29 JANUARIE
January 29, 2016
31 JANUARIE
January 31, 2016

Gebeure

1661 – Pieter Cruythoff se ekspedisie verlaat die Kaap

In die Dagregister van Jan van Riebeeck word op 30 Januarie 1661 aangeteken dat ’n ekspedisie bestaande uit twaalf man, onder leiding van Pieter Cruythoff, dié oggend die fort verlaat het met die doel om met die Namakwas, wat na bewering noord van die Olifantsrivier gevestig was, kontak te maak. Van Riebeeck het die ekspedisielede opdrag gegee om die Namakwas vriendelik te behandel en om hulle te probeer oorreed om met die Kaap handel te dryf.

Een van die ekspedisielede, Pieter van Meerhoff, gee in sy joernaal oor hierdie tog na die noorde ’n interessante beskrywing van die landskap waardeur die groep getrek het, sowel as van hulle ontmoeting met die Namakwas. So byvoorbeeld meld hy op 3 Februarie dat hulle by ’n berg, wat hulle “Riebeeck Kasteel” genoem het, oorgestaan het. Op hierdie berg het hulle leeus, renosters, sebras, volstruise en hartebeeste aangetref. Nadat die ekspedisie die Olifantsrivier oorgesteek het, het hulle die eerste Namakwas op 19 Februarie teëgekom. Die ontmoeting was vreedsaam en vanaf 20 tot 22 Februarie het Cruythoff en sy manne by die kraal van die hoofman deurgebring. Van Meerhoff gee ’n baie gunstige beskrywing van die Namakwas en meld dat daar 300 volwasse mans en 400 vroue en kinders in die kraal gewoon het en dat hulle ’n groot getal beeste en skape besit het.

Die ekspedisie het op 22 Februarie die terugreis begin en op 11 Maart die Kaap bereik. As gevolg van die sukses van hierdie tog het Van Riebeeck weer vir Pieter van Meerhoff op 21 Maart 1661 na die Namakwas gestuur in ’n poging om hulle met hulle handelsware na die fort te lok.

1824 – Lord Charles Somerset proklameer dat Hollands nie meer in die Kaapse geregshowe gebruik mag word nie

Lord Charles Somerset, die Kaapse goewerneur, se taalpro­klamasie het op 5 Julie 1822 verskyn. Hiervolgens sou Engels vanaf 1 Januarie 1827 die enigste voertaal in alle geregshowe wees. Dit was deel van die Britse bewindhebbers se beleid om die Afrikaner deur middel van die Engelse taal te verengels. Somerset het op 30 Januarie 1824 ’n verdere proklamasie uitgevaardig, waarin verklaar word dat Engels reeds vanaf 1 Maart van daardie jaar die enigste voertaal in die regspleging van die distrik Albanië sou wees. As rede is aangegee die feit dat die oorgrote meerderheid van die bevolking in Albanië Engelssprekend is. Wat die res van die Kaapkolonie betref, het ’n ordonnansie van 13 Desember 1826 bepaal dat Hol­lands, om praktiese redes, nog steeds in die howe gebruik mag word. Dit was egter bloot ’n tydelike vergunning, want ’n ordonnansie van 19 Desember 1827 het bepaal dat Engels die enigste taal sou wees in die magistraatshowe wat toe ingestel is.

 1915 – Rebellie: Kemp en Maritz onderhandel met Van Deventer

Kemp en Maritz onderhandel halfpad tussen die plaas Christiana en Upington met Van Deventer oor oorgawevoorwaardes. Dieselfde aand onderteken hulle die oorgawe-ooreenkoms in Upington, waarna hulle die volgende dag na hulle kommando’s terugkeer.

 

Geboortes

1888 – Daniël Brink Bosman, taalkundige, skrywer en vegter vir Afrikaans († 7 Mei 1960)

