2 JANUARIE
January 2, 2016
4 JANUARIE
January 4, 2016

Gebeure

1856 – Het Volksblad in Kaapstad opgerig

Die koerant Het Volksblad is aanvanklik in 1849 in Kaapstad deur BJ van de Sandt de Villiers (1826 tot 1878) opgerig. Dit het net een jaar bestaan maar in 1856 laat Van de Sandt de Villiers dit herleef. In die stryd tussen die Liberale en Ortodokste Party het die koerant die Liberalisme ondersteun en so vinnig vooruitgang gemaak dat dit spoedig drie keer in plaas van een maal per week kon verskyn. Die koerant het gestrewe na “samewerking der beide kolonistenrassen ten behoeve van hul Zuid-Afrikaansch vaderland, en van zichzelve als heerschend volk”, soos dit deur Ons Tydschrift bewoord is. Hoofartikels is ook deur prof. John Noble en adv. FS Watermeyer geskryf. Van 1863 tot 1872 het Jan Celliers die blad geredigeer; hy is opgevolg deur dr. JWG van Oordt. Baie van die oudste Afrikaanse stukke het in Het Volksblad verskyn, soos Boerenbrieven uit Fraserburg , deur Samuel Zwaartman, en ook FW Reitz se verwerking van gedigte van Burns. Die koerant het voortbestaan tot 1886.

1857 – The Cape Argus

Die koerant The Cape Argus verskyn die eerste keer in Kaapstad, en is deur BH Darnell en RW Murray gestig.

1893 – Die eerste georganiseerde Afrikanertrek kom in Gasaland, Masjonaland aan (Rhodesië/Zimbabwe)

Die vestiging van Afrikaners in Masjonaland was die gevolg van Cecil John Rhodes se plan om ’n digte wit bevolking in dié gebied te vestig om sodoende die Portugese besetting daarvan te voorkom. George Benjamin Dunbar Moodie het die eerste trek na Gasaland georganiseer. In 1891 het hy dr. LS Jameson na Gasaland vergesel om te onderhandel vir ’n konsessie van die opperhoof vir die British South African Company. Moodie was só beïndruk deur die landbou-potensiaal van die gebied dat hy Rhodes se steun vir die stigting van ’n wit nedersetting verkry het.

Dunbar Moodie is daarna na Bethlehem, in die Vrystaat, waar hy die steun van sy oom, Thomas Moodie, vir dié plan verkry het. Die twee Moodies het lede vir die verhuising gewerf, en met 37 mans, 31 vrouens, hulle kinders en sewentien waens, Bethlehem op 5 Mei 1892, onder leiding van Thomas Moore, verlaat. Dunbar Moodie het weer by Fort Victoria by hulle aangesluit.

Aangesien sommige van die geselskap hulle elders in Rhodesië gaan vestig het, het die oorblywendes met sewe waens voorgetrek na Gasaland. Hulle het baie probleme ondervind onderweg daarheen, soos bv. die oorsteek van die twee kilometer breë Sabierivier en die Driespanberg, waarvoor drie spanne osse vir elke wa nodig was. Een van die deelnemers van die trek skryf: “Ons het die Sabie die 13de Desember verlaat en 22 dae getrek oor die 33 myl, sodat ons op die 3de Januarie ons bestemming bereik het.” Ander skrywers gee die datum as 4 Januarie aan. Hiermee is die nedersettings in die Melsetter- en Chipinga-distrikte begin.

Ná hierdie eerste trek het ander gevolg, soos dié van MJ Martin, JGF Steyn en J Henry wat in Desember 1895 in Rhodesië aangekom het.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Slag by Syfergat (Stormberg/Molteno)

Een van die kleiner skermutselinge by die Kaaplandse noordgrens ná Stormberg op 10 Desember 1899, het by Syfergat plaasgevind toe ’n Boeremag van duisend man deur hoofkmdt. JH Olivier gestuur is om Britse stellings by Boesmanshoek te verken. Die Boere het die polisiekamp by Syfergat aangeval en Loperberg beset, maar Britse versterking uit Sterkstroom het betyds opgedaag en die Boere verdryf.

 

Geboortes

1892 – JRR Tolkien, skrywer, digter en filoloog († 2 September 1973)

JRR Tolkien is in Bloemfontein, Oranje-Vrystaat, gebore. Sy ouers, Mabel en Arthur Tolkien, was Brits, maar het in ’n bank in Suid-Afrika gewerk. Hy was ’n sieklike kind, en hy en sy ma en broer (Hilary, gebore 1894) het in 1895 na Engeland teruggekeer vir ’n klimaatsverandering. Sy pa het agtergebly, maar is in Februarie 1896 skielik oorlede.

