30 AUGUSTUS
August 30, 2015
Mary Moffat
August 31, 2015

Gebeure

1900 – Anglo-Boereoorlog: Trein en soldate geroof

Kommandant Danie Theron roof ’n trein en 30 soldate by Kliprivierstasie, naby die huidige Soweto.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Quaggafontein, Krugersdorp

1901 – Anglo-Boereoorlog: Tobias Smuts gedemoveer

Kommandant Botha demoveer assistentkommandant-generaal Tobias Smuts as gevolg van sy optrede by Bremersdorp.

1918 – Dr. DF Malan se beroemde onafhanklikheidstoespraak

Op hierdie dag spreek dr. DF Malan ’n vergadering op Malmesbury toe en bepleit vir die eerste keer onafhanklikheid vir Suid-Afrika. Dr. Malan het die onderwerp sterk aangeroer, hoewel sy partyleier, genl. JBM Hertzog, en die Nasionale Party self gesê het dat die tyd nog nie daarvoor ryp is nie – maar met die duidelike verstandhouding dat daar ook “aan die ander kant geen anti-republikeinse propaganda gemaak sou word nie”. “Aan die ander kant” het egter nie aan die verstandhouding voldoen nie, en dr. Malan het sy openbare onafhanklikheidspleidooie daarna as “geheel onvermydelik” bestempel. “Indien in sulke omstandighede die republikeinsgesinde deel van die volk hom nie sou uitspreek nie, sou hy nie alleen sonder protes toelaat dat hy aangeval en veroordeel word nie, maar sou hy ook toelaat dat daar in Engeland sowel as by ander volke in die wêreld ’n verkeerde indruk gewek word oor sy werklike gevoelens en oortuigings … en dit sou gebeur het op ’n tydstip dat daar ook oor Suid-Afrika se lot beslis sal word,” het dr. Malan beklemtoon. Dr. Malan het ook ernstige protes aangeteken teen die konstitusionele veranderinge wat “ons bestaande vryhede” ingekort en in ’n imperialistiese rigting beweeg het. Hy het verwys na die besluit van die Sentrale Komitees van die Nasionale Party op 7 Augustus in Bloemfontein dat, in die lig van die doeleindes van die oorlog (Eerste Wêreldoorlog) en verklaringe van pres. Woodrow Wilson van Amerika en premier Lloyd George van Engeland dat alle geskonde regte en vryhede herstel moet word, dat alle nasionaliteite die reg moet hê om oor hul eie lot te beslis, en dat geen volk ooit gedwing mag word om onder ’n heerskappy te staan waaronder hy nie wil lewe nie, Suid-Afrika ook die reg – ’n Godgegewe en onvervreembare reg – moet hê “sodat vir hierdie land beskikbaar gestel sal word volkome vryheid en onafhanklikheid, insluitende die reg om ’n eie regeringsvorm te bepaal”. Dr. Malan het gesê Suid-Afrika se vryheidstrewe behels meer as ’n republiek. Dit vra volkome onafhanklikheid, en langs ’n konstitusionele weg – nie deur revolusie of geweld nie. Die Afrikaner het in sy hele geskiedenis die vryheid ideaal nagestreef, “so selfs dat ons geen enkele tyd in ons geskiedenis sedert ons ’n volk geword het, kan opnoem wanneer dit nie die geval was nie”. Dr. Malan het die destydse besware teen ’n onafhanklikheidstrewe – soos eer en plig teenoor Engeland (die Britse konneksie), ontydigheid, en dat Suid-Afrika te klein en betekenisloos is – grondig en oortuigend verwerp. Dr. Malan het in onafhanklikheid ook ’n oplossing vir die “Rassekwessie” (die stryd tussen Afrikaans en Engels en die gevolglike stryd tussen die Imperialisme en die Nasionalisme) gesien en toe reeds gemeenskaplike vaderlandslojaliteit met een vlag bepleit. Hy het sy toespraak so afgesluit: “Ons is dit (onafhanklikheidstrewe) skuldig aan die voorgeslag wat ons vooruitgegaan is en wat vir die ideaal van die vryheid geleef en daarvoor gesterf het. Ons is dit verskuldig ook aan die geslagte wat nog sal kom. Hulle sal eenmaal terugkyk op hierdie tyd met sy nuwe ideale en met sy geleenthede, en hulle sal rekenskap van ons afeis. Ons verantwoordelikheid mag ons en sal ons nie van ons afskuif nie.”

1929 – Die spoorlyn tussen Messina en Beitbrug word geopen.

 

Geboortes

Geen

 

Sterftes

1937 – Esias Renier Grobler, politikus en administrateur van die Oranje Vrystaat (* 1 Januarie 1861)

As seun van Philippolis, het Esias Renier Grobler hom onderskei as lid en ondervoorsitter van die Vrystaatse Volksraad. Met die uitbreek van die Engelse Oorlog beklee hy die rang van generaal by die suidelike kommando’s. Ná die oorlog keer hy terug na die politiek en verteenwoordig hy onder meer die Nasionale Party in die Senaat. Van 1924 tot 1929 beklee hy op waardige wyse die administrateurskap van die Oranje-Vrystaat. Hy is op 31 Augustus 1937 in Bloemfontein oorlede.

1938 – Andries Dreyer, sendeling en kerkhistorikus (* 10 Januarie 1872)

Andries Dreyer – sendeling, kerkhistorikus en argivaris van die NG Kerk, joernalis en Africana-versamelaar – is op Philadelphia in Kaapland gebore. Hy het hom aanvanklik vir die onderwys bekwaam. Met private studie het hy in 1896 in die sendelingeksamen van die NG Kerk geslaag. Hy is op 12 Maart 1903 georden as sendeling van die gemeente Kaapstad met die Kleurlingwyk Hanoverstraat as werkkring. In 1928 het die NG Kerk hom uit hoofde van sy veelvuldige kerkhistoriese publikasies tot die eerste heeltydse kerkargivaris en redakteur van die jaarboek (almanak) van die NG Kerke in Suid-Afrika benoem, ’n pos wat hy tot sy dood op 31 Augustus 1938 beklee het. Sy kerkhistoriese arbeid, sy bronnepublikasies en sy kosbare Africana-versameling het in 1937 aan hom ’n eredoktersgraad in die lettere van die Universiteit van Suid-Afrika besorg. Tientalle gemeentelike en kerkgedenkalbums het uit sy pen verskyn, en hoewel hy nie as ’n vakkundige geskiedskrywer beskou is nie, het hy ’n benydenswaardige historiese sin geopenbaar en in meer as een opsig die weg gebaan vir die wetenskaplike beoefening van die kerkgeskiedskrywing in Suid-Afrika.

1998 – Gerhard Johannes (Gerhard) Beukes, skrywer (* 21 November 1913)

Gerard J Beukes was ’n dramaturg, veral bekend vir sy komedies. Benewens sy eie toneelstukke laat hy ook talle ander skrywers se bloemlesings die lig sien. Hy het die Hertzogprys vir drama in 1952 verower en was tot 1978 hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Vrystaat.

1998 – Heine Toerien, uitsaaier en skrywer van vermaaklikheidsprogramme (* 15 Desember 1926)

2014 – Ollie Viljoen, musikant, storieverteller en TV-regisseur (* 17 Maart 1939)

2018 – Marinus Wiechers, regsman en grondwetkenner (* 14 Oktober 1937)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/