Daniël Brink Bosman is in die distrik Boshof gebore. Sy skoolloopbaan op Boshof is deur die Engelse Oorlog onderbreek. Gedurende die oorlog het hy ’n tyd lank saam met sy vader, wat weens doofheid nie op kommando kon gaan nie, gevlug. Na die oorlog het hy op Franschhoek en Boshof skoolgegaan en in 1908 op Boshof gematrikuleer. Hy het sy studie aan die Grey-Universiteitskollege (die latere Universiteit van die OVS) voortgesit, waar hy in 1911 die MA-graad behaal het. Op aanbeveling van pres. MT Steyn, is ’n Herman Coster-studiebeurs aan hom toegeken, en in 1912 is hy na Nederland om aan die Rijksuniversiteit in Groningen verder te gaan studeer. In 1916 het hy tot dokter in die Lettere gepromoveer op ’n proefskrif met die titel “Afrikaans en Maleis-Portugees”. Dr. Bosman se proefskrif is die eerste wetenskaplike verhandeling in Afrikaans op die gebied van die Afrikaanse taalwetenskap. Daarin opponeer en verwerp hy die teorie van prof. DC Hesseling dat Afrikaans ontstaan het a.g.v. ’n botsing van 17de-eeuse Nederlands met ’n Maleise Portugees aan die Kaap. In die plek daarvan stel hy sy teorie dat waar Afrikaans nie spontaan uit 17de-eeuse Nederlands ontwikkel het nie, dit toegeskryf moet word aan die invloed van die Nederlands van vreemdelinge. Hierdie proefskrif en die gevolglike lewendige polemiek tussen dr. Bosman en prof. Hesseling het groot belangstelling gewek vir die problematiek i.v.m. die verklaring vir die ontstaan van Afrikaans. Hierdie onderwerp het tientalle jare lank in die middelpunt van taalkundige aandag aan Afrikaans gestaan. Na sy terugkeer in Suid-Afrika was dr. Bosman ’n jaar lank lektor in Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch en daarna registrateur van die Grey-universiteitskollege in Bloemfontein. In 1921 is hy terug na Nederland vir navorsing in die Rijksarchief in Den Haag. In 1925 is hy aangestel as lektor aan die Universiteit van Kaapstad; in 1927 het hy hoogleraar in Afrikaanse en Nederlandse Taalkunde aan dieselfde universiteit geword, en hy het hierdie betrekking tot sy aftrede in 1948 beklee. Dr. Bosman was van 1918 tot 1948 lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en verskeie kere voorsitter daarvan. In die hoedanigheid het hy ’n belangrike bydrae tot verskillende uitgawes van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls gelewer. Hy was lid van die Akademie, waarvan hy van 1927 tot 1930 sekretaris was, en later het hy ook in die Raad van die Akademie gedien. Dr. Bosman het saam met IW van der Merwe die Tweetalige Woordeboek, Engels-Afrikaans (1931) en Afrikaans-Engels (1936) opgestel. Hierdie gesaghebbende werk, waaraan LW Hiemstra sedert 1962 meegewerk het, is meermale herdruk. As gesaghebbende taalhistorikus, was dr. Bosman ideaal toegerus om met prof. HB Thom mee te werk aan die uitgawe van Jan van Riebeeck se Dagboek, waarvan die eerste deel van die Van Riebeeck-feesjaar, 1952 en nog twee verdere dele tot 1957 verskyn het. Verder het talle taalwetenskaplike bydraes uit die pen van dr. Bosman verskyn in die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns, De Nieuwe Taalgids, Die Huisgenoot en die Hertzog-annale. In 1947 het sy laaste uiteensetting van sy opvattings oor die ontstaan van Afrikaans in die tweede deel van Die Kultuurgeskiedenis van die Afrikaner verskyn. In 1949 is hy aangestel as Gesant en later as Ambassadeur van die Suid-Afrikaanse Regering in Nederland. Hierdie amp het hy met waardigheid en groot welslae beklee. Na sy uittrede uit die diplomatieke diens het hy op sy plaas naby Somerset-Wes gaan woon, waar hy op 7 Mei 1960 oorlede is. Hy word onthou as een van die grondleggers van die wetenskaplike bestudering van Afrikaans, onkreukbare Afrikaner, eerlike en skerpsinnige denker en deeglike werker.

1930 – Genl. André De Merindon (Magnus) Malan, voormalige minister van verdediging en hoof van die SA Weermag († 18 Julie 2011)

Genl. Magnus Malan was net meer as tien jaar lank die Suid-Afrikaanse minister van verdediging, hoofsaaklik in oud-president PW Botha se kabinet, voordat hy eers hoof van die Suid-Afrikaanse Leër en later hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag was. Hy is in 2011 oorlede.

1949 – Randall Wicomb, sanger en liedjieskrywer († 27 Desember 2015)

Randall Wicomb was ’n Afrikaanse sanger en driemalige wenner van die ATKV se Crescendo-sangkompetisie (1975, 1976 en 1977).

 

Sterftes

1964 – Henry Charles Christopher (Harry) Wolhuter, wildbewaarder in die Sabi Wildreservaat (nou Kruger Nasionale Park) vanaf 1902-1946 (* 14 Februarie 1877)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/