1953 – Cora Marie, country-sangeres († 8 Julie 1994)

Daar was tot dusver min Afrikaanse kunstenaars wat country in Afrikaans kon sing. Cora-Marie, wat op hierdie dag as Cora Nell gebore is, was een van hulle. Sy het twee treffers op Springbok Radio se Top 20 gehad, naamlik “Gee haar ’n roos” en “Gee vir my ’n bietjie country”, wat onderskeidelik die sestiende en die twaalfde plek gehaal het. Sy het ook ’n aantal duetalbums saam met Kupido opgeneem, asook die Kersalbums, Die klokkespel, saam met Kupido, Johan Stemmet en Laurika Rauch, en Die klokkespel (Vrede) saam met Kupido, Sonja Herholdt en Eugene Havenga. In 1986 het sy met ’n aantal legendes soos Jurie Ferreira, Virginia Lee, Min Shaw en Al Debbo saamgespan en die album Goue treffers herleef, waarop sy hul grootste treffers saam met haar gesing het, vrygestel. Nadat sy in 1991 ’n nuwe platekontrak gekry het, het haar gesondheid begin agteruitgaan toe kanker by haar gediagnoseer is. Pleks daarvan om uit te tree, het sy tot die einde aangehou om albums op te neem en konserte te hou. Haar laaste album, U wil sal geskied, is onder moeilike omstandighede vanuit haar hospitaalbed opgeneem. Cora-Marie is op 8 Julie 1994 oorlede.

 

Sterftes

1746 – Helena Willemina (Wilhelmina) ten Damme, vrou van onderkoopman Hendrik Swellengrebel (* 1706)

Helena Willemina (Wilhelmina) ten Damme is in 1706 aan die Kaap gebore. Op 15 Julie is sy met onderkoopman Hendrik Swellengrebel getroud – ’n Kaapse goewerneur van 1739 tot 1751. Uit  die huwelik is vier seuns en vier dogters gebore. Sy is in 1746 oorlede. Swellendam is in 1747 na hulle twee genoem.  Haar skoonsusters, Elizabeth en Johanna, was met goewerneur Ryk Tulbagh en ds. Franiscus le Sueur onderskeidelik getroud. Haar wewenaar-skoonvader, Johannes Swellengrebel, is in 1628 met haar suster Engela ten Damme getroud en hy het gevolglik sy skoondogter en sy eie seun se swaer geword.

1955 – Rachel Isabella (Tibbie) Steyn, vrou van pres. MT Steyn (* 5 Maart 1865)

As pastorie-dogter van Philippolis uit Skotse ouers (ds. en mev. Colin Fraser) sou Rachel Isabella as opgeleide onderwyseres ’n besondere rol in die geskiedenis van die Afrikaner speel. Sy tree in 1887 in die huwelik met advokaat MT Steyn en word daarna eers regters- en uiteindelik in 1896 Staatspresidentsvrou. Hierdie hoedanigheid beklee sy met waardigheid in die Presidensie sowel as op hul plaas, Onze Rust. Gedurende die Anglo-Boereoorlog wyk sy aanvanklik saam met die regering uit, maar sedert die helfte van 1900 is sy as gevangene in huisarres in Bloemfontein aangehou, waar dikwels onbehoorlike druk op haar uitgeoefen word om die bittereinder pres. Steyn te oorreed om oor te gee. Met Steyn se ernstige siekte by die vredesonderhandelinge is sy die een wat intree en teen alle advies reël dat hy vir mediese behandeling na Europa geneem word. Deur haar troue sorg keer die Steyn-gesin in 1905 na Suid-Afrika terug. Steeds bly sy die sjarmante en innemende gasvrou op Onze Rust. Saam met Steyn wy sy haar aan volksopbou: sy word tot eerste voorsitster van die Oranje-Vrouevereniging verkies; vervul ’n belangrike skakel deurlopend met haar vriendin Emily Hobhouse, en as laaste skakel met die presidentsamp van die eertydse Republieke, tree sy by talle volksfeeste op. In 1948 is sy per vliegtuig as buitengewone gesant na Nederland om Suid-Afrika by Juliana se troonopvolging te verteenwoordig. Op 8 Oktober 1948 huldig die FAK haar as een van Suid-Afrika se uitnemendste volksheldinne by ’n geleentheid wat saamgeval het met ’n landwye huldiging van volksheldinne op Krugerdag van daardie jaar. Sy sterf op 3 Januarie 1955, byna negentig jaar oud, en word in dieselfde graf as pres. Steyn by die Vrouemonument ter ruste gelê.

1971 – Anton Ackerman, leier en regisseur van ’n reisende Suid-Afrikaanse toneelgeselskap (* 19 November 1911)

Anton Ackermann, gebore op 19 November 1911, sluit hom in die vroeë dertigerjare by die toneelgeselskap van Wena Naudé en Willem van Zyl aan. Later saam met Pikkie Uys het hulle hulle eie geselskap gestig en as gewilde toneelegpaar in die laat dertiger- en vroeë veertigerjare bekend geraak met stukke soos Wittebroodsdae, Die hand van die gereg en Koop my blomme (’n verwerking van Pygmalion deur George Bernard Shaw), wat hulle op die planke gebring het. 

2013 – Hendrik Vermooten, argitek wat veral verantwoordelik was vir die ontwerp van 144 Afrikaanse kerkgeboue (* 20 Mei 1921)

Hendrik Vermooten was seker een van Suid-Afrika se bekendste en mees produktiewe argitekte. Benewens 144 kerkgeboue was hy ook verantwoordelik vir die ontwerp van die Saambou Nasionale Bank- en katoorgebou op Kerkplein in Pretoria, die Dirk van der Hoff-gebou, wat die hoofkantoor en die konserwatorium van die Nederduitsch Hervormde Kerk huisves, asook verskeie skole, hospitale, skoolsale en ontspanningsoorde vir die Transvaalse Provinsiale Administrasie. Hy is op 3 Januarie 2013 in die ouderdom van 91 jaar oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za