2 MAART
November 1, 2016
4 MAART
November 1, 2016

Gebeure

1858 – Vierkleur in Potchefstroom gehys

Die Vierkleur vlag van die Zuid-Afrikaanche Republiek is die eerste keer op 6 Januarie 1857 te Potchefstroom gehys, en weer kort daarna in Pretoria op 23 Februarie 1857. Die Vierkleur (asook die ampswapen) is egter deur Stephanus Schoeman van die Soutpansberg verwerp. Op 13 Februarie 1858 het alle belanghebbende partye bymekaargekom en is alle geskille opgeklaar. Die Vierkleur is daarna op hierdie dag, 3 Maart 1858, amptelik te Potchefstroom gehys, en was erken as amptelike vlag van die Zuid-Afrikaanshe Republiek. Die ampswapen is ook op hierdie dag amptelik erken en aanvaar.

1860 – Bethlehem ontstaan

Om ’n presiese jaar en datum aan die dorp Betlehem te koppel, is moeilik. Wat wel feitlik is, is dat die eerste dorpserwe op hierdie dag, die 3de Maart 1860, gerealiseer het. Die dorp is aangelê op die plaas Pretoriuskloof. Betlehem is aangekoop van JC Pretorius deur FP Naude, JJ Malan en JC Muller vir ’n bedrag gelykstaande aan R1200.00. Aanvanklik het dit gedien as kerkdorp, maar dit het gou uitgebrei sodat dit naas Bloemfontein een van die mees vooruitstrewende dorpe van die tyd was. Direk na die Anglo-Boereoorlog is die Charlotte Theron-kinderhuis deur mev. Theron in die lewe geroep om na die oorlogsweeskinders aldaar om te sien. Destyds was die gebied ook gesien as die graanskuur van die Vrystaat. Die naam Betlehem beteken dan ook letterlik “broodhuis”, of “vrugbare aarde”.

1888 – Amersfoort ontstaan

Met Amersfoort is dit soos met Bethlehem. Om ’n presiese datum te bepaal, is moeilik, maar wat wel feitlik is, is dat die besluit om die dorp te proklameer op hierdie dag geneem is. Amersfoort was ook eers ’n kerkplaas gewees. Dit is hier waar ds. Frans Lion Cachet in die 1860-70tigs kerkdienste gehou het. Twee gemeentelede, N Grobbelaar en K Oosthuyzen het gesamentlik 430 hektaar van hul plase “afgesny” vir die dorp se ontstaan. Later is nog 858 hektaar grond van N Grobbelaar aangekoop. Grobbelaar se plaas se naam was Vlakplaas. Dominee Cachet het die dorp gestig en dit vernoem na ’n stad in Holland met dieselfde naam.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Norvalspont-brug vernietig

Die brug by Norvalspont word deur die Republikeinse magte met dinamiet beskadig.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Die Slag van Lichtenburg

Lichtenburg is verdedig deur lt.kol. CGC Money. Money het homself goed ingegrawe, en het 620 man en 2 kanonne tot sy beskikking gehad. Teenoor hom het genl. De la Rey gestaan.De la Rey het in oorleg met genls. Smuts, Liebenberg en Celliers ’n aanvalsplan uitgewerk. Genl. Liebenberg verongeluk die plan deur op eie houtjie ’n berede stormloop uit te voer. Daardeur word die  Britse magte gewek en Liebenberg se aanval afgeslaan. Laasgenoemde het boonop in ’n tipe moerasagtige gebied vasgeval en het dit daar taamlik hotagter gekry. Genl. Smuts val uit die ooste aan en kom basies dieselfde as Liebenberg oor. Genl. Celliers kom vanuit die weste. Sy aanval is meer geslaagd en hy vorder tot binne die dorp. In die dorp val die Burgers vas deurdat beide genl. Celliers en kmdt. Lemmer gewond word. Kommandant Vermaas breek weg met 34 man en dring deur tot byna teen die Britse bevelspos. Lt.kol. Money trek sy troefkaart en begin skiet op die Burgers met sy masjiengeweer. Laasgenoemde laat val Vermaas vas. Genl. De la Rey stuur van sy beste manne in, maar dit help nie. Teen 17:30 vra De la Rey ’n 2 uur skietstilstand om die  dooies en gewondes af te voer en te help. Daarna begin die geveg weer, maar genl. De la Rey besef die geveg is verlore en verby. Toe die son sak, onttrek hy van die slagveld. Hy het 14 man verloor, en het 38 gewondes. Aan Britse kant het 18 man geval en is 24 gewond.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Kitchener en Milner ontmoet

Lord Kitchener en Milner ontmoet in Bloemfontein om die uitslag van die Middelburg-konferensie te bespreek. Milner dring daarop aan dat die rebelle amnestie moet kry, maar Kitchener skop vas en weier. Volgens hom is hul verraaiers en rebelle.

1902 – Fawcett-komitee se verslag bekendgemaak

Die Fawcett-dameskomitee se verslag met betrekking tot die hoë sterftesyfer in die konsentrasiekampe word bekend gemaak. In kort is die verslag op drie punte gebaseer.

1) Die land verkeer in ’n uiters onhigiëniese toestand omrede die oorlog.

2) Etlike van die oorsake met betrekking tot die hoë sterftesyfer in die kampe is toe te skryf aan die inwoners self.

3) Administrasie van die konsentrasiekampe, asook soms die personeel, laat veel te wense oor.

