2 FEBRUARIE
October 31, 2016
4 FEBRUARIE
October 31, 2016

Gebeure 

1488 – Bartolomeus Dias land in Mosselbaai 

Dias se karvele kon nie deur die sterk suidoostewind vaar nie, en met ’n roete-aanpassing het hulle om Kaappunt gevaar. Dias se geselskap het óf by Visbaai óf Mosselbaai hul eerste tree op die suidkus van Afrika gegee. Hier het die eerste skermutseling tussen Westerling en die Hottentotte plaasgevind. Daarna het die twee skepe verder in ’n oostelike rigting gevaar tot by die Bahia da Lagoa (lagune), die baai wat nou Algoabaai heet. Hier wou Dias se matrose omdraai, maar Dias het hulle oortuig om nog verder te vaar. By die Infanterivier – Groot Visrivier, of Kowie- of Keiskammarivier, het hierdie ekspedisie omgedraai met die wete dat hulle die vernaamste versperring op die seeweg na die ryk Ooste baasgeraak het. Op hulle terugreis het hulle op verskillende plekke ’n padrao of klipkruis opgerig. Die oudste teken van die Europese aanraking met Suid-Afrika is by Kwaaihoek, wes van die Boesmansriviermond, in 1938 ontdek. 

1552 – Donna Leonor

Die skip (galjoen) Sao Joao vertrek op hierdie dag die vanuit Indië na Portugal. Aan boord was onder andere

Manuel de Sousa Sepulveda, en sy vrou Donna Leonor. Op 8 Junie 1552 strand die “skip” digby wat vandag bekend staan as Port St. Johns. Oorlewendes het begin stap na Delagoabaai. Met proviand wat boomskraap was, asook siektes ens. het dissipline gou verval. Dit is in hierdie tyd dat Donna Leonor as leier na vore getree het. Later het die kaptein, De Sousa sy verstand verloor en het Donna Leonor “oorgevat” as leier. Getalle het op daardie stadium van by die 500 mense gedaal na ’n skrale 120 oorlewendes. Kort daarna is hulle deur ’n inheemse stam oorval en letterlik en figuurlik van alles gestroop. Op 25 Mei kom slegs 8 Portugese en 17 slawe lewend in Mosambiek aan.

1653 – Sout “ontdek” en geskraap

’n Lieflike sonskyndag met ligte westelike winde wat van tyd tot tyd gewaai het. Jan van Riebeeck het vroeg die oggend 26 man met vier gewapende wagte uitgestuur om na die soutpan, wat die vorige dag “ontdek” is, te gaan en sout te skraap. Die groep het eers teen skemeraand teruggekeer met ’n goeie vrag spierwit skoon sout. Gedurende die nag het die suidooster weer met hernude krag begin waai.

1657 – Hout word gelewer vir ’n fort 

Jan van Riebeeck lewer hout in Rondebosch in die Kaap vir die konstruksie van n fort om die koringvelde van die Vryburgers te verdedig. 

1797 – Lady Anne Barnard vertrek na die Kaap

Lady Anne, soos sy alombekend was aan die Kaap, het ’n interessante lewe gehad in Londen voordat sy op 3 Februarie 1797 aan boord die Sir Edward Hughes uit Portsmouth na Kaapstad vertrek het. Haar man, Andrew, is aangestel as sekretaris van Lord MaCartney, die Kaapse goewerneur.

1838 – Retief kom by Dingaan aan 

Die sendeling Owen skryf in sy dagboek dat die gesin besig was met oggendgodsdiens toe enkele voorlaaierskote vanuit die weste aangehoor is. Hierdie voorlaaierskote het die koms van Piet Retief en sy geselskap by Umgundgundlovu aangekondig. Die Retief-geselskap het ook die beeste wat Sikonyella van Dingaan gesteel het, by hulle gehad. Skynaanvalle te perd is as vertoning aan die koning, Dingaan, gebied. Dingaan het op sy beurt weer van sy regimente laat dans. Die wedersydse vertonings was teen 12 uur die middag iets van die verlede gewees, en Owen het by die geselskap besoek afgelê.

