29 APRIL
November 1, 2016
Wat is ’n hartbeeshuis nou eintlik?
November 17, 2016

Gebeure

1901 – Anglo-Boereoorlog: Long Tom opgeblaas

Die ZAR se vierde en laaste Creusot ‘Long Tom’ (waarskynlik die Jood) word opgeblaas voordat dit in die Britse hande val, net 200 meter van die aanstormende vyand. Hierdie daad geskied ten aanskoue van ’n Britse mag, skaars 200 treë van luitenant H du Toit af weg. Britse magte was besig was met ’n stormloopaksie op Du Toit. Du Toit het egter kalm en bedaard sy ding gedoen en die kanon vernietig.

1961 – Adv. CR Swart se laaste dag as goewerneur-generaal van Suid-Afrika

Die onafhanklikheidstrewe van die Nasionale Party was van die begin af in sy grondwet ingeskryf, en in 1934 is die betrokke art. 4 verander toe vir die eerste keer daarin bepaal is dat onafhanklikheid in ’n republikeinse staatsvorm verkry moet word. Die hoof van so ’n staat sou President heet, maar tot met republiekwording was die staatshoof nog die Goewerneur-generaal. Adv. CR Swart, lank leier van die Nasionale Party in die Vrystaat en sy lewe lank vurige republikein, het op 12 Januarie 1960 die laaste Goewerneur-generaal van SA geword, ’n pos wat hy op hierdie datum neergelê het, hangende sy verkiesing tot die eerste Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika op 31 Mei 1961.

1972 – Weslander, gemeenskapskoerant van die Kaapse Weskus, op Vredenburg gestig

 

Geboortes

1749 – Jacob Abraham Uitenhage de Mist, Kommissaris-generaal aan die Kaap († 3 Augustus 1823)

As regsgeleerde en lid van die Asiatiese Raad, het hy op 1 Maart 1803 as Kommissaris-generaal die bewind van Kaap die Goeie Hoop oorgeneem. Liberale hervorming wat hy geproklameer het, sluit o.m. in: ’n sentrale regering beliggaam in die Politieke Raad, ’n Rekenkamer, Boedelkamer en Raad van Justisie; leningsbanke is georganiseer; vryhandel is bevorder; ’n gemeenteraad (stadsraad) vir Kaapstad is ingestel; die Kerkorde van 25.7.1804 het Kerk en Staat geskei, maar die oppergesag van die Staat is gehandhaaf; met die Skoolorde van 11.9.1804 is die regstreekse invloed van die Kerk uitgeskakel en is sekulêre onderwys onder staatsbeheer geplaas; nasionaal-gerigte onderwys is bevorder; die buitedistrikte se geregtelike en politieke bestuur is ingrypend en doeltreffend gewysig: die landdrosdistrikte Uitenhage en Tulbagh is gestig, die landdroste en heemrade se funksies is omskrywe, die finansiële administrasie is doeltreffender gereël, grondbesit en die leningsplaasstelsel is verbeter, veldkornette se gesag is uitgebrei en elke Drostdy het kommissarisse vir huweliksake gekry; die afskaffing van die Hottentotkorps is oorweeg omdat dit ondoeltreffend was; ’n stelsel van vrye arbeidskontrakte vir Hottentotte by koloniste is ingestel; goedgekeurde sendinggenootskappe is toegelaat om met die ondersteuning en onder toesig van die owerheid te arbei; koloniste en nie-blanke stamme aan die Oosgrens is geskei; nie-blanke kapteins se seuns sou elementêre landbouonderrig ontvang om die beskawing onder die nie-blanke stamme te bevorder. De Mist het in Februarie 1805 die Kaap verlaat en na Nederland teruggekeer, waar hy op 3 Oktober 1823 oorlede is. 

1892 – Prof. Theodorus Johannes Haarhoff, skrywer en letterkundige († 30 Augustus 1971)

Theodorus Johannes Haarhoff is op 30 April 1892 in die Paarl gebore waar hy sy skoolopleiding ontvang het. Hy is daarna na die SA Kollege in Kaapstad. Op grond van sy skitterende prestasie in die studie Honns. BA-studie is die Rhodes- en Porter-beurs aan hom toegeken. Hy het aan vier buitelandse universiteite gestudeer en twee doktorate in die klassieke tale – een aan Oxford en die ander in Amsterdam – verwerf. In 1919 word hy lektor in klassieke lettere aan die Universiteit van Kaapstad en in 1932 hoogleraar aan die Universiteit van die Witwatersrand. Danksy sy lesings in Afrikaans word dit ‘n vak in die toelatingseksamen van Oxford. Hy het twee digbundels en vyf prosawerke die lig laat sien. Prof. Haarhoff het ook C.M. van den Heever se Somer (Harvest Home) vertaal, en enkele werke in Engels geskryf, onder meer Afrikaans, Its Origin and Development.

