29 NOVEMBER
November 27, 2015
1 DESEMBER
December 1, 2015

Gebeure

1899 – Anglo-Boereoorlog: Swaar bombardement van Boere op die beleërde Ladysmith

1938 – Die fakkelloop vir die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument begin

Die Sentrale Volksmonumentekomitee (SVK) was verantwoordelik vir die reëlings by die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument. Met die organisasie van die program en die uitnodiging van sprekers het al spoedig die grondliggende politieke verskille van die tyd baie duidelik deurgeskemer. Generaal JBM Hertzog het genoeë geneem met die lys van sprekers wat by die hoeksteenlegging sou optree, dog het gemeen dat generaal JC Smuts ook gevra moet word om as spreker op te tree, en hy het verder daarop gewys dat die Goewerneur-generaal amptelik by die hoeksteenlegging aanwesig moet wees. Uit alle oorde van die land is egter hierteen protes aangeteken, omdat die indruk bestaan het dat by so ’n byeenkoms, wat dan ’n staatsplegtigheid sou wees, die Britse volkslied gespeel en die Britse vlag gehys sou moet word. Die komitee was eenparig van oordeel dat die weglating van alle volksliedere by die verrigtinge alle moeilikhede uit die weg sou ruim. Indien die Britse volkslied wel gespeel sou word, sou ’n groot deel van die Afrikaanssprekende bevolking hulle die verrigtinge onttrek en die program sou dan in duie stort. Die komitee het die regering dienooreenkomstig ingelig. Om verdere onaangenaamhede in hierdie verband te voorkom, het generaal Hertzog besluit om hom aan die verrigtinge te onttrek. Nóg hy nóg die Goewerneur-generaal sou die verrigtinge bywoon. Aanvanklik is eenparig besluit dat generaal Hertzog gevra sou word om die hoeksteen te lê. Hy was ook bereid om dit te doen. Daar het egter opnuut aanvalle gevolg toe hierdie kampvegter vir Afrikaanse aangewys is om dit te doen. Generaal Hertzog is naamlik deur sommiges van te veel vrees, of dan weer te veel liefde, vir Engeland beskuldig. Die FAK het hom daarvoor beywer dat die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument deur regstreekse nasate van die Voortrekkers waargeneem sou word. Die SVK het toe ’n keuse gedoen uit stukke aan hulle voorgelê, van drie vroue wat hierdie taak sou vervul: Mev. (ds.) DP Ackerman, van Bethlehem, ’n agterkleindogter van kmdt.-genl. A.H. Potgieter; mev. JC Muller, van Winterton, ’n kleindogter van kmdt.-genl. A.W.J. Pretorius; en mev. GS Preller, van Pretoria, ’n agterkleindogter van Piet Retief. Die fees is feitlik uitsluitend deur Afrikaners bygewoon, en die voertaal van die verrigtinge was met enkele uitsonderinge Afrikaans. Die Eeufeesprogram het amptelik op 13 Desember 1938 begin met die ontvangs van die ossewaens in Pretoria. Die verwelkoming op Kerkplein, die optog van die waens na die verwelkoming op Kerkplein, die optog van die waens na die universiteitsterrein, waar die laaste nag op die Pad van SA deurgebring is. Op 14 Desember het die besonder indrukwekkende ontvangs van die fakkeldraers van die Voortrekkerbeweging plaasgevind. Twee vuurpyle het die aankoms van die fakkels aangekondig. Die twee fakkels is gevolg deur 3 000 kleiner fakkels, wat deur die Voortrekkers uit alle dele van die land gedra is. Die feeskomitee het die fakkels in ontvangs geneem. Net voordat die hoogtepunt van die feesviering met die hoeksteenlegging bereik is, het adv. EG Jansen vir prof. dr. JD Kestell, in die afwesigheid van mev. (pres.) MT Steyn versoek om die oorkondes in die hoeksteen te plaas. Dit was die Dagboek van Jan van Riebeeck, ’n afskrif van die Traktaat tussen Retief en Dingaan, ’n vergulde afdruk van die Gelofte van Danskraal, ’n afdruk van “Die Stem”, verseël in ’n waterdigte loodkoker en die eksemplaar van die Statebybel geskenk deur die HB Klopper-gesin.

1954 – Johannes Gerhardus Strijdom begin sy termyn as die premier van die Unie van Suid-Afrika

Advokaat Hans Strydom, die “Leeu van Waterberg” was Suid-Afrika se sesde eerste minister. Hy was moontlik die mees vurige republikein om ooit die land te regeer, hoewel hy nie geleef het om Suid-Afrika ’n republiek te sien word nie. Hy was ’n harde politieke werker, wat homself, volgens party tydgenote, letterlik dood gewerk het. Hoewel hy nie in sy tyd ’n republiek tot stand kon bring nie, het hy belangrike simboliese voorbereidings gemaak.

1977 – Volksraadsverkiesing

Volksraadsverkiesing waarin die Nasionale Party 134, die Progressiewe Federale Party 17 en die Nuwe Republiek Party 10 setels wen.

 

Geboortes

1734 – Cornelis Jacob van de Graaff, een van die latere Hollandse goewerneurs van die Kaap de Goede Hoop († 21 April 1812)

Cornelis Jacob van de Graaff was een van die latere Hollandse goewerneurs van die Kaap. Hy is in 1784 tot goewerneur van die Kaap die Goeie Hoop benoem en kom die volgende jaar op 5 Januarie in die Kaap aan.

1923 – Emgee Pretorius, akteur († 1 Mei 2007)

Emgee Pretorius was ’n Afrikaanse akteur. Hy was ’n bekende gesig op Suid-Afrikaanse televisie en het hoofrolle in TV-reekse soos Nommer asseblief, Vyfster en Koöperasie­stories vertolk.

 

Sterftes

Geen

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/