1848 – Transgariep tot Britse gebied verklaar 

In die begin van die 19de eeu was die streek tussen die Oranje- en Vaalrivier, Transgariep, met uitsondering van klein klompies Boesmanjagters, vir die allergrootste gedeelte onbewoon. Geleidelik het stamme soos die Korannas in die weste, die Griekwas in die suidweste en die Bantoe in die ooste die gebied binnegedring, terwyl die Barolong en ander kleiner stamme hul in die middel gevestig het. Sendelinge het hulle onder hierdie inboorlinge begin vestig en aansprake op grondgebiede gesteun wat nooit op enige tydstip bewoon is nie. Sedert die begin van die twintigerjare het Kaapse veeboere, vanweë droogtes en sprinkane, seisoenmigrasies na die onbewoonde suidelike dele van Transgariep onderneem, maar vanweë veeverliese met die heen-en-weer-trekkery oor die Grootrivier, het hulle hul teen die dertigerjare permanent in die gebied gevestig – en om praktiese redes hul steeds as troue Britse onderdane beskou. Hoewel die uiteindelike einddoel van die Groot Trek Natal en Transvaal was, het heelwat Trekkers hul sedert 1836 in die omgewing van Winburg gevestig terwyl ’n klompie Natalse Trekkers onder kmdt. JG Mocke en JL de Kock sou terugkeer en hul aan die Modder- en Vetrivier as vurige republikeine vestig. Natalia verenig, maar ná die anneksasie van Natal wou hulle die hele gebied vanaf die Grootrvier met dié van Potchefstroom verenig. Die leier van die lojale veeboere, MA Oberholster, wat met die Griekwa-kaptein, Adam Kok, in 1840 ’n ooreenkoms aangegaan het om op ’n deel van sy gebied te woon, is egter deur die republikeine gerepudieer. Regter Menzies probeer die geskil oplos deur die hele gebied in 1842 tot aan die 25e breedtegraad vir Brittanje te annekseer. Die Britse owerheid wou nie sy gesag uitbrei nie en die stap is afgekeur. Om direkte betrokkenheid te voorkom, sluit goew. Napier eensydige verdrae met Adam Kok en Mosjesj, wat enige Blanke aanspraak op Transgariep ontken. Toe Kok sy gesag wou laat geld, lei dit tot moeilikhede met die Blankes en uiteindelik ’n gewapende botsing met die Britse troepe by Swartkoppies in 1845. Goew. Mailand wou hierna die Griekwa-grond in vervreembare en onvervreembare streke verdeel en ’n Britse resident, maj. HD Warden, in die gebied aanstel om die vrede te bewaar. Die republikeine noord van die Vetrivier het sy gesag by Bloemfontein uitgedaag, en toe hy nie in staat was om die botsende belange en aansprake van die Griekwas, Bantoe en Blankes te versoen nie, het goew. sir Harry Smith op 3 Februarie 1848 die hele Transgariep tot Britse gebied verklaar. 

1960 – “Winde van Verandering”-toespraak 

Mnr. Harold Macmillan, die Eerste Minister van Brittanje, lewer sy “Winde van Verandering”-toespraak voor albei huise van die Suid-Afrikaanse Parlement. 

1968 – RAU se eerste studente 

Die eerste 741 studente aan die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) skryf hulle in. Lesings begin op 13 Februarie in n tydelike sentrum in Braamfontein. 

 

Geboortes 

1835 – Jan Hendrik Hofmeyr, teoloog en predikant († 25 Augustus 1908) 

1868 – Johannes Stephanus Marais (Jan) Rabie, baanbreker vir Afrikaans in Natal († 31 Desember 1939) 

Johannes Stephanus Marais Rabie is op die plaas Groenkloof, distrik Fauresmith, gebore. Hy studeer op Stellenbosch, Cambridge en Bonn en het as joernalis en later redakteur van De Natalse Afrikaner belangrike baanbrekerswerk vir Afrikaans in Natal gedoen, deurdat hy vroeg reeds die waarde van Afrikaans bo Nederlands ingesien en hom beywer het om Afrikaans as joernalistieke taal te vestig. Hy is op 31 Desember 1939 in Bloemfontein oorlede. 

1905 – Herman Charles Bosman, skrywer en joernalis († 14 Oktober 1951) 

Herman Charles Bosman word allerweë as Suid-Afrika se voorste kortverhaalskrywer beskou. Hy is in 1926 ter dood veroordeel toe hy sy stiefbroer doodgeskiet het, maar sy vonnis is verander en sy tydperk in die gevangenis het die grondslag van sy semi-outobiografiese werk Cold Stone Jug gevorm. Hy was veral bekend vir sy voorkamerstories, met oom Schalk Lourens as hoofkarakter, wat later jare deur Patrick Mynhardt op die verhoog herleef het. Hy is op 14 Oktober 1951 oorlede.

1926  Ina Rousseau, digter en skrywer († 13 Augustus 2005) 

 

Sterftes 

1687 – Cornelis van Quaelbergen, derde kommandeur van die Kaap die Goeie Hoop (* 1623) 

1922 – Christiaan Rudolf (CR) de Wet, Boeregeneraal tydens die Anglo-Boereoorlog en rebellieleier (* 7 Oktober 1854) 

CR de Wet was ’n Boeresoldaat en staatsman wat deur Afrikanernasionaliste as een van hul grootste helde beskou word. Hy het bekendheid verwerf as opperbevelhebber van die Oranje-Vrystaatse magte in die Anglo-Boereoorlog en was ’n leier in die Afrikanerrebellie van 1914.

1982 – Dr. Anton Carlisle Hartman, musikus en dirigent (* 26 Oktober 1918) 

Prof. Anton Hartman was ’n dirigent, uitsaaipersoonlikheid, musiekadministrateur en die laaste nagenoeg vier jaar van sy lewe hoogleraar in musiek aan die Universiteit van die Witwatersrand.

 

Bronne: 

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK. 

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel. 

https://www.sahistory.org.za 

https://af.wikipedia.org/wiki/