1925 – Dot Serfontein, skrywer en ma van die digter Antjie Krog († 4 November 2016)

Dot Serfontein was ’n skrywer van kortverhale en kontreiverhale. Sy was die moeder van die digter Antjie Krog. Sy het ook onder die skuilname SJ Nasau en Luca Fick geskryf.

1947 – Janita Claassen, sangeres († 24 Oktober 2005)

 

Sterftes

1913 – Daniël Jacobus Erasmus, voormalige waarnemende staatspresident van die ZAR (November 1871 tot Julie 1972) (* 5 April 1830)

Daniël Jacobus Erasmus is op 5 April 1830 in die distrik Bedford gebore. Nadat president MW Pretorius in 1871 bedank het, word Erasmus tot waarnemende Transvaalse Staatspresident verkies. As kommandant neem hy ook in 1883 aan die Mapog-oorlog deel. Hy is op Bethal oorlede.

1973 – Stephanus Petrus Erasmus (SPE) Boshoff, akademikus, taalkundige en skrywer (* 14 Julie 1891)

SPE Boshoff was ’n bekroonde akademikus, skrywer en taalpatriot. Hy het deur sy lang openbare loopbaan diep spore in die Afrikaanse volkslewe op kulturele, opvoedkundige en taalkundige gebied getrap.

1979 – AA Pienaar, skrywer wat onder die skuilnaam Sangiro gepubliseer het (* 23 Augustus 1894)

Andries Albertus Pienaar, wat op Broederstroom in die Pretoriase distrik gebore is, gebruik as skuilnaam sy naam onder die Bantoes, Sangiro, wat hasie beteken. In sy dertiende jaar vertrek die Pienaar gesin na Duits-Oos-Afrika, en tot 1913 help Sangiro met die boerdery op sy vader se plaas, Broedersrus, aan die voet van die Meruberg en besoek ‘n skooltjie op ‘n naburige plaas. In 1913 keer hy terug na Suid-Afrika vir vêrdere opleiding aan die Volkskool op Heidelberg (waar hy later ‘n onderwysbetrekking aanvaar) en die Universiteit van Stellenbosch. As student besoek hy so ouers na ses jaar, en die ondervindings wat hy op die besoek opdoen, vorm die materiaal vir: Uit oerwoud en vlakte (1921). Simba (1944) skryf hy na aanleiding van twee rolprent ekspedisies na Tanganjika vir die vervaardiging van twee films Kilimandjaro (1924) en Shaitani (1928). Hy was ook regisseur vir twee ander rolprente: Die Bou van ‘n Nasie en Die Lig van ‘n Eeu. Laasgenoemde is ‘n dokumentêre film oor die Hollandse Kerk in Suid-Afrika. Hy het H.A. Aschenborn se Die Adelaar e.a. Afrikaanse Verhale vertaal. Ander gepubliseerde werke van Sangiro is Op Safari (1925), Diamantkoors (1926), Trekvoëls (1939), en En die Oranje vloei verby (1951). Dit is dikwels teen Sangiro se bekendste werk Uit oerwoud en vlakte ingebring dat dit oorwegend ‘n vertaling uit die Duits van Afrikanische Tierwelt I, Novellen und Erzählungen van Von Schellendorf is. Prof. Dekker het volledig hierop ingegaan en in Afrikaanse Literatuurgeskiedenis tot die slotsom gekom dat Sangiro baie aan sy Duitse bron te danke het, maar nooit Uit oerwoud en vlakte kon laat verskyn het “sonder sy intieme kennis van die Oos-Afrikaanse dierelewe en natuur” nie. Dikwels gaan Sangiro sy eie koers ten goed: “Die sketse het artistiek suiwerder geword as die Duitse, deur die hegter samehang en deur sy gevoelige humor.” Sangiro is op 30 April 1979 op Bloemhof oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/