30 DESEMBER
December 30, 2016
1 MEI
January 10, 2017

Gebeure

1687 – Die eerste Franse Hugenote vaar vanuit Nederland na Kaap die Goeie Hoop

 

Geboortes

1807 – Josias Philippus Hoffman, eerste president van die Oranje-Vrystaat († 13 Oktober 1879)

Die eerste President van die Oranje-Vrystaat, Josias Philippus Hoffman, was ironies genoeg, nie in hart en niere ’n oortuigde republikein nie. Gebore op Stellenbosch, vestig hy hom eers in 1940 in die Transgariep. In 1848 en daarna berus hy aanvanklik in die uitbreiding van die Britse gesag oor hierdie gebied. Hy sou eers na 1853 van sienswyse verander, en onder sy voorsitterskap word die Bloemfontein-Konvensie in 1854 onderteken. Hierna maak hy snelle politieke opgang in die onafhanklike Oranje-Vrystaat. En in September 1854 word hy as eerste President ingehuldig. Ten gunste van hom tel die feit dat hy reeds ’n hegte vriendskap met Mosjesj, die Basoeto-opperhoof, gesmee het. Gedurende sy kort ampstermyn sou hy dan ook poog om ’n vredesbeleid te volg – vandaar sy persoonlike samesprekings met die inboorlinghoofde soos Mosjesj en Adam Kok. Op besoek aan Mosjesj in Augustus 1854 skenk hy aan die opperhoof ’n klein vaatjie kruit van 50lb, ter vervanging van die kruit wat gebruik is vir sy verwelkoming. In die oë van die talle Vrystaters was dit ’n uiters ernstige oortreding. Boonop het Hoffman hierdie skenking in sy verslag aan die Volksraad nie vermeld nie. ’n Vertrouenskrisis het ontstaan, en onder druk het Hoffman in Februarie 1855 bedank. Hy is op 13 Oktober 1879 op sy plaas Slootkraal, in die distrik Wepener, oorlede.

1837 – Hendrik Carel Vos Leibbrandt, argivaris en bibliotekaris († 2 November 1911)

Hendrik Carel Vos Leibbrandt is op 31 Desember 1837 in Kaapstad gebore en na sy skoolopleiding bekwaam hy hom aan die Universiteit van Utrecht as predikant. Aan die begin van 1860 word hy predikant van Victoria-Wes. In hierdie jare ervaar die NG Kerk die aanslag van die liberalisme fel. Leibbrandt was een van hierdie vrysinnige leraars, en in sy eie gemeente lei sy beskouinge tot ’n aanklag voor die ringsvergadering. Na ’n lang uitgerekte stryd kom hy en die gemeente tot ’n vergelyk: om ’n skeuring in die plaaslike kerklike gemeenskap te voorkom, het die gemeente hom versoek om die bediening neer te lê en bied hul hom £2 500 ter vergoeding aan. Leibbrandt vertrek op 25 Junie 1877 na Graaff-Reinet waar hy predikant van die Unitariërs word. Vanweë sy belangstelling in die geskiedenis, word hy in 1881 argivaris en bibliotekaris van die Parlementsbiblioteek. In 1901 is die twee poste geskei en hy word die eerste vaste argivaris van die Kaapkolonie. Hy lewer werk van onskatbare waarde en versamel en publiseer argivale werke soos: Rambles throug the archives of the Colony of the Cape of Good Hope, 1688-1700 en Precis of the archives of the Cape of Good Hope, 1651-1653. Sy publikasie “De Rebellie van 1815” is ’n hoofbron van inligting oor die Slagtersnekstryd.

1905 – Agnes Alwena (Wena) Naudé, aktrise en toneelbaanbreker († 6 September 1978)

Agnes Alwena (Wena) Naude, wat die eretitel “liefling van die Afrikaanse toneel” verwerf het met haar diens aan die Afrikaanse beroepstoneel, veral in die moeilike aanvangsjare, met die suiwerheid en element van waaragtigheid in haar spel, met haar veelsydigheid, met haar eerbied en piëteit teenoor die rol wat sy vertolk, teenoor haar medespelers, teenoor die skrywer en sy woord, teenoor haar regisseur, het in 1975 haar goue jubileum op die Afrikaanse toneel gevier. As een van die leiers van die Afrikaanse toneel (sy was ook bestuurslid van die FAK se Toneelbond van 1936), het sy haar loopbaan in 1925 in Pretoria begin onder Paul de Groot. In die vyftigerjare het sy haar ook onderskei as rolprentaktrise van formaat. Sy is in Volksrust gebore en op 6 September in Pretoria oorlede.

1913 – Anna M Louw, skrywer († 12 Junie 2003)

Anna M Louw was ’n skrywer en ‘n wenner van die Hertzogprys.

1923 – Rykie van Reenen, Afrikaanse joernalis († 28 Desember 2003)

Rykie van Reenen was een van die grootste Afrikaanse joernaliste van die tweede helfte van die twintigste eeu.

