2 OKTOBER
October 2, 2015
4 OKTOBER
October 4, 2015

Gebeure

1685 – Die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie besluit om Franse Hugenote-vlugtelinge na die Kaap te stuur

1831 – Die “Driemanskap” telegrafeer hulle beswaar oor die vredesvoorwaardes na Engeland

1939 – Aanvang van die FAK se Eerste Ekonomiese Kongres

Een van die eerste en dringendste vraagstukke waarmee die FAK sedert sy stigting gekonfronteer is, was die betreurenswaardige ekonomiese toestand waarin die Afrikanervolk sedert die vroegste depressietyd verkeer het. Weer kan ons ’n regverdigbare vergelyking maak tussen ons huidige haglike ekonomiese situasie en 1939. Net soos nou was in daardie jare die ekonomiese opheffing van die Afrikaner nie slegs van wesenlike politieke belang nie, maar het ook direk met armblanke-vraagstukke verband gehou. In opdrag van die Nasionale Kultuurraad van die FAK tydens sy tweede vergadering in Julie 1938, het die FAK ’n Ekonomiese Volkskongres – later bekend as die Eerste Ekonomiese Volkskongres – van 3 tot 5 Oktober 1939 in Bloemfontein gereël. Daar is die grondplan van die Afrikaner se toekomstige ekonomiese bouwerk geteken. Dit is deur 757 afgevaardigdes uit alle dele van die land bygewoon. Dr. JD Kestell was die beskermheer van die kongres. In sy openingsboodskap het hy beklemtoon: Ons behoort aan mekaar – ons, die kleine Boerevolk hier in Suid-Afrika, en dit dryf ons uit om toe te snel tot hulp van ons broers en susters wat in nood is om hulle te help om hulleself te help. Ons doen dit in die vaste oortuiging dat ons as volk onsself moet red. In die daaropvolgende drie dae is altesaam negentien referate gelewer, elkeen gerig op die ekonomiese opheffing van die Afrikaner. Meer as vyftig rigtinggewende besluite is geneem, waaruit voortgespruit het daadwerklike stappe ter opheffing van die Afrikaner op ekonomiese gebied, byvoorbeeld die uitbou van die Reddingsdaadfonds, die mobilisasie van die kapitaal- en spaarkrag van die Afrikaner, die stigting van ’n Afrikaanse Handelsblad (Volkshandel) en ’n Afrikaner-finansieringsmaatskappy, Sentrale Volksbelegging Beperk (Federale Volksbeleggins). Besluit XII (1) van die kongres het die FAK opgedra om ’n Ekonomiese Instituut daar te stel om gevolg te gee aan sy besluit en om sodanige verdere stappe te doen as wat hy bevorderlik ag vir die ekonomiese opheffing van die Afrikaner. Een van die eerste en bekendste besluite van die Instituut was die stigting van die Reddingsdaadbond. Uit die Ekonomiese Instituut het ook die stigting van die Afrikaanse Handelsinstituut voortgespruit, wat saam met die Ekonomiese Instituut van die FAK ’n treffend-betekenisvolle aandeel in die opkoms van die Afrikaner in die ekonomie van Suid-Afrika gehad het, danksy die inisiatief en leiding wat uitgegaan het van die Eerste Ekonomiese Kongres in 1939.

1953 – Mnr. Ben Schoeman, die Minister van Vervoer, open die internasionale terminus van die Lughawe Jan Smuts, later die Johannesburg-lughawe en tans die OR Tambo Internasionale Lughawe

 

Geboortes

1882 – Jossie Ackermann, stigter van die Vroue-landbouvereniging van Kaapland († 18 Junie 1947)

Johanna Cathrina Ackermann is op die plaas Blaauwklip, naby Stellenbosch, gebore. Sy was ’n ywerige lid van die ACVV en Kindersorg, het aan jong meisies kuns- en huisvlytklasse gegee en was een van die stigterslede van die Franschhoekse Dramatiese Vereniging. Haar belangstelling in die geskiedenis het meegebring dat sy by verskeie geleenthede geskiedkundige optogte gereël en geesdriftig aan openbare feeste deelgeneem het, soos die indrukwekkende Hugenote-gedenkfees in 1938. Die groot prestasie waarvoor haar naam in die herinnering voortleef, is die stigting van die Vroue-landbouvereniging van Kaapland. Afgevaardigdes uit Paarl, Worcester, Britstown, George, Burgersdorp en ander Kaaplandse dorpe het met hierdie doel op 15 Oktober 1929 in die skoolgebou op Franschhoek bymekaar gekom. Die doel van die vereniging, waarvan mev. Ackermann die eerste voorsitster was, was om aan die volwasse vrou leiding te verskaf op die gebied van opvoeding, gesondheid, huisvlyt, kuns en ontspanning. Hoewel die begin klein was, het mev. Ackermann die hele Kaapland deurreis om takke te stig, elke jaar elke sirkel besoek en haar veeleisende korrespondensie self behartig. Sy was ’n talentvolle vrou, energiek en vol ondernemingsgees. Na haar dood op 18 Junie 1947 is dié treffende woorde op haar grafsteen aangebring: “Sy was oorvloedig in goeie werke.”

 

Sterftes

1991 – Jacques Loots, akteur (* 24 Oktober 1926)

Jacques Loots was ’n akteur. Hy was bekend vir sy TV-rolle as Genis in Koöperasiestories en die oupa in Orkney Snork Nie. Hy is ook ’n gepubliseerde digter. 

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/