29 MEI
January 10, 2017
31 MEI
January 10, 2017

Gebeure

1900 – Anglo-Boereoorlog: Slag by Fabersput, Kaapkolonie

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Elandsfonteinstasie; Germiston; Natalspruit, ZAR

1900 – Paul Kruger verlaat Pretoria as banneling

Toe president Kruger die aand van 29 Mei in Pretoria van sy vrou Gezina, ander familielede en amptenare afskeid neem, was hy nie ‘n vlugteling of was dit nie selfopgelegde martelaarskap nie. Dit was ‘n selfgekose vertrek in oorleg met en byna in opdrag van die wettige Boereregering van die land asook na onderhandelings met Boer voormanne soos pres. MT Steyn en andere van die Vrystaat. 

Hy moes eenvoudig nie in die hande van die aanrukkende Britse vyand val nie omdat dit ‘n sielkundige neerlaag vir hom en ‘n terugslag vir die volksgevoel sou beteken. Verder moes hy in die buiteland gaan hulp soek: geld en begrip en goedere en steun aan die Boeresaak teenoor Brittanje deur die Europese regerings en nie langer net deur die Europese publiek nie. 

Voorts moes Kruger dringend mediese aandag aan sy pynlike, chronies ontsteekte oë gee en dit kon hy alleenlik in Nederland laat doen. Uit vrees dat die Britse gepeupel ‘n oproer op die stasie sal veroorsaak wanneer Kruger vertrek, het hy per vier-perdewa’s na ‘n eerste halte op die spoor roete na Machadodorp gereis – saam met dr. Heymans, Frikkie Eloff (jnr.) en Manie Bredell. 

Op 30 Mei het hulle Machadodorp bereik, maar Kruger het feitlik dadelik vanweë die koue op die warmer Waterval-Onder gaan woon en daar met sy amptenare onderhandel. In die paar weke dat hy hier vertoef het, was Kruger nog steeds uiters pessimisties, somber en swartgallig. Hy het gevrees dat die burgers net nie langer wou veg nie en het daarom self aanbeveel dat die oorlog gestaak moes word hoewel daar nie om vrede gevra moes word nie. 

Dat hy tant Gezina nooit weer sou sien nie, het hy genadiglik nie in hierdie dae reeds besef nie. Danksy M.T. Steyn en C.R. de Wet se bemoedigende houding en hulle weiering om op enige wyse met lord Roberts te onderhandel, het ook Louis Botha en Kruger moed geskep. 

Van Waterval-Onder af het Kruger op 29 Augustus 1900 na Nelspruit verhuis – hy het in sy spoorwegrytuig bly woon en dit was ook die hoofsetel van die regering. Maar op 11 September is Kruger by Komatipoort oor die grens na Portugese gebied. Op Hectorspruit het hy en Steyn nog eers beraadslaag en afskeid geneem. Kruger het met trane in die oë gewag dat die trein moet vertrek. Op vaderlands bodem sou hy nooit weer wandel nie.

1902 – Voorspel tot oorgawe

Tussen 15 en 31 Mei 1902 is daar, na uitgebreide korrespondensie sedert Maart oor vrede tussen die strydende Boere- en Britse magte, en na onderlinge samesprekings by Kroonstad, Klerksdorp, Pretoria, Vereeniging en weer Pretoria en ook Vereeniging, tot vrede besluit. Dit was ‘n uitgerekte, netelige saak. 

Van 29 Mei af is by Vereeniging finale helderheid begin kry. Die sittings is deurgaans met gebed geopen en gesluit. Verslae van die verskillende ondersoek groepe was byna almal ontvang en verklaar. 

Op Vrydag 30 Mei was die einde werklik in sig. Pres. Steyn het die 29ste weens swak gesondheid as Vrystaatsse president bedank, en C.R. de Wet is in sy plek as waarnemer aangewys. Die hele dag is daar gepraat – deur JC Smuts, Louis Botha, JBM Hertzog, JH de la Rey, J Naude, kmdt. Chris van Niekerk, genl. Chris Muller van Boksburg, en ander. 

