30 JULIE
July 30, 2015
1 AUGUSTUS
August 1, 2015

Gebeure

1872 – Die Volksraad van die ZAR keur die konstruksie van ’n spoorlyn van Pretoria na Delagoabaai goed

1897 – Die eerste kabel verbinding tussen Suid-Afrika en Europa, via Aden, word ingewy

1900 – Anglo-Boereoorlog: Genl. De la Rey arresteer oud-generaal Schoeman op sy plaas naby Pretoria omdat hy geweier het om ’n bevel te gehoorsaam om ’n konvooi voorraadwaens te begelei

1913 – Die Botaniese Vereniging van Suid-Afrika is in Kaapstad gestig

 

Geboortes

1885 – Marthinus Lourens de Villiers, Afrikaanse predikant en musikus, toonsetter van Die Stem van Suid-Afrika († 17 Mei 1977)

ML de Villiers is op hierdie dag in die Paarl gebore. Hy was die oudste seun van Dirk de Villiers, wat self 45 jaar lank orrelis op Wellington was en saam met sy vrou Tina, aan die hoof van hulle eie Musiekinstituut gestaan het. Marthinus het min formele onderrig van sy ouers ontvang maar het gou in ’n bruikbare pianis, violis, orrelis en klarinetspeler ontwikkel. Na matriek studeer hy drie jaar lank aan die Hugenote Kollege in Wellington, en behaal die BA-graad in 1904, ’n jaar na die eerste publikasie van een van sy komposisies: “ ’n Mars vir klavier”. Van 1905 tot 1907 gee hy onderwys op Wepener, waar hy die spil word waarom die dorp se musieklewe draai – hy stig ’n blaasorkes, gee les in verskeie musiekinstrumente, word orrelis van die NG Gemeente en bring ’n kerkkoor op die been vir wie hy koorstukke komponeer. Die besoek van die destydse vermaarde Bosman de Ravelli aan Wepener en dié se aanmoediging en wenke het ’n heilsame en vormende invloed op ML gehad. Hier, ook, maak die verwoesting wat die Anglo-Boereoorlog gesaai het en die moedige pogings tot heropbou, ’n diepe indruk op die tot dusver half-Engelsgesinde Kapenaar; en verder gesteun deur die sterk Afrikanergevoel van sy boerenooi, Minie du Plessis, met wie hy later trou, en sy persoonlike kennismaking met pres. Steyn, ondergaan sy volksgevoel ’n metamorfose: tot aan die einde van sy lewe bly hy ’n pro-Afrikaner-volksman. Sy nuutgebore aangetrokkenheid tot sy moedertaal kry beslag in die vier jaar (1908 tot 1911) waarin hy aan die Kweekskool op Stellenbosch studeer en hy skep sy eerste toonsetting van Afrikaanse gedigte, waaronder “Oproep tot stryd vir die Moedertaal” (woorde NJ Brümmer). Na ’n kort werktyd as hulpprediker in Beaufort-Wes in 1912, aanvaar hy nog in dieselfde jaar ’n beroep na Bedford waar hy as predikant werk tot 1918. Weer eens stig hy ’n orkes en ’n koor en organiseer hy talle konserte. Nog belangriker is dat hy baie liedere skryf, dikwels met ’n patriotiese inslag soos “Ik ken ’n liefste Volksman, Helpmekaarslied, Slagtersnek”, ens. In hierdie tyd ontmoet hy groot volksfigure soos genl Hertzog, dr DF Malan en CJ Langenhoven. In 1919 verhuis hy na Simonstad en skryf byna onmiddellik in as buitemuurse student by die Universiteit van Kaapstad, waar hy etlike jare lank komposisie onder prof. WH Bell bestudeer; die uitwerking hiervan op die harmoniese vorm van sy later komposisies, veral in sy “Vier Kunsliedere” is tekenend. Sy blywendste prestasie is egter dat hy, na ’n mislukte eerste poging, in 1921 ’n uitstekende toonsetting van Langenhoven se pragtige “Die Stem van Suid-Afrika” maak wat tot 1994 ons land se amptelike Volkslied was. Baie van sy ander komposisies word in die twintigerjare gepubliseer; waar hy op Bedford meesal sy eie woorde getoonset het, maak hy nou op aandrang van adv. HA Fagan veel meer gebruik van die digwerke van erkende digters soos Celliers, Keet, ens. In samewerking met sy neef, PK de Villiers, publiseer hy ook twee reekse skoolliedere wat jare lank groot aftrek kry. In 1930 tree hy uit die predikantsamp, vestig hom op Wellington en  onderneem – tot sy uittrede uit die publieke lewe in 1945 – vyftien landsreise gewy aan lesing-uitvoerings, meesal by skole. Talle skoolliedere vloei uit sy pen, en ook vele ander komposisies insluitende meer as ’n dosyn aanvaarde volkspeleliedere. In 1940 ontvang hy die SA Akademie se Erepenning, en in 1957 word sy toonsetting van “Die Stem” as amptelike Volkslied deur die Parlement aanvaar. Na ’n rustige oudag op sy tuisdorp, sterf hy op 17 Mei 1977 op 91-jarige ouderdom.

1909 – Gregoire Boonzaier, kunsskilder († 22 April 2005)

Gregoire John Boonzaier, seun van die bekende spotprenttekenaar DC Boonzaier, is in Kaapstad gebore, waar hy in ’n kunsbewuste omgewing grootgeword het. Op 14-jarige ouderdom begin hy hom ernstig aan die kuns te wy en word hy aanvanklik sterk deur P Wenning beïnvloed. Na 1925 ontwikkel hy egter ’n sterk eie styl, sy tyd vooruit. Van 1934 af drie jaar lank studeer hy in Londen, en na sy terugkeer beywer hy hom vir die stigiting van The New Group. Hy het kunwaardering in Suid-Afrika baie bevorder. Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het in 1958 ’n erepenning aan hom toegeken.

1944 – Louis van Rensburg, sanger, komponis en liedjieskrywer († 9 September 2012)

Louis van Rensburg was ’n sanger, komponis en liedjieskrywer. Hy het bekendheid verwerf met sy musiek vir die TV-reeks Ballade vir ’n enkeling, waaronder die liedjie “Voshaarnooi”. Hy het ook klankbane vir verskeie ander TV-reekse soos Bart Nel, Bosveldwinkel, Wielie-Walie, Geknelde land, Meester en  Arende geskryf. Meer onlangs het hy die temamusiek vir die sepie 7de Laan geskryf.

 

Sterftes

2012 – Johan van der Merwe, akteur (* 12 November 1950)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/