1943 – Saambou (Permanente) Bouvereniging gestig

Die Tweede Wêreldoorlog was in volle gang toe in 1942 die eerste eie Afrikaanse bouvereniging, die Unie-Bouvereniging, gestig is om in die geweldige woningnood wat in die oorlogsjare ontstaan het, te voorsien. Die naam van hierdie bouvereniging is agt maande later op 3 Maart 1943 verander in Saambou (Permanente) Bouvereniging. As rede vir die naamsverandering is aangevoer die moontlike verwarring wat kon ontstaan tussen die nuwe Afrikaanse bouvereniging en dié van ’n ander bouvereniging wat toe reeds etlike jare bestaan het. Met die stigting van Saambou (Permanente) Bouvereniging het die Afrikaner se strewe na ekonomiese selfstandigheid en onafhanklikheid, ook op finansiële gebied, positiewe gestalte begin aanneem en is sodoende nog ’n belangrike mylpaal in die ekonomiese geskiedenis van die Afrikaner bereik. Insgelyks kan daar gesê word dat Saambou (Permanente) Bouvereniging uit die volk gebore is om die volk te dien. Hoewel die nuwe jong bouvereniging in die ongunstige ekonomiese toestand wat in die oorlogsjare in die land geheers het, dit moeilik gevind het om met reeds gevestigde bouverenigings mee te ding, is die vertroue van die publiek geleidelik gewen en het die Vereniging van krag tot krag gegroei in die naoorlogsjare. Onder die bekwame en geïnspireerde leiding van dr. MS Louw, sy voorsitter, het die Vereniging spoedig gegroei tot een van die ses grootste bouverenigings in Suid-Afrika met totale bates van meer as R100 miljoen. In April 1970 het Saambou (Permanente) Bouvereniging geamalgameer met Nasionale Bouvereniging om die nuwe Afrikaanse bouverenigingsreus Saambou-Nasionaal te vorm.

 

Geboortes

1823 – Dirkie Uys, seun van die Voortrekkerleier Piet Uys († 11 April 1838)

Dirk Cornelis Uys, wat op 3 Maart 1823 op Pollenberg gebore is, was die tweede oudste seun van die Voortrekkerleier Piet Uys. Toe hy oorlede is, was hy 15 jaar oud. Na die moord op Retief en sy mense en die Zoeloe-aanval op die Voortrekkers tien, elf dae later, het die Voortrekkers besluit om Dingaan te gaan straf en hulle beeste terug te vat. Op 7 April 1838 het ’n perdekommando onder twee kommandante, Piet Uys en Hendrik Potgieter, uitgetrek. Dirkie het saamgegaan. Die elfde het hulle in die omgewing van die Italaberg by Italeni met die Zoeloe-impi slaags geraak. Uys se afdeling het die Zoeloes wat teen die hange van die berg was, aangeval. Hulle het spoedig die Zoeloes uitmekaar gedryf en hulle toe in groepies agtervolg. In die proses is sommige van Uys se mense afgesny en deur Zoeloes omsingel. Piet en Dirkie het juis sulke mense gaan help toe ’n assegaai Piet getref en hom swaar gewond het. Die wond het baie gebloei, maar hy het darem op sy perd aangesukkel. Hy het ’n paar keer flou geword. Toe hy nie verder kon nie, het hy die mense wat by hom was, aangeraai om vir hulle veiligheid te vlug. Almal het weggejaag, behalwe die jongeling Dirkie Uys wat omgedraai het aangesien hy nie kon toesien dat sy vader met assegaaie deurboor word nie. Dirkie het by sy vader gebly en hom verdedig. Nadat Dirkie drie krygers doodgeskiet het, is hy by sy vader se lyk oorval en deur ’n assegaai getref.

1875 – Ds. Evert Jean Jacques van der Horst, leraar († 1958)

Evert Jean Jacques van der Horst begin in 1903 sy bediening as leraar van die NG gemeente Wolmaransstad. Hy was ’n sterk en oortuigde volksman en het hom in 1915 verkiesbaar gestel as Volksraadslid van die Wolmaransstad-setel. Dit is dus ’n unieke geval van iemand wat daardie twee posisies gelyktydig beklee het. Na ’n toetssaak in die Hooggeregshof het hy in 1920 as Volksraadslid bedank en na die heeltydse bediening in sy gemeente teruggekeer. Steeds sou sy belangstelling in die volksake bly en so beywer hy hom vir skoolbelange. In 1925 is hy benoem as Welsynsuperintendent in die Departement van Arbeid. Sy liefde en groot belangstelling in die posisie van die minderbevoorregtes het hom nou in staat gestel om by verskeie besproeiingskemas, soos Kakamas, Warrenton, Vaalharts en Hartbeespoort waardevolle diens te lewer. Hy is in 1958 oorlede.

1921 − Jurie Ferreira, sanger († 24 Junie 2002)

Jurie Ferreira was ’n sanger. Van sy bekendste treffers is: “Die swaeltjie”, “Die blonde matroos”, “Tahiti”, “Boereseun” en “Erika”. Hy het ook sy verskyning in rolprente soos Kom saam, vanaandHier’s ons weerAlles sal regkom en Altyd in my drome gemaak. Ferreira is 1921 in Ventersdorp in die Noordwes gebore. In 1936 bring sy pa hom as 15-jarige na Johannesburg vir ’n sangopname. Sy eerste kommersiële plaat, Tier, word 1939 opgeneem. In 1941 sluit hy by die orkes van Arnout Malherbe aan. Hendrik Susan bied hom in 1945 ’n kontrak aan en hulle toer vir sewe jaar saam deur die land. In 1954 begin hy sy eie orkes en in 1965 sluit hy by die leër aan. Hy is op die ouderdom van 82 in 1 Militêre Hospitaal in Thaba Tshwane na ’n lang siekbed oorlede.

Sterftes

Geen

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/