Almal het die allerhaglikste beeld van die vernietiging oral in die Republieke geskets. Wie aanhou veg, sal die boerevolk uitroei, want Brittanje se oogmerk was in ieder geval om die Afrikaner onherroeplik te breek – dit was min of meer die gang van elkeen se betoog. Europa sou hom beslis ook nie tot Boere voordeel inmeng nie. Verdere strydvoering sou die land finaal knak. 

Die Britte het besef dat die Boere in elke opsig voor die groeiende oormag nie sou kan bly staan nie en sou desnoods nie weer ‘n geleentheid tot ‘n formele vredesluiting skep nie. Die Afrikaanse volk durf nie vir staatkundige vryheid prysgegee word nie, want dan sou die wortel vernietig wees waaruit ‘n nuwe Afrikanerdom kan groei.

 

Geboortes

1827 – Ds. Andries Adriaan Louw, kerkleier († 24 Junie 1908)

Andries (Andreas) Adriaan Louw, gebore in Paarl, was ‘n invloedryke leraar van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Hy is die eerste predikant van Fauresmith (1848 tot 1867) en praeses van die stigtingsvergadering van die Sinode van die Vrystaat (1864). Uit sy huwelik met Jemima Murray kom drie vêrdere bekende leraars, A.A., A.F. en J.M. Louw. Hy sterf op 24 Junie 1908 in Paarl.

1837 – Genl. Nicolaas Smit, onderpresident van die ZAR en generaal tydens die Eerste Vryheidsoorlog († 4 April 1896)

Nicolaas Jacobus Smit is in die distrik Graaff-Reinet gebore, maar verhuis op driejarige ouderdom saam met sy ouers na Natal en van daar na Wes-Transvaal. Op jeugdige ouderdom neem hy as voortreflike skut aan verskeie strafekspedisies deel; hy word gewond en verloor sy gehoor en gesig aan die eenkant van sy hoof. Hy word tot veldkornet vir die wyk Mooirivier verkies, maar verhuis in 1873 na die distrik Ermelo om hom op die boerdery to te lê. In 1876 neem hy as tweede in bevel naas pres. Burgers aan die Sekoekoenie-oorlog deel. Hy behaal klinkend oorwinnings, maar die veldtog self is ‘n mislukking. Sy krygsvernuf en heldemoed sou egter eers in die Transvaalse Vryheidsoorlog tot volle ontluiking kom toe hy hom by Skuinshoogte en Amajuba onderskei. Na die oorlog word hy Volksraadlid en is lid van die Transvaalse Deputasie na Engeland om Britse susereiniteit opgehef te kry. Hy word in 1885 tot Voorsitter van die Volksraad verkies en in 1887 tot Vise-president en lid van die Uitvoerende Raad – ampte wat het met groot waardigheid tot aan sy dood op 4 April 1896 in Pretoria beklee het.

1921 – Jamie Uys, rolprentmaker († 29 Januarie 1996)

Johannes Jacobus Uys, meer bekend as Jamie Uys, was ’n internasionaal bekroonde Suid-Afrikaanse filmregisseur wat 24 films vervaardig het. Pryse vir sy werk was onder meer die Grand Prix van 1981 op die Festival International du Film de Comedy Vevey vir The Gods Must be Crazy en die Hollywood Foreign Press Association-prys vir beste dokumentêr in 1974 vir Beautiful People. The Gods Must Be Crazy het drie jaar van ononderbroke vertoning in die Verenigde State van Amerika geniet. Jamie Uys is op 29 Januarie 1996, Johannesburg, Suid-Afrika aan ’n hartaanval oorlede.

 

Sterftes

1915 – Johannes Henoch (Jannie) Marais, kampvegter vir Afrikaans en weldoener (* 8 September 1851)

JH Marais is op 8 September 1851 gebore en het op 30 Mei 1915 onverwags by die Montagubad (in die huidige Wes-Kaap) gesterf. Hy was die jongste van tien kinders en bring sy jeugjare deur op Coetzenburg, Stellenbosch. Hy ontvang tuisonderrig en gaan ook skool aan die Stellenbosch Gymnasium, die voorloper van die Victoria Kollege en die Universiteit van Stellenbosch. As negentienjarige gaan hy in Augustus 1870 saam met sy drie broers na die Vaalrivier-diamantdelwerye.

1972 – Mattheus Theodorus Rehuel Smit, predikant en skrywer (* 9 Januarie 1888)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/