 

Sterftes

1910 – Ds. Wilhelm Adolph, predikant in die NG Kerk (* 25 Maart 1853)

Wilhelm Adolph Alheit was die seun van ’n Duits-Rynse sendeling wat in 1842 na Suid-Afrika gekom het. Ds. Alheit was predikant op Colesberg, Dordrecht en Ceres. Hy was ’n besonder geliefde predikant en het op baie terreine in die kerklike lewe leiding gegee. In die Anglo-Boereoorlog was hy veldprediker vir die Boeremagte. Hy het in die Sinodale Sendingkommissie gedien en een van die sendingstasies in Masjonaland (Suidoos-Rhodesië) is na hom genoem. Ook op die Algemene Armesorgkommissie het hy ’n leidende rol gespeel, veral met die aanleg van Kakamas. Een van die kleiner nedersettings, wes van Kakamas, is na hom genoem. Terwyl hy met sy gesin op hul geliefde vakansieoord Kleinmond met verlof was, is hy op 31 Desember 1910 deur ’n brander van die rotse geslaan en het hy verdrink. Sy jongste seun, ds. B Alheit, het in 1964 op byna dieselfde plek verongeluk. 

1939 – Johannes Stephanus Marais (Jan) Rabie, baanbreker vir Afrikaans in Natal (*3 Februarie 1868)

Johannes Stephanus Marais Rabie is op die plaas Groenkloof, distrik Fauresmith, gebore. Hy studeer op Stellenbosch, Cambridge en Bonn en het as joernalis en later redakteur van De Natalse Afrikaner belangrike baanbrekerswerk vir Afrikaans in Natal gedoen, deurdat hy vroeg reeds die waarde van Afrikaans bo Nederlands ingesien en hom beywer het om Afrikaans as joernalistieke taal te vestig. Hy is op 31 Desember 1939 in Bloemfontein oorlede.

1941 – Sen. Francois Stephanus Malan, politikus en kabinetsminister (* 12 Maart 1871)

Francois Stephanus Malan is op Bovlei by Wellington gebore. In sy lang openbare loopbaan het hy op haas elke gebied van die volkslewe ’n noemenswaardige bydrae gelewer. As redakteur van Die Patriot en Ons Land, vooraanstaande Kabinetslid en gesiene kerkman, het hy die Afrikaanse taal bevorder, en sedert 1924 tot sy afsterwe op 31 Desember 1941 het hy as kultuurleier, onder meer as voorsitter van die Afrikaanse Taalbond, ’n vername rol gespeel. Hy was onder meer ’n stigterslid van die FAK.

1946 – Genl. Jan Christoffel Greyling (Jan) Kemp, soldaat, kabinetsminister en rebelleleier (* 10 Junie 1872)

Jan Kemp, gebore in die Amersfoort-distrik, het sy opvoeding aan die Staatsgimnasium in Pretoria ontvang en het daarna onder meer in die kantoor van die mynkommissaris op Krugersdorp gewerk. Hy het aan die Magato-oorlog (1895) en die krygsverrigtinge met die Jameson-inval (1895 tot 1896) deelgeneem. In die Anglo-Boereoorlog het hy as lid van die Krugersdorpse kommando aan die eerste gevegte in Natal deelgeneem en is hy in Junie 1900 in Noord-Transvaal tot kommandant verkies. In Februarie 1901 is hy as veggeneraal aangestel, en in die hoedanigheid het hy sy bekwaamheid en waaghalsigheid getoon in gevegte soos dié by Moedwil (30 September 1901) en Ysterspruit (25 Februarie 1902). Met die vredesonderhandelinge op Vereeniging, was hy een van die ses afgevaardigdes wat teen die vredesvoorwaardes gestem het. In 1912 het genl. JC Smuts hom oorreed om hom by die pas gestigte Unie-Verdedigingsmag aan te sluit, maar op 13 September 1914 het hy sy offisiersrang neergelê uit protes teen die Botha-regering se oorlogsbeleid en aktief aan die Rebellie (1914–1915) deelgeneem. Sy grootste militêre prestasie was waarskynlik sy heldetog deur die Kalahari in hierdie tyd. Na aanvanklike militêre welslae, was hy verplig om hom op 2 Februarie 1915 aan die regeringstroepe oor te gee. Na ’n periode van tronkstraf, is hy op 22 November 1916 vrygelaat. Nadat hy lid geword het van die Nasionale Party, is hy in 1920 tot Volksraadlid vir Wolmaransstad verkies; hy het hierdie kiesafdeling tot sy dood verteenwoordig. Van 1924 tot 1934 was hy Minister van Landbou en het hy ook met die nood van ekonomiese depressie te kampe gehad. Hy het genl. JBM Hertzog by die samesmelting met die Suid-Afrikaanse Party gesteun en daarna Minister van Lande geword, maar in 1936 en 1938 tydelik as Minister van Verdediging waargeneem. In die hoedanigheid het hy op 15 Desember 1938 tydens die Voortrekker-eeufeesviering aangekondig dat Robertshoogte voortaan as Voortrekkerhoogte sou bekend staan. In die Tweede Wêreldoorlog het Kemp genl. Hertzog se neutraliteitsvoorstel gesteun en hom daarna by die Herenigde Nasionale Party aangesluit en medeleier van die party in Transvaal geword. Kemp is op 31 Desember 1946 op Piet Retief oorlede. Hy was ’n dapper en vasberade man wat vurig aan ’n republikeinse regeringsvorm vir Suid-Afrika geglo het. 

1971 – Albertus Johannes Roux van Rhijn, eerste hoofredakteur van Die Volksblad, lid van die parlement en administrateur van Suidwes-Afrika (* 7 Julie 1890)

1986 – Bartholomeus Jacobus (Bartho) Smit, skrywer en dramaturg (* 15 Julie 1924)

Bartho Smit was ’n skrywer, digter, dramaturg, regisseur en een van die sogenaamde Sestigers. Hy is in sy lewe met ’n Hertzogprys, Perskorprys en ’n Encyclopaedia Britannica Award bekroon.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/