aan die stasie in Wellington begin. Die eerste trein vanaf die Kaap arriveer 4 jaar later.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Oorwinning by Sannaspos, Bloemfontein

Na die verowering van Bloemfontein het lord Roberts ’n Britse mag onder bevel van genl. RG Broadwood in die rigting van Thaba Nchu gestuur. Omdat hierdie kolonne die gevaar geloop het om afgesny te word, het Broadwood besluit om na Bloemfontein terug te keer. Intussen het genl. CR de Wet met minder as 400 burgers tussen Broadwood en Bloemfontein in die Koringspruit posisie ingeneem, terwyl die res van sy burgers Broadwood se kolonne met kanonvuur sou bestook om hulle in die rigting van Koringspruit te dryf. De Wet se plan het geslaag. Daar is op een na die ander van die vyand se waens beslag gelê; 200 voetsoldate is gevang, en ook die bemanning van ’n battery van vyf kanonne. Uiteindelik het die res van die Britse kolonne onraad bemerk en was die burgers genoodsaak om te begin skiet. Intussen het die res van De Wet se mag ook op die toneel verskyn. Die geveg wat daarop gevolg het, was ’n gevoelige nederlaag vir Broadwood, want hy het omtrent ’n derde van sy mag van 1800 man verloor. As gevolg van sy deursig en aanleg vir verrassingsaanvalle het genl. De Wet vir Broadwood op meesterlike wyse uitoorlê.

1933 – Genl. JBM Hertzog, as eerste minister, vorm die eerste nasionalistiese regering

1965 – Die Universiteit van Port Elizabeth geopen

Die Universiteit van Port Elizabeth – landwyd bekend as die kampus by die see – is op 31 Maart 1965 amptelik in ’n klompie geboue in die sentrale stadsdeel van Port Elizabeth geopen met 320 student, 10 professore, 8 senior lektore en 7 lektore, en met prof. Ernst Marais as die eerste rektor. In 1970 is daar begin bou aan die nuwe kampus by Somerstrand langs die see, en in 1974 is die eerste geboue betrek. Dit is die enigste tweetalige universiteit in Suid-Afrika, en in elke Vakkomitee word die helfte van die kursusse in Afrikaans en die ander helfte in Engels aangebied. In die vroeër oorwegend, indien nie uitsluitlik Engelse hawestad nie, is dit ’n besondere Afrikaanse deurbraak.

Geboortes

1881 – Gustav Bernhard Augustus Gerdener, teoloog, hoogleraar en geskiedskrywer († 15 Augustus 1967)

Gustaf Bernhard Augustus Gerdener was die seun van ’n Rynse sendeling wat na Suid-Afrika gekom het. Hy studeer op Stellenbosch en gaan daarna na die Universiteit van Tübingen, waar hy in die teologie promoveer. Na sy terugkoms in Suid-Afrika het hy as ’n veelsydige geleerde uitgeblink. Van 1913 tot 1917 het hy sendingwerk onder die Moslems in die Kaap gedoen. Van 1917 tot 1920 was hy predikant op Stellenbosch. Van 1933 tot 1937 was hy dosent aan die Sendinginstituut op Wellington, en van 1937 tot 1955 met sy aftrede, was hy professor aan die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch. Hy het hoofsaaklik in twee rigtinge belangrike wetenskaplike werk gedoen. Eerstens het hy pionierswerk gedoen in die vaderlandse kerkgeskiedenis. Dit het in 1925 begin met ’n biografie oor die Voortrekker Sarel Cilliers. Dit is in 1934 opgevolg met ’n geskiedenis van die NG Kerke in die Transgariep (d.w.s. noord van die Oranjerivier). In 1950 het hy ’n omvangryke werk oor boustowwe vir die kerkgeskiedenis gepubliseer, wat ’n beeld gee van sy indringende arbei in argiewe. Tweedens, het hy gewerk aan die sendinggeskiedenis. Dit het uitgeloop op ’n werk Recent Developments in the South African Mission Field (1958), waarin hy hom aansluit by die sendinggeskiedenis van prof. J du Plessis en dit uitbou tot ongeveer 1957. Vir sy reusebydrae op hierdie gebiede het hy die Stalsprys vir Teologie van die SA Akademie ontvang en ook die DF Malan-medalje. Hy het sy kerk by verskeie geleenthede in die buiteland verteenwoordig. Hy was ook ’n stigterslid van SABRA en baie jare in die hoofbestuur. Hy is op 15 Augustus 1967 op Stellenbosch oorlede.

1939 – Christoffel (John) Kannemeyer, akademikus letterkundige en skrywer († 25 Desember 2011)

Prof. John Christoffel Kannemeyer was ’n akademikus, letterkundige en skrywer. Hy is veral bekend vir die biografieë wat hy geskryf het, onder andere die lewensverhale van DJ Opperman, CJ Langenhoven, C Louis Leipoldt en Uys Krige. Hy het enkele dae voor sy dood sy laaste biografie, oor die Nobelpryswenner JM Coetzee, voltooi.

Sterftes

1995 – Sarel Jacob Pretorius, digter, joernalis, professor en omroeper (* 7 Januarie 1917)

2007 – Ds. Vidius Nel, predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk (* 27 Augustus 1924)

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/